September 2016
Dit is lekker om julle mee te deel dat die leersentrum baie goed aangaan. Dit was aanvanklik 'n rowwe begin maar die ergste is nou verby. Die kinders wat hier leer vorder so goed. Al die groter kinders kan nou Thai lees en skryf en vaar baie goed in wiskunde ook. Daar is min dinge so lekker as om te sien hoe die kinders die werk begin verstaan en daarmee hardloop. Die Moken taalprojek gaan ook baie goed aan. Ek het twee vroutjies wat tydens die klas kom insit en dan help hulle die kinders vertaal. Ons het al vier Bybel stories vertaal en die kinders gebruik die stories om te leer Moken lees. Ek geniet die vertaalwerk baie en wens net ek kon meer tyd daaraan spandeer.
Ing Fiona Leang
Dan moet die kinders ook hand bysit en vaardigheid leer deur die grootmense te help wanneer hulle terug kom en die nette is vol krappe en vis. Ons het al 'n slag ook dan en daar 'n vis of twee oopgesny sodat die kinders kan sien wat alles binne in 'n vis is. Dan was hier ook 'n vrywilliger van die eiland wat die Moken kom leer armbande en halssnoere vleg en knoop. Dit word dan aan die toeriste verkoop. Ons toekoms planne sluit in hoenders en visse grootmaak, motorfiets meganieka, kokosneut bome plant en kook lesse. Dit sal egter gebeur soos die tyd dit toelaat en ons die nodige hulpbronne daarvoor kry.
Tussen dit alles deur het die surfing gogga ons behoorlik gebyt! Gelukkig kom ek ook nou goed reg. Die kinders is baie vinniger tuis op daai borde en soos visse in (en op) die see! Ons is 'n groot groep wat saam gaan surf want ek het nou al van die grootmense ook aangesteek en dit is so lekker om hulle te leer. Ons gaan nou amper elke tweede dag golwe soek. Dit is baie goeie oefening en daar is 'n groot kompetisie tussen surf en sokker. Die kinders doen egter nog baie goed met die sokker ook. Die kinders is uitgenooi vir 'n surf kompetisie die 8st Oktober. Man dit is lekker om so op die golwe te rits.
Baie liefde en vrede vir julle,, Philip
อำนาจ
April/Mei 2016
Februarie 2016
9B en die twee grotes vir onder 13A. Daai drie kleintjie het
ons aan die lag gehad. Kyk, hulle skop daai bal met al hul mag dan
rol dit net so twee tree voorentoe. Dan skop hulle die bal heel mis
en val met 'n slag op die grond in 'n beseering in. Die trane het
geloop soos ons gelag het en die span aangemoedig het. Die groter
seuns het baie mooi gespeel. Hulle span het op die einde 4de
geëindig. Hulle kon maklik beter gedoen het maar tydens die laaste
wedstryd met afskop, skop die ander span 'n maklike doel want sien
ons doelwagter het 'n skielike nood gehad... ag ek het hom so jammer
gekry. Maar wat, ek is so trots op die kinders wat dit so aangenaam
gemaak het.
Een van die redes waarom ek ook in Suid-Afrika kom kuier het
was oor die skool hier. Ag geruime tyd het dinge net meer en
meer begin verkeerd loop vir die Moken kinders. Ons het alweer 'n
nuwe hoof en al die goeie ou onnies is vervang met nuwes. Elkekeer
praat, verduidelik en help ek maar hulle wil nie hoor nie. Die
ooreenkoms was nog altyd dat die skool die Moken leer lees en skryf
en wiskunde doen. Sedert hulle TV onderrig ingestel het, kry hulle
dit nie meer reg nie met die gevolg die Moken faal en raak al hoe
meer agter. 'n Lelike ding wat posgevat het is dat die onnies nou die
Moken slegpraat en die ander kinders beinvloed om nie met die Moken
te speel nie, dit terwyl die onderwysers die kinders regtig sleg
afkraak. Ek is naderhand uit die skool uit want ek kon dit nie meer
verdra nie. Dit was nie lank nie of dit skinder op die eiland oor hoe
sleg ek is. Ek steur my nie daaraan nie maar dis die Moken kinders
wat ek jammer kry. Hoe meer die onnies die kinders verkeerdelik druk,
hoe meer tree hulle soos gypsies op en hoe slegter reageer die
onnies. Al slaan, vloek, beskree hulle die kinders, stilstuipe en 'n
swak selfbeeld is al wat oor is. Die uiteindelike gevolg is dat die
kinders begin wegloop en nie meer wil skoolgaan nie. Dit is met
hierdie vraagstuk dat ek kom perspektief soek het in SA en Vader
dank, hulp gekry het. Vir ons is tuis-onderrig 'n opsie siende dat ek
alreeds die kinders leer lees en skryf, of dit by die skool is of met
huiswerk by die huis. Aanvanklik was die skool positief maar toe skop
hulle sterk daarteen. Ook dit is in Pappa se hand en sal ons alles in
ons vermoë doen om so na aan Sy hart te bly as moontlik. Ons kom tot
die besef dat baie Moken na hulle skoolonderrig terug sal gaan na hul
bote toe en hul kulturele manier van lewe. Dalk is daar 'n beter
manier hoe ons hulle kan voorberei vir dit wat so na aan hulle harte
lê.
Ek groet julle vanuit 'n sopnat Thailand. Dit gaan baie goed
hier maar ek kan amper nie glo dat dit alweer so lank is sedert my
vorige brief nie. Die grootste rede is die vestiging van die
leersentrum; dankie vir wonderlik hulp van Ing ons
kok, Ieang ons Thai juffrou en Fiona ons Engelse
juffrou; lewensvaardighede; visa gemors; dan het ons
vergadering met die regering gehad; ons het 'n nuwe eiland
hoof; en surfing.
Kyk ons is nou behoorlik in die reën seisoen hier in
Thailand. Dit reën nou behoorlik katte en honde en brakke en skape
en bokke en beeste hier! Daar is n paar dae wat ons meer as 100mm
gekry het en vandag is weer een van daai dae. Mens kan amper nie dink
dit was so droog hier gewees nie. Daar was amper nie meer drink water
oor voor dit begin reën het. Ek dink die reën doen tog iets aan ons
Suid-Afrikaners se harte wat die droogte ken – my hart trek 'n punt
vir almal wat wag vir hemelse reën. Maar sjoe dit is lekker as alles
so welig groei en sommer hande uitruk van lewenslus!
Dit is lekker om julle mee te deel dat die leersentrum baie goed aangaan. Dit was aanvanklik 'n rowwe begin maar die ergste is nou verby. Die kinders wat hier leer vorder so goed. Al die groter kinders kan nou Thai lees en skryf en vaar baie goed in wiskunde ook. Daar is min dinge so lekker as om te sien hoe die kinders die werk begin verstaan en daarmee hardloop. Die Moken taalprojek gaan ook baie goed aan. Ek het twee vroutjies wat tydens die klas kom insit en dan help hulle die kinders vertaal. Ons het al vier Bybel stories vertaal en die kinders gebruik die stories om te leer Moken lees. Ek geniet die vertaalwerk baie en wens net ek kon meer tyd daaraan spandeer.
Ing Fiona Leang
Ons het wonderlike hulp by die skool in die persone van Ing,
Ieang, en Fiona. Ing is Saman se vrou, met
wie ek ook 'n baie goeie verhouding het. Sy is ons kok en sy kook die
lekkerste kos vir ons! Dit maak my hande los om meer tyd saam met die
kinders en die sentrum te spandeer. Ieang is ons Thai juffrou
wat ons so mooi help. Sjoe dit maak 'n groot verskil om nog iemand te
hê wat hier help - ek weet nie hoe ons ooit sonder haar reggekom het
nie. Sy is verantwoordelik vir die kleiner kindertjies en hulle is
mal oor haar. Sy het nou waarlik 'n hart vir die kinders en mens kan
dit in die kinders agterkom.
Fiona leer die kinders Engels en dit is so lekker om hulle te
hoor Engels praat. Ons lag lekker vir die kinders se praat as hulle
die woorde omruil. Maar dit is nie meer lank nie dan gaan hulle vlot
wees daarin en dan kan almal self kom praat hier met die Moken sonder
dat ek hoef tussen-in te vertaal.
Deel van die leersentrumskool is ook om die kinders
lewensvaardighede te leer. Ons het 'n paar groentetuin-bokse
wat sommer baie goed doen. Ek leer die kinders die hele proses wat
begin by saad-ontkieming, hoe om na die saailinge om te sien, en dan
eendag om die groente te pluk.
Dan moet die kinders ook hand bysit en vaardigheid leer deur die grootmense te help wanneer hulle terug kom en die nette is vol krappe en vis. Ons het al 'n slag ook dan en daar 'n vis of twee oopgesny sodat die kinders kan sien wat alles binne in 'n vis is. Dan was hier ook 'n vrywilliger van die eiland wat die Moken kom leer armbande en halssnoere vleg en knoop. Dit word dan aan die toeriste verkoop. Ons toekoms planne sluit in hoenders en visse grootmaak, motorfiets meganieka, kokosneut bome plant en kook lesse. Dit sal egter gebeur soos die tyd dit toelaat en ons die nodige hulpbronne daarvoor kry.
Daar is so veel mense wat gehelp het en ons nog steeds help om die
sentrum te laat funksioneer. Ek wil vir elkeen van julle uit die
diepte van my hart dankie sê.
Hierdie is 'n groot ding wat gebeur in die Moken se lewens en hulle
waardeer dit baie. Dit spreek ook baie hard in die Thai gemeenskap en
hulle haal hoed af vir ons. Dit het lank gevat maar die Thai
gemeenskap spring ook nou in en help ons waar hulle kan met die
Moken. Dit is waarlik wonderlik om te sien hoe baie mense hierdeur
geraak word. Ek wil ook baie dankie sê
aan ons Vader. Sonder Hom sou ek lankal handdoek ingegooi het.
Ongelukkig is daar mense wat wag om te sien wanneer die sentrum gaan
toemaak, want sien nie almal glo in dit wat ons hier doen nie. Ek het
ook al harde klippe oor die prosesse gekou.
Die visa
gemors. Ek wil nie te
veel sê oor wie wat
gedoen of nie gedoen het nie, maar wil net aan julle verduidelik. Ek
het mos 'n gevestigde NGO genader na die wetgewing verander is, om my
te help met my werkpermit en nodige visa aansoek. Dit sou 'n
eenvoudige en kort proses gewees het, maar die papierwerk van die NGO
was heeltyd verkeerd. Na twee maande se gesukkel is die werkpermit
afgehandel, en dus gevolg met die visa verlenging. Terwyl dit aan die
gang is bel die NGO se Ranong kantoor my om hulle te kom help want
die emigrasie polisie ondersoek hulle en wil hulle toesluit. Toe moes
ek gou help om hulle woonplek te registreer by emigrasie. Ek is ook
deur die polisie uitgetrap omdat dinge nie in plek is nie. Ag toe is
die papierwerk van die NGO weer nie reg nie. Einde ten laaste word
die visa verleng vir 3 maande. Nou laat die NGO my weet dat die
proses so voort gaan want hul eie papiere is nog nie reg nie. Die
beste van alles is ek moet die NGO 24 000 bath betaal vir die grap
asook 'n vyftig bladsy verslag skryf van wat ek doen. Tyd om 'n ander
NGO te soek.
Ek is weer hierdie jaar
uitgenooi deur die Thai regering om hul vergadering oor
die Moken, in Phuket te gaan bywoon. Ek het die keer besluit om Moken
mense saam te vat, naamlik Saman en Bago. Ek het dit
ook goed gedink om vir Ieang saam te vat want sy is Thai en
van Phuket. So is ons die Donderdag eers Ranong toe om by binnelandse
sake toestemmingsbriewe op te tel. Ek het reeds die vorige Maandag
daarvoor aansoek gedoen want daarsonder kan die Moken nie buite ons
provinsie se grense in Thailand reis nie. Toe word daar vir hulle in
Lotus klere en skoene gekoop en so is die twee trots-reg vir die
vergadering. Na die lang pad is ons daar en was dit lekker om weer al
die bekende gesigte te sien. Met aanloop van die vergadering kry ons
elkeen die geleentheid om onsself voor te stel. Daar gooi ek die
voorsitter se boot om want hy kan nie glo dat ek so goed en duidelik
Thai kan praat en verstaan nie. Ag arme Saman en Bago,
hulle kry toe nie 'n verbouereerde woord uit nie. Wat 'n
plesier was die vergadering want die regering is waarlik besig om die
Moken te help. Hulle is besig om nuwe wetgewing op te stel wat van
toepassing gaan wees op die minderheidsgroepe in Thailand. Hulle het
die wetgewing aan ons kom voorhou en ek was baie beïndruk daarmee.
Hierdie regering is nog hier vir hulle mense en ek haal my hoed vir
hulle af. Ek het lekker gelag want elke keer as ek iets sê, het die
voorsitter kommentaar gehad om te lewer. Hy wou alles weet, ook hoe
lank ek al in Thailand is, en toe hy hoor dit is net agt jaar, kon hy
dit nie glo nie, want hoekom kan ek dan so goed Thai praat?! Na die
vergadering het al die regeringsamptenare by ons verby geloop en
gegroet. Toe dit die voorsitter se beurt is wil hy eers weet van waar
ek is. Hy grap toe en sê as ek Thailand sê, sal hy my glo (en lag
klip hard vir sy eie grap). Een van die mense noem toe dat ek so
sukkel met 'n visa en hy sê toe hy kan help om daarna te kyk. Dit is
darm wonderlik om al die eer aan Pappa te kan gee hiervoor. Ek onthou
nog goed die liewe taal-helper wat destyds in alle eerlikheid gesê
het ek moet die moontlikheid oorweeg dat ek die taal nooit sal kan
hoor en dus praat nie – maar Pappa se versekering dat ek die taal
net soos die Thai mense sal kan praat.... en nou na agt jaar word
Pappa se woorde waar. Sjoe hoendervleis!
Dan was daar 'n verkiessing op
ons eiland om 'n nuwe
eilandhoof te kies.
Hier is net vyf Moken wat die regte kaartjies het om te stem en ek
moes dit hou en kon dit eers die oggend van die verkiesing vir hulle
gee. Die nuwe hoof se naam is
Oed en hy is 'n baie
aangename man, ek kom sommer baie goed met hom oor die weg. Met sy
intrapslag kry die hele eiland griep. Een van die kinders het dit by
die regeringskool gekry en toe die hele Moken dorpie aangesteek. Ek
het dit darm nie te erg gehad nie maar baie mense was vir meer as
twee weke siek. Ek het 'n hele jaar se medisyne in een maand
opgebruik. Dit gaan nou baie beter maar daar is nog so hier en daar
een wat siek is.
Tussen dit alles deur het die surfing gogga ons behoorlik gebyt! Gelukkig kom ek ook nou goed reg. Die kinders is baie vinniger tuis op daai borde en soos visse in (en op) die see! Ons is 'n groot groep wat saam gaan surf want ek het nou al van die grootmense ook aangesteek en dit is so lekker om hulle te leer. Ons gaan nou amper elke tweede dag golwe soek. Dit is baie goeie oefening en daar is 'n groot kompetisie tussen surf en sokker. Die kinders doen egter nog baie goed met die sokker ook. Die kinders is uitgenooi vir 'n surf kompetisie die 8st Oktober. Man dit is lekker om so op die golwe te rits.
Ag dit was sommer nou weer
lekker om ons storie aan julle te kon vertel. Ek glo dat dit waarlik
vir julle ook tot seën sal wees. Weereens baie dankie aan almal wat
dit moontlik maak vir ons almal aan die kant van die wêreld. Om deel
te wees van Pappa se besonderse reddende Koningkryk tussen die sea
gypsies is 'n tuimeltrein-belewenis. Dit is waarlik 'n besonderse
en groot voorreg om hier as dienskneg van ons Here Jesus te kan wees.
April/Mei 2016
Niemand het gesê die lewe is maklik en sonder probleme nie, en of
ons nou gelowig is of nie, daar kom tye wat dinge skeefloop. Wat
egter die verskil maak is dat ons wat in Hom glo, Iemand het in die
moeilike tye wat by ons staan en ons selfs dra. En ons kan Hom Abba
Pappa noem! Hiermee groet ek julle vanuit 'n stik-hete en baie warm
Thailand. Dit is amper of tyd nie meer hier bestaan nie so vinnig
gaan dit verby. Intussen het ons weer 'n kasjoe neut-fees
gehad; die van Tonders was hier; COC konferensie;
eiland vergaderings; 'n kinderhuis besoek ons; Moken
verkiesing; besoek aan Ban Santisoek; onderrig
sentrum; spanbou en Ieang; en Chanab.
Ons het weer soos gewoonlik die jaarlikse kasjoe neut-fees op
die eiland gevier. Dis altyd 'n groot gedoente met baie werk en
organiseering wat op die einde baie genotvol is. Van die Moken
kinders het weer aan die dans kompetisie deel geneem en dit gelukkig
baie geniet. Die hoogtepunt is 'n paal stoei waaraan die seuns
deelneem en omdat hulle groter word is die uitdaging natuurlik ook
groter. Hulle doen hul beste om dan net in die water te val met 'n
groot gejuig en groot glimlagte – dis mos sports die!
Wat 'n voorreg was dit nie om vir Kobus, Hanneke en Christof van
Tonder hier by ons op die eiland te kon gehad het nie. Dit is
altyd so 'n voorreg en plesier om vriende en mede-broers en suster by
my te hê. Ons het so lekker gekuier en kon lekker met mekaar harte
deel. Hulle het ook gehelp om die nuwe onderrig sentrum te help agter
mekaar kry, met sommer baie sweet. Ek was so dankbaar dat dit nog nie
te warm was toe hulle hier was nie. Dit is wonderlik om te sien hoe
Vader in hulle lewens aktief deelneem en hoe vuurrig hulle is om saam
met Hom te stap. Dankie vir 'n wonderlike tyd saam met julle hier op
die eiland!
COC (Christian Outreach Centre) is 'n
Nie-Regeerings-organisasie (NGO) wat my help om 'n visa en werkpermit
te kry hier in Thailand. Hulle het 'n jaarlikse konferensie
gehou waarna ek toe uitgenooi was en ag, dit was darm maar so lekker
om vir twee, drie dae saam met mede-gelowiges te kon wees! Ons is
aangemoedig om vas te byt, uit te hou en voort te gaan met dit
waarvoor die Here ons geroep het. Die hoofspreker het gesê daar is
net een wat misluk en dit is hy wat voor die tyd opgee. Dan het
PappaVader ons iets van Sy droom gegee naamlik dat ons moet opstaan
en voluit gaan met dit wat Hy ons gewys het. As ons net heeltyd vir
Hom bly wag, gaan ons nog baie lank wag. Ek het net weer besef dat
onse Vader besig is met groot dinge op aarde en ook hier in Thailand.
Ons kan net al die eer en lof aan Hom gee, en weer gee.
Dan was ek ook uitgenooi na vergaderings hier op die eiland.
Die eerste een was 'n vergadering waar die wet-skrywers van Thailand
ons kom besoek het. Hulle wou graag meer inligting van die Moken
mense gehad het. Daarna het hulle kospakkies vir elke Moken gesin uit
gedeel. Die tweede was waar ons vergadering gehou het met die
regering oor die half klaar brug hier oor die gety rivier. Ek het
weer 'n groep Moken saam gevat en is ook 'n spreekbeurt gegee. Ek het
voor die tyd met die Moken vergader en kon dus hul hartwense en
versoeke aan die regering oordra. Naderhand het ek begin besef dat ek
baie besig gehou gaan word met vergaderings bywoon as ek namens die
Moken optree. Dis toe dat ek begin sien die tyd is reg vir die Moken
om vir hulle self op te staan. So na een Sondagdiens nooi ek hulle
toe uit om te begin dink aan mense wat hulle wil hê hulle moet
verteenwoordig. Daarna het ons ook 'n vergadering bygewoon waarin die
plaaslike owerhede ons ingelig het wat die regeering probeer reel ten
opsigte van burgerskap vir die Moken en hoe om die proses te versnel.
Volgens die regeering gaan daar oor drie maande 'n spesiale groep
mense Ranong toe gestuur word om die proses aan te help. Met die word
daar 'n hoop huiswerk aan my gegee om al die nodige informasie van
die Moken te kry. Dit klink egter baie maklik maar ek is al 'n paar
jaar besig hiermee.
Ons was so bevoorreg om 'n kinderhuis van die provinsie Pang
Ngaa hier by ons te hê. Mark Hawaii en sy vrou Dorien
is die voog-helpers by Ban Santisoek. Ons het oor die jare
baie goeie verhoudinge opgebou en dit was 'n fees om al hul kinders
hier by ons te kon hê. Daar is geswem en vis gevang en geduik en
gelag en ge-alles. Ons het besluit om dit nie te lank te maak nie
want ons is redelik afgesonder hier op die eiland. Hulle het twee
aande hier oor geslaap en omdat dit so goed afgeloop het, het ons
gedink om dit weer te doen volgende jaar. En soos altyd was dit net
te gou oor en moes hulle huis toe gaan. Daar is egter baie goeie
verhoudinge gebou en die kinders verlang sommer alreeds baie. En so
nooi hulle ons uit terwyl dit nog skoolvakansie is, om by hulle te
gaan kuier.
Net na die groep hier weg is het die Moken toe bymekaar gekom om 'n
verkiesing te hou siende dat hulle toe sewe mense genomineer
het wat hulle as verteenwoordigers wil hê. Ai mense was dit nou 'n
interessante ervaring. Hulle was aanvanklik lekker skaam en het lyf
weg gesteek, maar nadat die eerste klomp hul kruisies getrek het, het
so te se almal gekom om te stem. Na al die stemme getel is, is die
vier aangewys - hulle is Wieny, Joe, Joen en Bago.
Na die tyd het onstoe ook sommer vir die eerste
keer vergader omdat ek hulle moes voorberei vir hul eerste publike
vergadering, en dit sonder my. Hul eerste toets was om te besluit of
hulle elektriese krag wil hê in die Moken dorpie of nie. Ag ek is so
bly om te sê dat hulle opgedaag en dit bygewoon het, en ook hulle
besluit om wel die geriewe daar te hê aan die owerhede kon deel. Ek
kan net al die lof aan Pappa gee dat Hy hulle tot op 'n punt gebring
het waar hulle self kan besluit en ook die moed het om dit te deel.
Ek is toe weg vir my kort
visa-run
in Burma en opad terug by binnelandse sake in Ranong aangegaan om
aansoek te doen om die kinders vir 'n uitstappie te vat buite ons
provinsie. Die eerste reaksie wat ek van die kantoor kry was dat dit
nie gedoen kan word nie. Ek wys hulle die uitnodigingsbrief van Ban
Santisoek en word na
hul hoof verwys. Met die dat ek so baie Moken vorms invul, ken ons
mekaar reeds goed en word ek vriendelik deur hom ontvang. Hy sê toe
om soveel moontlik inligting van elke kind vir hom te gee asook 'n
foto van elk. Gelukkig was daar van die kinders by my en vir die res
kon ek Chanab
bel, wat foto's van die ander kinders op die eiland kon neem en op
haar selfoon aanstuur. Drie dae later sit ek met al die toestemming
briewe in my hand. Die Sondag is ons klomp vroeg op die boot Ranong
toe met tien kinders en Saman
wat my help. Daar is voorlopig besluit dat ons net twee aande gaan
bly maar ons kan verander soos ons wil want ons was genooi tot die
Vrydag. 'n Groep vrywilligers van Hawaii was juis daar om 'n sokker
kamp vir die kinders aan te bied. Dit was so lekker toe ons daar
aanland en weer al die ou bekende gesigte sien. Die kinders was
aanvanklik skaam maar dit was nie lank nie of hulle speel 'n hond uit
'n bos. Maandag oggend is ons vroeg see toe waar Mark
Hawaii die seuns leer
brander plank ry. Hulle was eers bang en ja, jy raai reg, skaam. Maar
kyk, ja jy raai weer reg, toe is daar geen keer aan hulle nie. Met
die tweede probeerslag is hulle op die bord en toe surf
hulle!
By die huis aangekom is daar gou
gewas en geëet en toe is daar sokker gespeel. Ons het nog gaan surf,
krappe gevang, en sokker op die strand gespeel, dit alles saam met
die Hawaii helpers wat wonderlik was met die kinders. Hulle het
deurentyd 'n pragtige boodskap aan die kinders gebring. Dit was so
lekker dat die kinders besluit het om nog 'n aand te bly. Sjoe baie
dankie Mark Hawaii en
Dorien vir die
wonderlike tyd! Die kinders het so lekker gekuier en sulke lekker
vriende gemaak.
Een van die grootste projekte
wat ek totdusver aangepak het is die onderrig
sentrum in die Moken
dorpie. Al help die seuns my, gaan dit van die begin af baie stadig,
soveel so dat toe die offisiele skool termyn begin het was ons nog
steeds nie klaar nie. Hier wil ek net vir Mark
Hawaii baie baie
dankie sê want hy help my nou waarlik met alles. Hy is nie net hier
om my fisies te help nie, maar ondersteun my en gee my baie goeie
raad. Hy is waarlik 'n steunpilaar wat my in en deur alles help,
asook 'n vriend duisend! Ek weet nie of ek die mas hier sonder hom
sou kon opkom nie.
Fiona,
wat al 'n paar jaar op die eiland is, was ook hier en het gehelp om
die een klaskamer mooi te maak. Sy is ook ons Engelse juffrou al is
sy Australiaans. Ons gebruik die vertek voorlopig om al die kinders
in te onderrig. Dan poog ons om die skoolkinders een keer per dag 'n
gekookte ete te gee en het 'n vroutjie indiens geneem om hiermee te
help. Sy is ook Moken en haar naam is Ing
(Saman se vrou).
Ons weet nog nie of dit volhoubaar gaan wees nie want die finansies
wat benodig word is nog nie hier nie. Toe die kinders na die regering
skool gegaan het het hulle darm elke dag een ete by die skool gekry,
en vir meeste was dit dan ook die eenigste ete. Soos ek van Pappa
verstaan is daar groot planne vir die sentrum en dus nooi ons enige
iemand uit wat glo dat die Here hulle roep om betrokke te raak. Die
visie is nie net om kopkennis oor te dra nie maar ook om ander
noodsaaklike vaardighede aan te leer soos hoenders groot maak en
verkoop, winkeltjie oopmaak en bedryf, groente en plante plant,
motorfietse regmaak, ag en nog baie ander dinge. Soos altyd vereis
dit goeie en geseënde mense se opoffering van gawe, tyd en geld. Ek
hoop van harte dat mense van oral sal wil betrokke raak by die
projekte. En vir die Suid Afrikaaners sal daar weer geleentheid wees
later die jaar met 'n groep wat my stuursel sal uitnooi. Tans is ons
fokus egter eers op die sentrum en van daar sal ons meer projekte
aanpak.
Om 'n span hier te bou sodat
die langtermyn koningkryks-visie hier kan wortel skiet, vereis mense
wat die stem van Pappa hoor om hier kort of langtermyn te wees.
Sedert die Kwok
familie se vertrek, is ons op die uitkyk na spanmaats en so het dit
gekom dat daar 'n Thai Christen vrou aanbeveel is wat ek toe ontmoet
het en kon uitnooi om hier te kom kyk, met die oog om te help met die
meisies. Sy is ook 'n vrywilliger soos ek en haar naam is Ieang.
Ons bid waarlik dat sy die mas sal opkom want dit is nou eenmaal maar
nie maklik hier nie. Maar ons weet ook dat as sy waarlik deur die
Here hiernatoe geroep is sy sal kan uithou, aanhou, kop- en harthou.
En dan net iets oor
Chanab.
Dit gaan sommer baie goed met haar. Ek het terugvoer van die
instansie gekry waar sy bly en hulle praat net met lof van haar. Sy
het werklik goed aangepas en doen sommer baie goed op skool. Daar was
'n tyd toe sy nie meer wou skool toe gaan nie maar nou oorweeg sy sy
selfs om tot graad twaalf te leer. Sy is een van die kinders wat ons
finansieel ondersteun om in Ranong hoërskool toe te gaan. Ek sien
haar gereeld en sy het vir my gesê dat sy sy baie gelukkig is.
Dankie Pappa dat U so mooi na ons kind daar in Ranong kyk.
Dan weer die geleentheid
om aan elkeen van julle dankie te sê vir alles wat julle is en
daardeur doen. Weet ek is hier omdat julle dit vir my moontlik maak.
Weet dat Hy oor wie dit alles gaan, elkeen van julle se harte sien en
ook julle daarin seën en bystaan. Mag julle waarlik net in Sy liefde
en genade groei.
Baie liefde, in Pappa, Philip
อำนาจ
Februarie 2016
Kan dit alreeds die tweede maand in die nuwe jaar wees?! Blykbaar
staan tyd nie stil nie want daar is so baie wat met ons en julle
sedert my laaste nuusbrief gebeur het. Intussen was ons weer op TV
gewees; die nuwe groente tuin; vele verjaarsdae; ek
kuier in Suid-Afrika; en is weer terug in Thailand met 'n
harde slag; sokker speel is groot; en ag die skool
sisteem. Ek deel graag met julle wat nuus is hier by my, so sit terug
en lekker lees.
So een warm oggend kry ek 'n oproep van 'n Thai vrou wat wil weet
waar ek is. Nee sê sy
hulle wil net gou met my kom praat oor die Moken. Skaars 20 minute
daarna stop 'n paar motorfietse by die skool en glo wil hulle net so
halfuur met my praat. Wel 'n hele twee dae later vertrek die TV
groep mense hier en kan ons weer asemhaal. Hulle en hul kameras en
goette was soos skaduwees saam met ons in die huis, dan saam met ons
by die skool, saam met ons op die see. Kyk die meeste van die kinders
het net mooi niks daarvan gehou nie. 'n Paar weke later breek die
groot dag aan – ek kry 'n oproep van die uitsaaistasie dat die
program die middag uitgesaai gaan word. Ag het die Moken kinders dit
geniet om hulleself op die TV te sien!
So twee jaar gelede het ek hier agter my huis 'n klein
groente-tuintjie begin. Daai tyd het ons die Moken probeer
leer groente plant maar hulle het glad nie belang gestel nie. So met
die tuintjie het ek gepoog om die kinders geïnteresseerd te kry in
die hele idee van self groente kweek. En het die groente mooi
gegroei. Elke dag as ons terug kom van skool het die kinders na die
tuintjie toe gehardloop om te sien wat groei en om van die vars
groente te pluk wat hulle partykeer sommer so eet. Maar ek het
gesorg dat die tuintjie klein genoeg bly om aan my huis groente te
voorsien want sien ek het 'n plan met die tuintjie. So is daar net genoeg groente dat die kinders
darm kan proe maar nie genoeg vir almal nie. Toe so drie maande terug
hoor ek die woorde “ons wil ook groente plant.” Ai! Ek gaan toe
'n ooreenkoms met die kinders aan dat as hulle my mooi help kan ons
vir hulle ook 'n tuin maak sodat ek hulle kan leer groente groei. Met
die plan en 'n spaargeldjie maak ons toe nuwe groente-bokse - met
groot moeite siende dat die grond en voeding ingery moet word want
niks groei op die sand nie. Dis wonderlik om te sien hoe hard hulle
probeer om die groente aan die groei te kry!
Desember is verjaarsdagtyd hier vir ons. Die ou Moken gewoontes hou
mos nie rekord van hul kinders se geboortes nie en so het dit gekom
dat Tine en Wood (julle ken hom as Khay Dam) hul
verjaarsdae kon kies. Ons het toe hul 13de
verjaarsdae sommer saam gevier voor my vertrek Suid-Afrika toe. Ons
het so gelag want die koek het vinnig begin smelt buite die yskas en
toe moes ons vinnig foto's neem en net so vinnig eet. Hulle word ook
nou vinnig groot en dit is 'n groot voorreg om hulle so te kan
bederf. Dan het ek die voorreg gehad om my 40st verjaarsdag in
Suid-Afrika saam met vriende en familie te vier. Baie baie dankie vir
julle almal wat daar was - dit was 'n baie spesiale tyd gewees!
En ja, vir die van julle wat dit gemis het, ek was vir vyf weke in
Suid-Afrika op besoek oor Desember en Januarie. Die besluit
het baie vinnig gekom met al die dinge wat my vashou en agv van wat
alles by die skool besig is om te gebeur. Ek het dit goed gedink om
net so bietjie van die hele gedoente hier weg te kom om beter
perspektief te probeer kry. En dan was dit ook my verjaarsdag en
Kersfees. So voor ek mooi weet wat aan gaan is ek in Suid-Afrika. Wat
'n skok! Ek moet sê ek was nie gereed vir dit wat alles in
Suid-Afrika aan die gebeur is nie. Darm met al die liefde van vriende
en familie was dit toe voorwaardelik 'n baie goeie en lekker geseënde
samesyn-tyd. Ons het regtig lekker gekuier! Daar was ook geleentheid
om met mense te praat oor wat alles hier aan die gebeur is, wat 'n
tipe platform was vir moontlike oplossings in my huidige stand van
sake. Die een ding wat ek op die einde net te min van gedoen het was
rus. Toe ek daar weg is moes ek eers so bietjie kom afvat het hier in
Thailand om my batterye te laai, want anders sou ek dit nie hier
gemaak het nie.
Maar net toe ek amper mooi begin aanpas in Suid-Afrika, is ek weer
terug in Thailand. Maar kyk, toe kry my lyf darm 'n skok. Die hitte
was net te rof. Dit het soos 'n lood kombers op my gerus; ek het soos
'n vry-vloeiende fontein gesweet. En toe het die moegheid my met ''n
harde slag begin onder kry. Maar daar was nie tyd vir rus nie
want die kinders het nie skool gegaan toe ek nie hier was nie, en
dinge moes reg kom. Terselftertyd was daar 'n groot sokker byeenkoms
waarna die Moken seuns uitgenooi was om span te speel. So druk ek
myself toe maar om aan te gaan met alles, maar ek begin agterkom my
passie vir hier-wees is besig om te kwyn. So ignoreer ek dit eers
totdat ek net nie meer kans sien vir die hele spul nie. Stadigaan
begin ek my hart ondersoek en vind dat ek siek en sat is vir al die
probleme hier - en dit is nie eers my probleme nie. Half geskok in
wat ek sien gaan ek toe bietjie by Sy voete sit maar al wat ek daar
vind is 'n opdrag van rus. Toe gaan rus ek maar alleen en slaap vir
twee dae. Ek dink nie ek het al ooit so lank aaneen geslaap nie. Ag
en toe ek daar opstaan werk alles weer reg.
Ek moet sê, ek leer baie hier en veral van een ding, al hou
baie nie daarvan om hieroor te praat nie. Dit is die plek van
nederige afhanklikheid van Pappa. Dit is 'n plek waar ons kan kies om
te lewe waar ons altyd swak is, waar ons nooit in beheer is nie, 'n
plek wat ons volkome van Hom afhanklik maak. Dit is 'n plek waar ons
konstant bewus is van wie ons is sonder Jesus, maar ook van wie Hy
deur ons is. Dit is nie 'n lekker plek om te wees nie maar ek besef
al hoe meer dit is die eenigste plek waar ons moet wees. Sodra ons
uit daai plek beweeg raak ons vol van onsself en dink ons ons is in
staat om Sy dinge te doen. Maar ek sien, uit ons heel beste pogings
is daar net frustrasie en uiteindelike hartseer. Ek begin te leer dat
daar 'n beginsel van magsbeheer-verloor is wanneer al die slegte goed
met ons gebeur - en dit is juis daar waar Pappa deur kan kom. As ek
swak is werk Pappa, maar as ek sterk is, is daar dood en seer.
Nou eers genoeg van dit. Ek was skaars hier of ek kry 'n oproep van
my Thai vriend Angkaan wat vra of die Moken seuns nie wil kom
sokker speel nie. Ek kry toe vyf seuns hier wat gewillig is
om te speel en die ander vir geselskap, en ons trek Ranong toe vir
die geleentheid. Was dit nou vir jou sports gewees. Die drie kleiner
seuns speel vir onder
Dan
het ek 'n wonderlike vriend hier in Thailand. Ek noem hom Mark
Hawaii omdat
daar soveel Marke is wat ons almal ken. Hy en sy vroutjie is
sendelinge by 'n Thai kinderhuis in die suide. Toe ek in Suid-Afrika
was het hy en sy vriend vir my 'n waterpomp kom installeer wat my ou
trapfiets-metode vervang het. Sjoe julle, dit maak die lewe vir my
baie makliker en my huishouding soveel beter. Baie baie dankie Mark
en span! Dankie dat julle gereeld hier kom help en my ondersteun.
Mark, jy is 'n wonderlike steunpilaar en inspirasie en 'n ware vriend
in Christus.
Dan net weer baie baie dankie vir al julle liefde en gebede en
versorging. Weet julle is almal net so deel van wat hier gebeur as
ons. Mag julle ook die liefde en nabyheid van ons Hemelse Pappa
ervaar soos ons in lief en leed.
Baie liefde en vrede vir julle,
In Pappa,
Philip
อำนาจ
September 2015
Daar is nie genoeg woorde om die verloop van tyd te beskryf nie - 'n
oogwink, 'n oomblik, blitsig of dalk net besig. Sjoe, ek kan amper
nie glo dit is al drie maande vandat ek my vorige nuusbrief geskryf
het nie. Ek groet julle met baie liefde van ons Here hiervanuit 'n
nat en warm Thailand. Dit reën
katte en honde hier; en as dit nie reën
nie kook ons behoorlik; daar bly nou 9
seuns op 'n slag by
my; dus moes ons slaapplek
aangepas word; tussen dit alles breek die waterpomp-fiets
weer; twee
geliefde onderwysers
groet ons; 'n
wonderlike YWAM
konferensie; en ag
die visa.
Dit
het later as gewoonlik hier begin reën
die jaar, maar toe
dit eers begin reën
het, reën
dit behoorlik katte, honde en sommer brakke. Kyk, ek staan elke jaar
opnuut verstom oor die reën.
Ek kan nie dink waar al die warter vandaan kom nie. Dit het nou al 'n
paar keer die jaar oorstroom in Thailand asook naburige lande. As dit
reën
dan koel dit heerlik af en slaap
ons te lekker - tot dit ophou.... dan is dit onmiddellik kookend
warm. Die wêreld stoom
sommer so en dit lyk soos mis. Jy kan nie roer nie of die sweet slaan
uit. Ek lag lekker want in die hitte speel die kinders sokker en hol
rond; hulle kom net nou en dan sê
dit is warm.
Die jaar is 'n rowwe jaar
en die ouers gaan almal uit gedurende die reën
seisoen om vis te vang. Dan los hulle hulle seuns by my om na om te
sien. Daar is soms tot 9
seuns tussen die
ouderdomme van 6 en 13 jaar. Dit is baie lekker en ek geniet elkeen
van hulle maar ek moes ook aanpas om al die kinders te versorg. Die
kleintjies verlang net so twee of drie dae na ma, maar dan speel
hulle saam en dis dit. Partykeer wil hulle nie eens huistoe gaan
wanneer die ouers terugkeer nie. Die een seuntjie het met trane in sy
oe gesê
nou gaan hy weer honger slaap. Ag ek kry hulle so jammer maar dit is
nou eenmaal maar die Moken lewe.Met die wat daar so baie seuns by my ingetrek het en aangebly het, was die slaapdek op die einde net nie groot genoeg nie. En met die warm weer het ons behoorlik gesweet en was daar nie genoeg slaapplek nie. Gelukkig was daar spaargeld en klim ons een naweek op die boot en gaan koop 'n klomp hout in Ranong. Het ek lekker gelag vir die kinders - die seuns wat nou al 'n ruk by my bly weet iets moois gaan uit die hout kom, maar die nuwe seuns het geweier om dit te glo: dit is dan net hout stukke. Ek het mooi beplan en al die planke op regte maat voor die tyd laat sny. Die seuns het gehelp om al die planke op te dra in die huis, waarna ons die planke inmekaar geskroef het. Groot was die verbasing toe daar 'n bed uit die planke verskyn. Ons het so gelag want die eerste aand het amper almal van hulle beddens afgeval! Ek moet sê die beddens was 'n briljante idee en ons slaap almal nou baie beter. Drie van die klein seuntjies slaap nog bymekaar maar die res het nou hulle eie bed.
Te midde van alles wat
aangaan en om die logistieke te bedryf, besluit die waterpomp-fiets
om te groet. Nou ons
het alreeds die ander ou fiets vervang toe die Enrieus hier gekuier
het in Mei, so dit was 'n regte onvoorspelbare gemors. Al die Moken
skoolseuns kom was elkeaand by my en elkedag word al hulle skoolklere
gewas, kos gekook en skottelgoed gewas. Ons moes toe maar na die put
toe loop met al die goed en daar gaan was. Maar dit was wonderlik hoe
iets slegs in 'n avontuur vir die kinders verander het. Die laaste
fiets het mooi afgeroes en hierdie keer moes ons die hele blok sement
wegkap met hammers. Ek is toe Ranong toe met 'n nuwe plan en 'n week
later gaan kry ek die driehoek wat ek laat maak het. Gelukkig is daar
'n klomp fietse by die skool wat nie meer gebruik word nie en net lê
en roes. Ek vra toe vir een en sit die nuwe fietspomp aanmekaar.
Dankietog dit werk baie goed! Daar is sommer 'n hernude waardeering
van die kinder sedert daar 'n nuwe fiets is.
Dan was ek genooi na die twee
jaarlikse YWAM
konferensie hier in
Thailand. Dit was nou baie spoggerig gewees asook die lekkerste kos
is voorgesit - 'n mengsel van Thai en Westerse disse in oorvloed. Die
groot verrassing was om so baie Suid-Afrikaners daar te ontmoet! Ons
het besluit om almal aan die selfde tafel te sit met die gevolg dat
daar gegrap was van voor tot agter. Ons het gekuier en gekuier en
gekuier, dit was 'n fees. Ons het ook besluit om kontak te hou met
mekaar en twee gesoute sendelinge was al vir 'n besoek hier op die
eiland. Was dit nou lekker gewees om weer bietjie Afrikaans te kon
praat. Ons het sommer baie vinning baie goeie vriende geword.
Die konferensie self was baie
lekker gewees. Ek was so beindruk dat daar so baie Thai mense by YWAM
aan-gesluit het. Die konferensie was dan ook twee talig gewees en het
my so baie hoop gegee vir dit wat hier in Thailand gebeur. Hulle leer
die Thai om nie net besigheid vir hulle self te doen nie maar ook vir
die Koningkryk. Baie getuig van hoe hulle meer as een winkeltjie het
waar die eerste een se inkomste vir hul gesin en familie is, en dan
die tweede, derde en selfs vierde een se inkomste vir sending gaan.
Hulle hele hart is uitverkoop aan die Here en wat Hy onder die nasies
doen. Vir die eerste keer sien ek mense wat die ekonomie van ons Here
beter verstaan as onsself. Dit was waarlik 'n voorreg om die geloof
en ywer van die Thai gelowiges te kon sien.
Met hartseer het ons twee van
ons geliefde onderwysers
gegroet. Die skool
kinders het behoorlik gehuil toe die twee hier weg is.
Khru Taa is terug na
haar eie provinsie in Isaan.
Ons is baie bly sy is weer nader aan die huis maar gaan haar baie
mis. Dan het Khru
Deang ons ook
verlaat. Hy was alreeds by die skool toe ek destyds hier begin het.
Hy het die Moken kinder so mooi gehelp en was 'n regte staatmaker. Hy
is darm nie so vêr
nie en is nou waarnemende hoof by n nuwe skool. Hy beplan om as
skoolhoof terug te kom na die eiland toe - ons hoop almal van harte
dat dit wel gaan realiseer.
Kyk, die STAMP sendelinge sukkel
nou maar eenmaal met hul visas. Dit is nou al amper 5 jaar en ons het
nog nie 'n behoorlike visa oplossing nie. Die regering het intussen
ook sake baie moeilik gemaak en baie buitelanders moes al die land
verlaat het as gevolg van die streng toepassing van die wet. STAMP,
'n Malaysiese organisasie, is nou van
plan om hul eie NGO hier in Thailand te begin wat ons hopelik sal kan
help om visas te kry op die langtermyn. Dit neem egter 'n lang tyd
net om die NGO te registreer. Daarna neem dit nog 2 tot 6 maande om
dan toestemming by die regering te kry om iemand 'n visa te gee wat
van die buiteland is. Intussen is ek egter genoodsaak om deur 'n
ander organisasie aansoek te doen vir 'n visa - dis juis die klomp
Suid-Afrikaners wat my aan hulle voorgestel het. Ons bid en glo dat
hulle dit goed sal vind om my ook deel te maak van hulle organisasie;
my aansoek is reeds ingestuur so ek wag om van hulle te hoor.

Dan is dit alweer skooleksamen
en skoolvakansie daarna. Ek kan nie wag nie en hoop dat dit die keer
'n ware vakansie gaan wees waarin ek kan rus, groente plant, vis
vang, die kinders geniet asook al die kleiner dingtjies kan doen, en
lekker loslit kan wees sonder druk.
Baie baie dankie vir al julle
gebede en liefde en ondersteuning. Weet dat ek net hier kan wees
omdat julle almal agter my staan. Met al die dinge wat in die wêreld
gebeur en al die onsekerheid en onvoorspelbare gebeure, is dit net op
Hom wat ons kan vertrou. Ten spyte van die geweldige verswakking van
die rand, is daar steeds voorsienning deur sy genade en Sy kinders se
getrouheid om Sy Koningkryk uit te brei en te ondersteun m.a.w. ek is
nog steeds hier. Ons kan net al die lof en die eer aan Hom gee – Hy
waaroor dit alles gaan. Hy is waarlik getrou en volkome in beheer al
voel dit nie altyd vir ons so nie. Hoop dat julle ook Sy liefde en
nabyheid soos ons hier ervaar.
Baie liefde en vrede vir julle
In Pappa
Philip
อำนาจ
Mei/Junie 2015
Sjoe
mense wat 'n voorreg! Daar is nie genoeg woorde om hierdie voorreg te
beskryf wat ons het om Vader se liefde uit te lewe sodat ander mense
geraak word nie. Ek groet julle met die liefde van Hom waaroor dit
alles gaan, vanuit 'n nat, warm en baie besige Thailand. Ek het op
die einde toe nie werklik 'n vakansie
gehad nie; wat 'n fees was dit om Mark
en Paulien
hier te hê; die geloof
van kinders;
ons bereik 'n kruispad;
die nuwe brug
vorder; en wat met STAMP
gebeur.
In
my laaste nuusbrief het ek genoem dat die lang verdiende vakansie
uiteindelik aangebreek het maar min het ek geweet dat ek 'n vakansie
na die 'vakansie' sou nodig hê. Ek was skaars terug van my visa-run
of die eerste babietjie word gebore. Die probleem was dat nie die pa
of die ma enige amptelike regs-dokumente het nie maw die baba kan nie
binne die voorgeskrewe 2 week periode geregistreer word nie. Ek was
nog besig met die registrasieproses in Ranong toe val die
ondernemingsproses om al die siekes en krankes te versorg, op my. Dit
was die begin van die einde – ek was amper soos 'n 24 uur ambulans
tussen die eiland en Ranong, tussen die hospitaal en die hawe. Deur
dit alles ontvang ek die skokkende mediese resultaat dat die Moken
dorpie op die eiland 'n TB geteisterde gebied is siende dat meer as
10% van die bevolking aan TB lei. Uiteindelik het ek tot verhaal
gekom net voordat ons moes Bangkok toe vertrek om die Enrieu's daar
te ontmoet. Waarheen het die vakansie verdwyn!?Die week wat ons (ek, Khay Dam en Tine) saam met Mark en Paulien in Bangkok was, was wonderlik. Ons het 'n dag by 'n water-en pretpark spandeer, ons het gaan fliek, was by die akwarium, het gaan goed koop en het lekker trein gery. Die twee tienners het dit ook baie geniet. Ons het so lekker gelag want so braaf as wat hulle in die see en op die eiland is, so bang was hulle vir al die goed in die pretpark.
Ek het so
lekker met Mark en Paulien gekuier, sjoe dit was 'n fees om hulle
hier op die eiland ook te kon gehad het. Toe die skool weer begin
het, was daar elke aand ete gereed vir ons as ons by die huis kom.
Dan kon ek na huiswerk lekker ontspan en saam met hulle kuier. Ag dit
was net te gou verby.
Vader is
onbeskryflik wonderlik! Hy onderrig my die heeltyd in wat dit beteken
om saam met Hom te lewe. Een aand in diep gespek met Hom, ervaar ek
Sy liefde en Sy nabyheid. In gedagtes is dit toe asof ek weet ek kan
Hom enigeiets vra en Hy sal dit vir my gee. Ek word toe bewoë want
my diepste hartsbegeerte is net een ding en dit is Hy. Maar ek weet
dit is nie wat Hy bedoel nie en my gedagtes gaan en in 'n oomblik
sien ek hoe ons sukkel op die eiland met die motorfiets en hoe ons
sukkel sonder 'n voertuig in die dorp. Ek lag toe en vra sommer
hardop of ek regtig daarvoor ook kan vra!? Die volgende oggend gesels
ek met die seuns of wil hoor wat hulle dink, sal Vader vir ons dit
gee? Sonder enige twyfel antwoord Khay Dam,
verseker sal Hy. Ek was so half omkant gevang want in my eie hart was
daar twyfel maar nie 'n druppel in die seun se hart nie. Ek gee toe
die versoek deur aan my stuursel en ons praat oor die logistieke,
pryse ens. Dit was nie eens mooi twee weke nie of beide die fiets
asook die voertuig is voor aanspraak gemaak. Ag die lekkerste was om
die kinders te hoor sê, “ek het mos gesê Pappa sal dit vir ons
gee”. Sjoe julle, tot vandag kan ek nie genoeg dankie sê vir almal
wat ons hier so mooi help nie. Dit is onbeskryflik om Sy liefde hier
te kan uitleef!
Omdat daar tyd was, kon ons die kruispad sien. Dit het duidelik geword in ons gesprekke dat ek alleen nie die mas hier gaan opkom nie. Daar is eenvoudig net te veel dinge wat heeltyd gebeur, vir een persoon om dit alles te hanteer. Dit is duidelik dat die omvang van die dienswerk slegs onderhou sal word as daar nog meer mense bereid is om ons te kom help op 'n lang termyn basis. Dis wonderlik as groeppe kom kuier en groot stukke werk vermag word, maar op 'n alledaagse vlak raak dit te veel. Was dit nie vir Pappa se liefde en hand hier die heel tyd nie, was ek lankal nie meer hier gewees nie.
Indien jy nog nie vir ons op die eiland kom kuier het nie, gaan jy miskien nie die voorreg het om die gety rivier op die avontuurlike manier oor te steek nie. Hulle het verlede jaar begin bou aan die brug wat die Moken dorpie verbind met die hoof roetes op die eiland en is steeds besig. Intussen moet ons droog oor die rivier kom om betyds vir skool te wees. Deesdae help Saman ons hiermee as hy nie uit op die see is nie. Ek vermoed die brug gaan groot veranderinge tot gevolg hê. Natuurlik sal dit baie makliker wees en heelwat tyd spaar as ons met die fiets-bussie sommer oor die rivier kan ry. Ons mag selfs meer betyds wees vir skool!
My hart is vol as ek dink aan almal wat deel is van wat Pappa hier onder die mense doen. Dankie dat julle almal deel is daarvan en dat julle ons hande en voete sterk maak om hier te kan wees. En hoor maar gerus en kyk of Vader nie dalk een van julle ook geroep het om Sy liefde hier onder die mense te kom uit leef nie?
Baie
baie liefde en vrede vir julle,
In
Pappa,
Philip
อำนาจ
April 2015
Sjoe wat 'n wonderlike jaar! Die tyd vlieg soos gewoonlik en ons is
net so besig soos in die verlede. Ek hoop dat die eerste kwartaal van
julle jaar ook vol van die liefde en genade van ons Vader was en dat
julle net soos ek uitsien na nog 'n kwartaal van Sy liefde, vrede en
genade. So die kinders het eksamen geskryf; Chanab
gaan hoërskool toe; nog een van ons onderwysers is weg;
ons het kasjoeneut fees gehad; ons word besoek deur 'n TV
span; en Jon-hulle het kom kuier.
Man, my ma het altyd gesê sy skryf saam met ons eksamen
maar kyk, die jaar was dit veral weer my beurt. Wat dit so moeilik
gemaak het was dat baie van die werk wat in die eksamen gevra word
nooit eens aan die kinders deur die jaar geleer is nie. Kyk ek was
darm maar boos op 'n stadium vir die klomp, maar dit is nou maar
eenmaal hoe hulle dit hier in Thailand doen. Ek voel net so jammer
vir die kinders wat so hard probeer en dan nie kop of stert uitmaak
van die toetse nie. Dit is sulke harde werk om die kinders
gemotiveerd te kry om te glo dat hulle dit kan doen om dan voor 'n
toets te staan te kom wat nie sin maak nie. Die goeie nuus is dat
almal deur is behalwe een voorskoolse dogtertjie wat ons besluit het
om nog 'n jaar terug te hou voor sy weer graad een toe gaan.
In die nuwe skool jaar wat in Mei begin, het ons vir die
eerste keer in die Moken geskiedenis 'n kind wat laerskool op die
eiland klaar gemaak het en wat hoërskool toe gaan in Ranong.
Chanab is baie opgewonde want sy het baie goed
gedoen. As julle onthou was daar in die verlede kinders wat Ranong
toe geneem is na die kinderhuis en daar laerskool en hoërskool toe
is. Ek het oral gesoek vir 'n plekkie vir haar om te bly maar op die
einde het sy besluit om ook by die kinderhuis te gaan loseer. Al haar
vriende van die eiland is daar en sy sal na dieselfde skool gaan as
van hulle.
Na ons met die hoërskool hoof gepraat het moes sy die
toelatings eksamen gaan skryf. Sy is goed deur en is ingeskryf. Die
hoof van die kinderhuis het my intussen meegedeel dat hulle die
fasiliteit binne 6 tot 7 jaar gaan toemaak en dat hulle nie nou meer
nuwe kinders gaan inneem nie. Hulle het Chanab in geneem maar
ons moet self vir haar betaal.
So hier is nou 'n nuwe uitdaging vir ons want die kinders word groot
en oor twee jaar gaan die volgende eiland-kind moet hoërskool toe
gaan en waar gaan hy bly? Sjoe dit is waarlik dat die veld ryp staan
in die oes maar waar is hulle wat die oes moet insamel? Dit bring
ons by die gelde vir die onderrig. Wat gaan ons met die kinders doen
wat graag verder wil gaan leer? Chanab wil graag 'n
onderwyseres word en dan skool kom gee op die eiland maar die studies
kos baie geld. Ons het dus besluit om solank 'n studie fonds vir die
Moken te begin waarin ons kan spaar sodat dit moontlik kan wees vir
die gene wat regtig verder wil gaan leer. Die behoefte en uitdaging
om 'n huishouding te begin waarin die kinders kan woon terwyl hulle
hoërskool toe gaan mag dalk moontlik wees. Bid asb vir vrywilligers
met oop harte en gewillige hande wat kans sien vir 'n groep tieners
en dit in 'n vreemde land, in 'n vreemde taal met 'n vreemde kultuur.
Hierdie tyd van die jaar dra die kasjoeneutbome en kan ons elke dag
daarvan eet as jy dit eers gewoond is. Dit was dus kasjoeneut fees
op die eiland. Dit is altyd lekker en ons het dit die jaar
weer baie geniet. Daar word sokker gespeel en die Moken wil volgende
jaar ook self hul eie span inskryf. Dan is daar paal-klim en
paal-geveg waaroor almal mal is. Klomp van die klein Moken seuns het
paal-geveg en het ons gelag! Hulle gee net een hou dan val die ander
seuntjie in die water. Van ons Moken dogters het die eerste aand
kulturele danse uitgevoer en hulle was pragtig. Die keer was daar ook
meer mense wat gehelp het so dit was baie lekker gewees. Na die hele
storie het die organiseerders vir my 'n lekker botel rooi wyn gegee
van Frankryk. Sjoe dit was lekker gewees. Ek hoop om eendag van julle
ook by ons fees te hê. Glo my dit is anders as waaraan ons gewoond
is maar tog baie lekker.
Dan
was hier 'n groep mense wat vir die Moken en die skool 'n klomp boeke
kom skenk het. So is ons toe Moken dorpie toe om dit in my huis te
gaan sit. Terug by die skool wag daar 'n
TV groep op
ons, die keer van Kanaal 3. Toe moes ons weer terug Moken dorpie toe
gaan sodat hulle met die mense kon praat. Groot was my verrassing toe
die Moken nie weg gehardloop nie - selfs die kinders het mooi
gepraat. So ons is weer op TV in April en hulle sal die uitsending
vir ons aanstuur. Sjoe maar dit is nie lekker nie!
Die lekker nuus is dat Jon-hulle kom besoek aflê het. Hulle
was vir amper vier maande in Maleisië gewees en is nou gevestig in
Phuket waar hulle twee dogters skool toe sal gaan. Ek is ook weer
besig om met STAMP (Strategic Missions Partnership) te onderhandel
nadat ons almal uitmekaar is. Ons bid en glo dat ons weer in eenheid
sal kan saam werk in die toekoms. Ons vertrou en hoop dat Jon en sy
gesin goed sal aanpas in Phuket en dat hulle ook daar hulle roeping
in Christus sal voluit vervul.
Dis vir my wonderlik om met julle mee te deel dat dit baie goed gaan
met die byeenkoms van die Moken kerk. Ons kom elke Sondagaand
bymekaar vertel Jesus se stories (gelykenisse). Dit is baie lekker en
die kinders en groot mense sing hulle harte uit. Die ouer kinders kom
ook nou elke Dinsdag en Donderdag aand by my huis bymekaar en hou dan
Bybelstudie.
Die ander dag het die kinders my ook gehelp om die waterput skoon te
maak. Julle sal nie glo wat daar uit gekom het nie.... ! Daarna het
ons 'n baie swaar deksel opgesit sodat dit nie maklik weer oop gemaak
kan word nie.
Dan het die tyd aangebreek om my liewe motorfiets te vervang want
die breek nou al hoe meer en te gereeld om dit betyds reg te laat
maak. Dit vang ons veral in die oggende wanneer ons baie hard probeer
om betyds op te daag vir skool. Dan moet klein en groot maar skool
toe loop want anders gaan ons nooit daar uit kom nie.
Dan het 'n groep kom help om 'n waterpomp op te sit sodat die water
skoonmaak gemaak kan word vir drink en kook doeleindes. Dit help
regtig baie en glo dit, almal ruik skoon beter nou dat die water
skoner is. Dit help ook baie om die verspreiding van wurms teen te
werk.
Daar is so baie wat gebeur en ek wens ek het tyd gehad om dit alles
vir julle neer te skryf.
Weereens baie dankie aan almal van julle wat hier betrokke
is. Weet dat sonder julle die werk nie kan gebeur nie. Dit is waarlik
'n groot voorreg om saam met julle 'n verskil in hierdie mense se
lewens te kan maak.
Mag julle ook die liefde en vrede ervaar wat ons hier van ons Vader
ervaar. En mag julle ook is Sy liefde vir julle groei.
Baie liefde en seën vir julle,
In Pappa.
Philip อำนาจ
Januarie (2558) 2015
Wat 'n voorreg is dit nie om nog 'n nuusbrief te kan skryf met die
wete dat ons Here lewe nie! Ek groet julle hier vanuit Budhistiese
Thailand met vreugde en 'n vaste versekering van 'n Verlosser asook
'n Vader, wat die Almagtige God en Skepper van alle dinge is. Mag
hierdie jaar 'n jaar wees waarin ons net dieper en nader aan ons
onbeskryflike God, Vader, Here, Verlosser, Trooster, Leidsman en
Heilige Gees groei.
Nou ja, my jaar het nog nie begin of geëindig nie. Die hoof rede
is omdat Kersfees nie werklik hier gevier word nie en dat die nuwe
jaar feesviering (Songkran) eers in April gehou gaan word.
Maar sedertdien was hier 'n groep 'The Plan' om te help met
die registrasie van die Moken; daar is verjaarsdag gevier vir
die eerste keer; die groter kinders was Ranong toe vir 'n kamp;
ek het nog 'n visa-run agter die blad; 'n ander groep
het gekom om die Moken te help; en 'n Moken vroutjie is oorlede.
Eendag land hier 'n groep van Chang Mai,
'The Plan', om te kom
help met die registrasie van die Moken. Nou dit is 'n baie goeie
plan maar 'n baie moeilike een. Elke persoon in die Moken dorpie word
ondervra om uit te vind wie hulle oupa en ouma, pa en ma is. Die grap
is dat die meeste Moken nie weet nie want baie is nie deur hulle
regte ouers groot gemaak nie. Dan weet hulle ook nie hoe oud hulle is
nie en waar hulle gebore is nie want hulle trek ook baie rond.
Skielik is daar net twee of drie wat iets weet en hulle word die hele
dag ondervra om die nodige informasie te kry. Boonop was die mense
vaag oor wat hulle presies wil hê en moes ek baie ure spandeer nadat
hulle weg was, om maar net te hoor dat die informasie nie geskik is
nie. Ons moet maar wag en sien of daar iets van dit gaan kom.
In ons Westerse kultuur vier ons ons eie verjaardae elke
jaar. Dit is so vanselfsprekend en soms kan ons afgehaal voel as
mense daai spesiale dag in ons lewens vergeet. Maar het julle geweet
dat baie ander kulture dit nie doen nie en dat daar mense is wat nog
nooit so 'n geleentheid gehad nie? Dit is dan ook die geval met die
Moken - hulle het nog nooit eers daaraan gedink nie. Nou Khay Dam,
een van die seuns wat by my bly, het gesien dat ons Jon se kinders se
verjaarsdae vier en een dag sê hy wil ook 'n verjaarsdag hê.
Ek sê hy moet toe maar 'n dag kies en hy kies toe my verjaarsdag.
Dit werk toe mooi uit dat die skool die Vrydag sluit en ons gaan toe
Ranong toe. Die oggend is ek eers na 'n afskeidsfunksie toe van Woed, een
van ons onderwysers wat 'n verplasing aanvaar het. Toe gaan soek ek
'n plek om koek en geskenkies te koop. Ek kon sien dat dit nog geen
indruk op Khay Dam gemaak het nie totdat ons daai kersies op
die koek begin aansteek... Eweskielik was daar afwagting en
splinternuwe vreugde op daai mannetjie se gesig! Hy was so opgewonde
dat hy nie die kersies dood geblaas kry nie! Die sprankel, die
blydskap, die geluk op die kind se gesig was onbeskryflik. Hy het
seker 'n 100 keer kom dankie sê. Dit was sekerlik een van my
lekkerste verjaarsdae ooit. Daar is nie geld in die wêreld wat daai
geluk en oomblikke kan koop nie. Sjoe dit was onbeskryflik lekker
gewees!
Toe nooi die einste “The Plan” die ouer kinders uit om 'n
kamp in Ranong by te woon. Met groot opgewondenheid is ek saam
met 5 van die eiland se kinders op 'n ski-boot Ranong toe vir die
kamp. Al die Moken kinders van die kinderhuis in Ranong was ook daar.
Daar geland is die Moken in trane want hulle was al 'n vorige keer
daar en dit was nie so lekker vir hulle gewees nie. Maar na hulle al
die vriende en familie gesien het het dit beter gegaan vir 'n ruk. Ek
het die kamp baie geniet want dit het oor kinder-regte gegaan. Dit
het ook die wet van Thailand aangaande kinders in Thailand
verduidelik. So ek het baie geleer, maar jammer om te sê die kinders
het dit nie so baie geniet nie. Ek was baie hartseer as ek na die
kinders gekyk het wat van die kinderhuis af kom. Daar is 'n
rebelsheid onder hulle en hulle doen net-net genoeg om nie in erge
moeilikheid te kom nie. Die houding het later na ons kinders toe
oorgespoel maar gelukkig het ons net een aand daar oorgeslaap.
Voor ek my oë kon uitvee is drie maande verby en moes ek weer vir my visa-run Maleisië toe gaan. Dit was sommer 'n baie lekker tyd waarin ek vir Jon en sy gesin ook in Penang ontmoet het. Sy twee dogters geniet die skool sommer baie met al die vriende wat hulle daar het. Alayssa is baie opgewonde want daar is Thai kinders ook in die skool en sy kan met hulle praat. Denna is nou 'n pragtige groot meisie en doen sommer baie goed. Die gesin kom so teen die einde van Maart terug Thailand toe en gaan dan in Phuket vestig waar die kinders skool toe kan gaan. Dan was dit weer lekker om met al my ou vriende te kuier en gesels en harte te deel. Pappa het waarlik 'n wonderlike groep mense daar vir my bymekaar gebring om Sy liefde te ervaar. Dit is altyd 'n vreugde om soontoe te gaan en so welkom en verwelkom te word.
Ek was net terug op die eiland toe nog 'n groep hier aangekom
het wat die Moken ook wil help. Dit was 'n groep studente wat die
geskiedenis van die Moken wil verhaal. Sjoe dit was lekker om al die
stories te hoor! Kyk, party van die Moken was op 'n stadium seerowers
gewees en is deur die weermag onder beheer gebring - baie van die
ouer mense kan dit nog goed onthou. Wat ek die meeste van hierdie
groep waardeer het was dat daar vir die eerste keer mense was wat my
presies kon vertel wat om te doen en watse inligting om te kry om die
Moken te help registreer. Nou verstaan ek waarom ek baie inligting in
die begin gekry het wat glad nie gehelp het nie. Daar is nog steeds
'n klomp werk wat gedoen moet word maar ek weet nie wanneer ek daarby
gaan uitkom nie.
Dieselfde tyd wat die groep hier was is een van die Moken vroue,
Thin oorlede. Sy was nie baie oud nie maar heeltemal
gestremd. Sy kon nie praat nie en was baie klein. Ek het vir haar
rehydrate gevat want sy het erge
diaree gehad en gesê as sy nie beter word nie moet ons haar na die
eiland se kliniek toe vat. Die volgende dag sê haar ma vir my sy is
beter en loop rond maar wil haar die Sondag Ranong toe vat want Thin
wil nie kliniek toe gaan nie. Sondagoggend is sy toe oorlede nadat sy haar ma geroep het. So begin ons met die
begrafnis reelings en die Moken het waarlik mooi saam gewerk. Daar is
vir drie aande deur gedans in die kerksaal om haar te groet en met al
gedoente reg onder my venster het ek maar min geslaap. Die laaste dag
is die kinders ook nie skool toe nie sodat hulle ook aan die
begrafnis kon deel neem.
Tydens die begrafnis het die Moken ons kragopwekker gebruik. Die
laaste aand skrik ek wakker en weet iets is verkeerd. Die ligte brand
maar die kragopwekker is doodstil. Ek spring op en lig met my flits
waar die opwekker moet wees en dis skoon veld. Ek vra waar die
opwekker is en hulle antwoord doodluiters dis op die ou plek maar toe
ek daar flits sien hulle ook dit is weg. Later sê een dat dit op die
boot is wat die goed vir die brug-bou bring. En jou waarlik, daar is
die opwekker op die boot. Siende dat die Moken dit gebruik het vra ek
2 ouens om dit te gaan terug haal. Die opwekker was nog nie eers op
sy plek nie of ek kry moeilikheid van 'n Thai man wat in ons dorpie
woon. Hy skel my dat ek die opwekker gevat het! Op die stadium
verduidelik ek dat in my land is dit diefstal as iemand jou goed vat
sonder om te vra. Sumier sluit ek toe maar die opwekker weg. Die
volgende dag moet Thin begrawe word op 'n ander eiland wat 'n
begrafplaas is. Ons is hier weg met twee bote en na meer as twee ure
land ons daar aan. Toe moes ons self die gat grawe en die kis daarin
begrawe. Ons lees saam uit die Bybel en bid saam en is weer met die
bote terug eiland toe. So 'n Moken begrafnis is waarlik iets om te
beleef en wat 'n ervaring. Dit is net wonderlik om te sien dat hulle
begin besef dat daar Hoop is en dat die hoop ons Here is.
Soos julle hoor word ek lekker besig gehou en bring elke dag 'n nuwe ervaring. Ek kan nie genoeg dankie sê aan almal van julle wat dit moontlik maak vir my om hier te kan wees nie. Dit is waarlik 'n onbeskryflike voorreg om hier te kan wees. Ek weet dat dit presies is waar Pappa wil hê ek moet wees. Hy het my so ongelooflik lief vir die mense gemaak en Sy liefde dryf en dring my om dinge te kan doen wat andersins onmoontlik sou gewees het. En weet julle is almal deel daarvan. Dit is 'n vreugde om ons Here hier in Thailand onder die Moken te kan dien.
In Pappa
Philip
อำนาจ
Junie - Desember (2557) 2014
Sjoe julle wat 'n gejaag! Elke maand is 'n warrelwind en nou is dit
al amper die einde van die jaar. Baie jammer vir die laat brief maar
ek wil julle graag 'n wonderlike feestyd toewens voor die nuwe jaar!
In die laaste paar maande was ek vinnig in Suid-Afrika gewees;
met die terugkom was daar 'n verrassing; die nuwe
skoolprogram; 'n troue; Jon-hulle het verhuis; en
kersfees.
Terwyl dit nog monsoon seisoen is, bevind ek my in Oktober oppad
Suid-Afrika toe. Man dit was waarlik lekker om almal weer te
sien. Soos gewoonlik wil die liggaam nie lekker met die skielike
vreemde kos saamwerk nie en het die droë ysige lug my neus gebrand
totdat ek weer oppad was. Dit is waarlik 'n interessante ervaring om
soos 'n vreemdeling in jou eie land te voel. Gelukkig het ek
wonderlike vriende wat dinge baie makliker maak. Dan het ek ook baie
lekker op die plaas gekuier. Dit is altyd lekker om so tyd saam met
geliefdes te spandeer. Maar voor ek mooi besef wat my tref is ek weer
terug hier in Thailand na twee weke.
Man wat 'n onaardige verrassing toe ek hier land. Ek het net
aangepas by die koue klimaat in Suid-Afrika en nou moet ek weer by
die hitte hier aanpas. Ek het permanent by die waterkan gestaan en
water drink en was vir drie weke moeg en lam. En daars ek plat met
waterpokkies wat ek in Suid-Afrika gekry het. Darm jeuk dit nie so
erg soos die sandvlieë byte nie. Daar was nog so twee weke voor die
skool weer begin het om in pas te kom maar nog nooit was dit so swaar
om weer aan te pas in Thailand nie. Ek gaan toe saam met drie Moken
kinders Ranong toe waar hulle aan 'n Thai-skoolkompetisie deel geneem
het. Sjoe dit was pret want al die seuns het daar by ons in die
Ranong woonstel kom bly. Man het hulle gespeel en dit geniet. Vir 'n
klein skooltjie soos ons sin het ons glo glad nie sleg gevaar nie.
Die volgende week begin die skool en tref die nuwe skool program
ons voluit. Die regering het besluit dat almal (veral die kleiner
skooltjies) nou onderrig van 'n TV skerm gaan ontvang. So daar is 6
nuwe Samsung plat plasma 32 duim skerms geïnstalleer. Nou kyk elke
graad van 8h30 tot 14h30 TV waarvop hulle onderrig ontvang....
Nou weet julle hoe wonderlik kinders is: die wat wil leer doen baie
goed maar die meerderheid kyk TV. Ongelukkig werk dit glad nie vir
die Moken nie want die meeste van hulle leer nog lees en skryf en
maak nie kop of stert uit van wat gebeur nie. Nou help ons die
kinders die hele dag voor die TV skerms en dan probeer ek hulle leer
lees en skryf in die middae na die tyd.... Ek was nog nooit so moeg
in my lewe nie. Soms voel dit vir my of ek nie eers meer een is met
my eie liggaam nie. Dan help die 'winter' hitte ook nie - dit is nou
so warm deur die dag dat as jy tande borsel in die aand is die
tandepasta so lou warm. Om nie eers van die sjampoe te praat nie. Die
aande is weer koud met gevolg dat almal hier verkoue het.
So tussen dit alles deur
besluit twee tieners hulle wil trou. Die een Vrydag kom Khay
Dam se ma hier aan en
sê
dat
sy ouer suster met 'n jong seun getrou het. Nou sy is 16 jaar oud en
hy ook omtrent dieselfde. Sy was laas jaar nog oop skool. Ek gaan
praat toe met die twee en raas ook sommer so bietjie want daar was
laas ooreengekom met die ouers dat die kinders eers toestemming van
die ouers moet vra en dan sal daar eers 'n seremonie wees voor hulle
kan saam bly. Die ouers vra toe of ons nie tog 'n seremonie kan hou
nie waar daar 'n kerkdiens is, 'n ete en dan lekker saamdans. Dit is
ook toe besluit dat drank nie by hierdie seremonie pas nie want hulle
ken mos nou die Here en oor jou voete val by so 'n geleentheid is
onvanpas. So hou ons 'n diens waarin ons die Moken wys om voor die
Here te kom staan dat Hy hulle as 'n paartjie seën wanneer hulle
voor Hom eg aan mekaar belowe. Ek hoop dat die Moken dit sal aanneem
en dit later self sal doen in die toekoms, want soos die mens se wil
werk, gaan ons almal moet wag en kyk wat gebeur as die volgende
paartjie besluit om te trou. Ek wil graag by sê
dat ons dit in Moken kommunikeer sodat hulle dit waarlik kan
verstaan en hopelik self wil doen.
Dan is Jon en Cally en
hul dogters sak en pak hier weg. Hulle het eers vir 4 maande terug
Maleisie toe gegaan waarna hulle in Phuket gaan vestig. Hulle kinders
is nou al groot en gaan daar na 'n internasionale skool toe. Jonathan
wou van die begin af graag die ondervinding opdoen van voorlyn
sending sonder om self 'n sendeling te wees, eerder 'n koordineerder.
Hy wil graag nou meer 'n onderrig rol van sendelinge inneem en glo
vir my, hy is een van die heel beste mense daarvoor. Sjoe dit was 'n
wonderlike tyd saam met hulle hier en ons het baie saam geleer, gelag
en gehuil. Ek is maar lekker hartseer dat hulle weg is maar ons weet
dit is die beste vir almal.
Dan wil ek net aan almal van julle 'n wonderlike feestyd
toewens! Mag julle 'n wonderlike tyd van rus en vrede ervaar. Mag
julle waarlik die liefde en nabyheid van ons Vader ken in die feestyd
en weet dat Hy altyd daar dig by julle is.
Baie dankie vir 'n wonderlike jaar hier in Thailand. Vir al julle
liefde en bystand en raad en ondersteuning. Hierdie was 'n
uitmuntende jaar en dit was moontlik gemaak deur julle almal. Ek sien
uit na nog 'n wonderlike jaar en 'n Koningkrykspad saam met julle.
Baie liefde en vrede van Hom oor wie dit alles gaan
In Pappa,
Philip อำนาจ
_______________________________________
April/Mei/Junie (2557) 2014
Kan dit wees - die helfte van die jaar
is reeds verby en ons jaag nog steeds voort met die lewe asof daar
geen einde aan tyd is nie. IS DIT waarlik waarvoor ons hier is? Ek
groet julle met 'n hart vol liefde en vrede van Hom WAAROOR DIT ALLES
GAAN. As ek terug dink het daar so baie gebeur sedert my laaste
nuusbrief en wil ek graag dievolgende met julle deel: 'n groot groep
van Suid-Afrika het kom
huis bou hier by ons; dan het die skool
weer begin; en waaroor
gaan dit nou eintlik alles?
Ons twee maande skoolvakansie was
goed aan die gang toe 'n groot uitreik groep
van Suid-Afika hier aankom
om te kom help huis bou. Ons het gekuier en gesels en gebou en
gewerskaf. Daar is kos gemaak en met die kinders sokker gespeel,
geswem en toe van voor af begin. Man dit was lekker gewees! Dit was
nie alles sonder voorval nie want een van ons spanmaats het in die
modder vas gesit, ander het weer 'n paar snywonde opgedoen en die
meeste is deur allerlei goggas gebyt. Dit het almal net laat besef
dat hierdie plek baie onskuldig lyk maar nie sonder handskoene
aangepak kan word nie. Nog was dit nie die einde nie. Daar is 'n arm
gebreek toe 'n trap mis-getrap was en met die hulp van die span en
Jonathan & Cally, is sy baie goed ondersteun en versorg. Sy is
uiteindelik in Phuket geopereer en vandaar saam met die groep weer
terug SA toe.
Ek glo dat almal ietsie van Pappa se
liefde ervaar het. Daar was eenheid en samesyn wat soveel beteken
het. Deurdat die span baie goed voorberei was, was die Moken baie
beindruk dat die span so vinnig en effektief saam gewerk het. Hulle
het elke aand wanneer die span hier weg is (moeg en vuil) kom kyk en
dan net gesê
dit is baie mooi. Toe die huis eers klaar was het 'n groep vroue kom
besoek aflê
en lekker gelag. Ek vra toe waaroor hulle so lekker lag? Hulle sê
toe dit is baie snaaks dat ek, die westerlig, in 'n Moken huis bly en
die Moken in die westerling se huise bly. Hulle bly mos in
steen-huise wat vir hulle destyds gebou was, maar ek bly in 'n hout
huis!
Sjoe mense, maar ek bly nou lekker in
my huis. Daar is nie 'n dag wat ek nie dankie sê vir die huis nie.
Dit is nou so lekker om al die kinders hier te kan hê wanneer dit
reën en ons nie skool toe kan gaan nie. Dan help ek hulle sommer
hier met hul huiswerk. Nou is daar ook plek oom lekker fliek saam te
kyk en die grootmense het nou meer vrymoedigheid om by my te kom
inloer en kuier. Ek maak nog steeds Saterdae kos vir die kinders en
dan eet ons saam hier in die huis. Die huis is nou 'n lekker vegader
en kuierplek waar ons saam dinge kan doen. As die geraas te veel
word kan ek na die boonste leefarea gaan en hulle vanuit die kombuis
sien. Ek is nog steed besig om al die klein afwerkings te doen maar
dis heerlik om in Pappa se huis te bly!
Die skool seuns kom slaap soms oor en
dan is hier 11 kinders op die dek – ek het mos my eie slaap-dek
nou. Hulle geniet dit sommer baie en ek ook. Ek
kan net weereens vir almal van julle baie, baie dankie sê.
Ek wil darm net ook noem dat ons die jaar geweldige storms het. Ons
gaan drie super getye hê die jaar en nie net een soos gewoonlik nie.
Maar deur dit alles staan die huis stewig en bly ons droog.
Dan het die nuwe skooljaar
deur al die opwinding begin.
Die kinders het met lang gesigte skool toe gegaan en gesê dat dit
baie onregverdig is dat hulle skool toe moet gaan terwyl ons klomp
nog lekker huis bou! So het die nuwe skool jaar vir hulle begin met
nuwe uitdagings en veranderings. Ek is meegedeel dat daar nou genoeg
onderwysers gaan wees en dat ek nie meer hoef uit te help nie. So vir
die eerste twee maande het ek nog daagliks skool gehou toe die laaste
onderwyser opdaag. Skielik sit ek sonder iets om te doen! Ek help nog
steed nou en dan uit by die skool al is hier 'n vroutjie van
Australië wat vir 'n jaar die kinders kom Engels leer. In my hart is
ek gelukkig dat die kinder goeie onderrig kry en dat hulle ook 'n
goeie geleentheid het om Engels te leer. My grooste werk is nou om
seker te maak hulle kry hul huiswerk onder die knie en dat die
kinders wat met Thai lees en skryf sukkel, gehelp word. Die skool is
nou maar eenmaal nie ingerig om ander kultuure buiten Thai volledig
te akkomodeer nie. Ek moet sê ek weet nog nie wat dit vir my inhou
nie. Dit is nou maar twee weke en al die moontlikhede is wonderlik.
Ek het meer formeel begin Moken leer en het nou tyd om saam met die
grootmense op die boote uit te gaan en met hul 'n disippelskap-pad te
stap.
Ek wil graag iets aan julle skryf wat ek besig is om te ervaar. Dit is nie 'n teologie of iets wat met die verstand uitgewerk kan word nie maar eerder iets wat met die hart betrag kan word. Dit beteken ook nie dat dit met 'n mens se emosies waargeneem kan word nie maar eerder met die oë van ons harte. Om die waarheid te sê, dit is amper onmoontlik om dit in woorde te probeer beskryf, maar ek gaan dit my beste poging gee. En dit is die een vraag, waaroor gaan dit nou eintlik?
Ek het al heelwat hieroor geskryf en
julle sal miskien kan onthou dat ek hieroor praat. Waaroor gaan die
lewe? Is dit om hoofsaaklik gered te word sodat ek 'n goeie lewe kan
lei, 'n sukses te maak van my beorep, getrou kerk toe te gaan en my
geldjie gee, tussendeur mooi ideale te verwesentlik om uiteindelik
hemel toe te gaan (nadat ek miljoene gemaak het)? Ons weet wat ons
Here Jesus gedoen het vir ons aan die kruis en ons weet dat die
Heilige Gees binne in ons werk maar het jy al agtergekom dat ons kern
eintlik bittermin oor die jare verander het en al doen ek aan die
buitekant goeie dinge, moet ek aanhou probeer goed bly aan die
binnekant (waar gelukkig niemand kan sien nie). Wanneer ons na Jesus
en sy dissipels kyk en wat deur hulle vermag was en dan na onsself
kyk, moet ons probeer antwoorde en verskonings kry want daar is geen
vergelyking nie.
Kyk maar vir ons hier op die
sendingveld. Dit vat nie lank om tot die slotsom te kom dat daar niks
is wat ons hier kan doen of sê
om die mense te probeer oortuig van wat Jesus vir ons en vir hulle
gedoen het nie. Hoe maak ons 'n onsigbare Gees sigbaar? Deur meer te
bid, meer te vas, meer bybel te lees, meer te glo? Deur te preek en
te getuig en te sing om dan maar net te hoor dat hulle steeds eerder
hulle eie geestelike -werklikheid verkies. Die punt is hoe maak 'n
mens God dan 'n werklikheid vir ander mense? Hoe kry 'n mens die
onsigbare God so vêr om te beweeg en Homself aan die heidene (en
afvallige stadsjapies) te openbaar?
As ek die Woord reg lees is God se
maatstaf Christus maar dan is die vraag, wat het Jesus vir ons kom
wys? Alreeds weet ek dat daar in myself niks is wat aan Christus
gelyk is nie. Al kry ek die uiterlike reg bly my natuur onderhewig
aan 'n gevalle staat. Maar ons Verlosser het egter vir ons iets kom
wys wat vêr groter en meer as dit alles is. Hy het vir ons kom wys
wie God ons Vader is - maar die geheim is egter dat Hy nie met ons
mens se kennis en verstand ervaar kan word nie maar met ons gees en
hart. God is Gees en het eenheid met ons gees. Wat het Jesus waarlik
vir ons kom wys en leer? Hy het vir ons 'n Pappa kom wys en wat dit
beteken om Sy seun en dogter te wees. Agv sy liefde vir Sy Pappa ,
het hy sy lewe vrylik gegee, sodat hy almal en alles in Homself kan
vereenig en dan versoen met sy Vader – en Hy is God, die Almagtige
Skepper van Hemel en Aarde. Daar is geen ander God buiten Hom nie en
Hy is my en jou geliefde Pappa!
Betrag dit na - nie soseer met jou
verstand nie - want dit is geheel en al te klein om te begryp- maar
laat Pappa eerder toe om Sy liefde in jou hart uit te stort sodat jy
self kan ervaar wie Pappa is! Sy liefde alleen kan die onheilige
vrees wat maak dat ons van Hom weg vlug, uit ons harte dryf. En hoe
meer ons van Sy liefde in onse harte ervaar, hoe meer begin die
wêreld dit te sien en wil hulle ook die Liefde hê wat binne ons is.
So kan ons nie anders as om soos ons Pappa te word nie. Maar ons moet
eers self ervaar wie ons Pappa is. Weet en vertrou ook dat Hy al die
tyd, gedult en liefde het om jou self te wys en te leer.
My uitdaging aan jou is om Hom te vra
wie jy in Sy oë is. Ons en ons disfunksionaliteite skrik Hom nie af
nie want Hy het klaar daarmee afgereken in Jesus. Om die waarheid te
sê, Hy wag met opgewondenheid vir jou om Hom te ontdek in elke area
van jou lewe! Ek waarborg jou dat Hy jou gaan verras..... Daar is
net nie woorde om Hom te beskryf nie en dit is maar net die klein
bietjie wat ek van Hom hier ervaar. Hy is oneindig meer as al ons
verwagtinge en eie denke. En moenie bang wees dat Hy jou gaan uithaal
nie, al doen Hy dit gaan jy goed voel daaroor en vol van Sy lewens
vreugde wees! Ongelukkig is dit ons eie (en ander) se vooropgestelde
idees en voorskrifte oor wie ons dink en redeneer God is, wat Hom nie
toelaat om Sy volheid aan ons te openbaar nie. Man, maak jou hart wyd
oop sodat Hy Sy liefde daarin kan uitstort en Homself aan jou kan
openbaar!
As my skrywe nie vir jou werk nie, is
ek baie jammer, maar die vreugde en samesyn in Hom is net te groot om
dit nie met julle te deel nie! Ek getuig met vrede in my hart aan
julle.
Baie dankie vir al julle liefde en
gebede. Baie dankie dat deur julle getrouheid en ondersteuing ek
groot waarhede kan ontdek en so Sy liefde aan die Moken kan uitleef
deur al die beproewinge en opdraentes.
Vrede en liefde van Hom,
In Pappa,
Philip
อำนาจ
_____________________________________________________________________
Januarie - Maart (2557) 2014
Ek onthou nog, my ma het altyd gesê dat sy elke jaar saam met ons eksamen skryf. Nou ek het nooit mooi geweet wat sy bedoel het nie tot die jaar, waar die klas wat ek onderrig het, hulle regerings eksamen geskryf het nie. Kyk ek het saam met daai kinders voorberei vir die eksamen en ons kon later niks meer in ons koppe kry nie en toe breek die groot dag aan. Die eksamen bestaan uit twee dele. Die eerste deel skryf die kinders Thai, wiskunde en wetenskap. Die tweede deel is eers 'n week later waar die kinders se lees vermoë getoets word. Twee onderwysers van 'n ander skool kom om die eksamen te neem waarna dit antwoordstelle dieselfde dag nog na Ranong gestuur word en dan na Bangkok. Ons wag ongelukkig nog steeds vir die uitslae. Ek het na die vraestelle gekyk en moet sê dit is baie moeilik. Die arme kinders is maar net in graad 3. Die grap van die jaar is dat die hele land gewoonlik die eksamen pluk. Dit is ook geen wonder nie, die helfte van die werk is nooit eers behandel of in die boeke nie. Die goeie nuus is dat al my kinders die tweede deel van die eksamen geslaag het. Almal kan lees en verstaan darem wat hulle lees ook. Die seun wat die swakste gedoen het 75% gekry. Sjoe maar ek is trots op die kinders.
_____________________________________________________________________
Januarie - Maart (2557) 2014
Ek bid julle die liefde en vrede toe van Hom waaroor dit alles gaan.
Daar is niemand soos Hy nie en daar is geen groter vreugde as om Hom
te ken nie. Die ewige lewe is waarlik om die Vader te ken en Hom wie
Hy gestuur het. Ek groet julle met hierdie woorde van vrede en hoop
dat dit waarlik waar sal word in almal se lewens. Sjoe vriende, wat
'n jaar en drie van die maande is al verby. So ons was op die
eiland Koh Had Sai Dam vir iets soos die Voortrekkers, dan het
ons 'n sport dag op die eiland Koh Chaang gehad, ons het die
regering se eksamen geskryf, ons skool is deur 'n
verteenwoordiger van die minister van onderwys besoek, van die
Ranong kinders het weg geloop en wat 'n week saam met
Pappa!
Ons het nog nie eers die nuwe jaar gehaal nie of ek en twee Moken
kinders is na Koh Had Sai Dam vir iets soos die Voortrekkers. Man
was dit nou vir jou lekker gewees. Ons eerste dag het ons gestap en
het die kinders na die tyd tente opgeslaan. (Die tent is 'n seil oor
'n bamboes paal getrek.) Die tweede dag was dit hindernis en het die
kinders dit baie geniet. Die aand het ons konsert gehou en was die
seuns van ons eiland Zoeloes gewees. Die arme kinders is swart
gesmeer met houtskool en het net hulle onderbroeke met blare rokkies
aan gehad. Man hulle het oulik gelyk. Ongelukkig vir my wou my foon
nie in die aand foto's neem nie. Man dit was iets om te sien. Die
gemors was net om die kinders weer skoon te kry na die tyd. Hulle het
eers in die see gaan swem, maar dit het amper niks gehelp nie. Na die
uitstappie het ons dam drie dae van skool afgehad voor ons weer met
die nuwe jaar begin het.
Omtrent twee weke die nuwe jaar in, net na dat ek terug was van my
visa-run, is ons na Koh Chaang toe vir 'n sport byeenkoms. Nou
ons ou skool is gewoonlik heel laaste en die kinders het sommer met
die intrap sal al klaar besluit ons gaan weer soos die vorige jare
alles verloor. Ons sokker span het die kleinste spelers en het 'n pak
slae van die jaar gekry en toe is die moraal van die klomp eers laag.
Ek raas toe met almal en sê as hulle so negatief is gaan ons
verseker alles verloor, hoekom probeer hulle nie net om dit te geniet
nie. Hulle belowe toe om te probeer en toe gebeur daar 'n wonderwerk.
Een van die voorskoolse laaities wen die 50 m. Ek neem die kans waar
en praat die Moken moed in om ook te probeer. Sjoe julle, toe
hardloop daai kinders hulle harte uit. Ons wen wedloop na wedloop.
Khay Dam hardloop later sommer in drie ouderdom groepe ouer. Dit het
so oulik gelyk om die klein outjie te sien hardloop teen die reuse en
stof in hulle oë
te skop. Ons skool het toe baie beter gedoen as gewoonlik en
die klomp is vrolik en vol vreugde terug Koh Phayam toe om die goeie
nuus aan almal te vertel.
Ek onthou nog, my ma het altyd gesê dat sy elke jaar saam met ons eksamen skryf. Nou ek het nooit mooi geweet wat sy bedoel het nie tot die jaar, waar die klas wat ek onderrig het, hulle regerings eksamen geskryf het nie. Kyk ek het saam met daai kinders voorberei vir die eksamen en ons kon later niks meer in ons koppe kry nie en toe breek die groot dag aan. Die eksamen bestaan uit twee dele. Die eerste deel skryf die kinders Thai, wiskunde en wetenskap. Die tweede deel is eers 'n week later waar die kinders se lees vermoë getoets word. Twee onderwysers van 'n ander skool kom om die eksamen te neem waarna dit antwoordstelle dieselfde dag nog na Ranong gestuur word en dan na Bangkok. Ons wag ongelukkig nog steeds vir die uitslae. Ek het na die vraestelle gekyk en moet sê dit is baie moeilik. Die arme kinders is maar net in graad 3. Die grap van die jaar is dat die hele land gewoonlik die eksamen pluk. Dit is ook geen wonder nie, die helfte van die werk is nooit eers behandel of in die boeke nie. Die goeie nuus is dat al my kinders die tweede deel van die eksamen geslaag het. Almal kan lees en verstaan darem wat hulle lees ook. Die seun wat die swakste gedoen het 75% gekry. Sjoe maar ek is trots op die kinders.
En of die kinders nie genoeg gehad het vir die jaar nie, word ons
skool nog ook deur die verteenwoordiger van die minister van
onderwys besoek. Man maar was dit nou vir jou 'n interessant
ondervinding. Kyk elke bossie en skewe dingetjie is reg gemaak. Daar
is groot plakkate gemaak van die man met woorde van verwelkoming op.
Die skool het 'n metamorfose ondergaan en daar was blomme en
rangskikking. Die lekkerste ete is voorberei en 'n hele groot drom
vol roomys is gekoop. Die arme man het hom vrek geskrik toe ek met
hom Thai gepraat het. Hy het seker drie keer vir my gesê hoe
wonderlik dit is dat ek so mooi duidelik kan Thai praat. Hy het my
ook voor almal bedank vir die werk wat ons doen. Hy was veronderstel
om die Moken dorpie ook te gaan besoek maar na hy gehoor het hoe mens
daar kom, het hy van plan verander. Sjoe en het ons hard gewerk om
die dorpie skoon te maak. Ek moet sê ek was maar baie verlig dat hy
het nie gegaan nie, want ek dink sy mooi klere sou baie vuil geword
het.
Gedurende dit alles kom daar 4 van die kinderhuis Moken kinders daar
aan. Eers dog ek hulle is net daar vir 'n kuier maar vind toe later
uit hulle het weggeloop van die kinderhuis daar in Ranong. Soos
wat ek ondersoek instel kom ek agter dat die kinders baie bang is en
dat hulle nie waarlik met ons wil praat oor wat gebeur het nie. Later
hoor ek dat die een seun 'n onderonsie met die hoof van die
kinderhuis gehad het en toe die ander drie aangemoedig het om saam
met hom weg te loop. Glo het hy in die meisies se deel van die
kinderhuis ingegaan sodat sy sussie die hare onder sy arms kan
uittrek. Dit is glo 'n ou gewoonte van hom, maar die keer is hy
uitgevang deur die hoof. Toe gebeur daar iets tussen hom en die hoof
en hy is daar weg. Ek moedig die kinders toe aan om terug te gaan en
ten minste hulle eksamen te skryf. Ons kan daarna rustig gaan sit en
praat met die betrokke persone. Maar elke keer as ek dit noem is daar
trane en net die woorde dat hulle nooit weer terug gaan nie. So bly
hulle toe vir 'n hele week hier.
Die volgende Sondag kom ons terug in die dorpie van die 'cashew-nut'
fees om uit te vind dat van die kinders weg gevat is deur vier mans.
Die een dogtertjie het weggehardloop en een seun het by sy ma gaan
skuil. Die ander twee is glo daar weg met trane en is gedreig dat
hulle baie geld gaan moet betaal as hulle nie terug gaan nie. Die
hartseer vir my van dit alles is dat die Moken baie bang is vir die
mense wat dit gedoen het en dat hierdie mense ook gelowiges is. Die
nuus wat rondloop op die eiland is dat die Moken gekul is om
Christene te word. Daar was glo huise en bote aan hulle gegee as
hulle Christene word. Die goeie Nuus wat ons veronderstel om uit te
drae aan die wêreld, is op die einde nie meer sulke goeie nuus hier
op die eiland nie. Die mense wat aan ons hulle siening gedeel het,
het darem gesê dat hulle ons nie onder dieselfde kam skeer nie en
dat dit wat ons nou doen 'n groot uitdaging en inspirasie vir almal
op die eiland is. Dit bly net nog steeds seermaak dat ons nog glo,
ons die liefde van ons Vader met geweld en intimidasie kan probeer
uit drae aan die wêreld.
Nou dit alles gesê moet ek ook sê dat ons almal baie foute maak
hier op die sendingveld en dat ons almal skuldig staan aan die
verkeerde uit drae van die liefde van ons Vader. Sien ons kan net dit
van Hom aan ander gee wat ons self van Hom ontvang het. Met die wete
het ek toe besluit om 'n week af te vat en so bietjie tyd met ons
Vader te gaan bestee. Om die waarheid te sê daar is nie woorde
om die week reg aan te doen nie. Alles het verander en tog is niks
anders nie. Alles is nuut en tog is daar niks nuuts nie. Om dit die
beste te kan probeer beskryf is dat die posisie van waaruit ek dinge
sien en waarneem geskuif het van myself tot vanuit 'n plek vanwaar self nie meer is nie, want self kan nie daar bestaan nie. Die week was
'n week waarin ek alles wat ons gewoonlik doen stop doen en stil wag
op Hom. Nou die eerste dag of so was al wat vir my gewag het moegheid
en het ek 'n hond uit 'n bos geslaap. En toe daar wonderlike
versekering dat Hy altyd daar is en my nooit sal verlaat nie. Al hoor
en ervaar ek Hom glad nie, die waarheid is, Hy is daar, by my, altyd
en toe stilte.
Dit wat daarna gebeur het, sjoe, elke liewe ding wat my kon aankla
het gekom en my in 'n hoek in gedryf tot dat ek self moes herken dat
ek skuldig is. Later was dit so intens dat ek nie meer geëet het
nie. Wel ek kon nie, ek was te besig om al die swart wolwe te probeer
aanvat wat my aangekla het. Dit het my by 'n plek gebring waar ek
duidelik kon sien wie ek is en wat ek is. Ek het later net uit
geroep, is daar dan nog enige hoop vir ons! Maar nog was dit nie die
einde nie. Die laaste sessie van die aanklaers het almal gelyk gekom.
Dit was soos 'n storm see met golwe wat 10, 20 meter hoog om my, wat
probeer om my onder te kry en dood te maak. Op die punt het ek geen
hoop meer vir myself gehad nie en het ek na die Here uitgeroep dat
dit beter vir my en die wêreld sou wees as Hy my maar kom haal. Maar
daar was geen woord, niks van Hom nie, net die vae herinnering dat Hy
my nooit sal verlaat nie en die klein gedagte was al wat oor was. Toe
kom Hy en lig my bo die golwe uit en die geweldige storm word 'n
harde rots onder my en Hy is daar. Al die wolwe en duiwels is onder
Sy voete vermorsel. Op die plek stap jy saam met Hom na al die wolwe
in my lewe en Hy kom en spreek die waarheid in die seer. Totdat jy
weet dat Hy die waarheid is. Hierdie is die mees skrikwekkende pad
wat ek nog ooit saam met Hom gestap het.
Ek het nie geweet of ek wil huil of wil bly wees oor dit wat daar
gebeur het nie. Maar wat daarna gebeur het maak alles die moeite
werd. Hier het Hy gesê dit is genoeg vir nou en Hy het gekom en iets
van Sy liefde aan my openbaar wat ek nie geken het nie. Wel ek kon
ook nooit nie want dit wat in my was het my daarvan weerhou. Pappa
het gesê dat die hele doel van my kon na Thailand toe was om my op
die punt te bring en dat Hy nou aan my twee keuses gee. Die een is om
terug te gaan RSA toe en die ander is om aan te bly by die Moken. Ek
het toe geantwoord dat ek die een kies waarin ons verhouding die
meeste gaan groei. Pappa het duidelik laat blyk dat altwee dieselfde
gewig drae in die groei van ons verhouding met mekaar. Ek moet sê op
die punt is daar geen begeerte na een van die twee in my hart nie. Jy
staan geheel en al neutraal. Ek vrae toe in watter een die liggaam
'kerk' die meeste baat by gaan vind. En duidelik wys Hy dat dit by
die Moken gaan wees, maar selfs dit het niks in my wakker gemaak nie.
Toe sê ek aan Pappa ek kies die plek waarin Sy Naam die meeste
verheerlik gaan word, want dit gaan nie oor my nie en die liefde wat
Hy aan my gewys het, daar is nie woorde om dit eers te begin beskryf
nie. Gaan dan terug na die Moken toe en wees wie jy is was Sy
antwoord aan my.
Dit is so belangrik om te sien dat Pappa nie wil hê ons goed vir
Hom moet gaan doen nie maar om net te wees wie ons is. Ek bid dat ons
Here ook aan julle sal openbaar wie ons is, want sonder daai
versekering is ons niks en as ons niks is nie gaan ons ook niks wees
van Hom waar ons ook al gaan nie. Dit was baie duidelik dat ek nie
die proses waardeur ek gegaan het aan mense moet deel nie en ook nie
alles wat met my daar gebeur het nie. Hierdie is nie 'n formule nie
en gaan anders wees met elke persoon. Al wat ek wil sê voor ek
afsluit is dit, as die laaste deel te erg was vir jou is, vergeet
daarvan, dit was nie vir jou bedoel nie. As julle dink ek probeer my
self iets maak, inteendeel ek is minder as 'shit'
werd in my eie oë, ek het
gesien wie ek is. Daar is geen hoop in my of myself nie, maar in Hom,
alle hoop, alle lewe, alles! Hierdie is meer van 'n aanmoediging aan
die wat ook soos ons besluit het, om saam met Hom die pad te stap.
Baie liefde en vrede vir julle
van Hom oor wie dit alles gaan. Dankie vir al julle liefde, gebede en
ondersteuning. Weet dat sonder julle dit nie moontlik is om die pad
saam met Hom te stap nie en oor julle gehoorsaamheid aan Hom, raak Hy
die nasies aan.
In Pappa,
Philip อำนาจ___________________________________________________________________
Okt/Nov/Des (2556) 2013
Nee
kyk, die jaar is al weer op sy rug en dit voel net soos gister wat ek
laas aan julle geskryf het! Ek hoop dit gaan sommer baie goed met
julle almal en dat julle waarlik die liefde en genade van ons Vader
uitlewe. Sjoe, maar daar gebeur so baie dat ek amper nie weet waar om
te begin om alles te probeer vertel nie. My laaste visa
run
met die skool se brief en die tydjie in Maleisië,
wat ons sien en hoor nou vorentoe
gaan gebeur,
Loy Kratong was
wonderlik lekker, die onverwagse
oproep,
die Moken word
opgeroep
en ons het ook kersfees
gevier.
Met
my Oktober visa run
na Maleisië
was
ek amper in die moeilikheid omdat die owerhede vir my gesê dat hulle
nie meer die brief van die skool kan aanvaar as ek nie 'n bewys het
dat ek by die Thai departement van onderwys geregistreer is nie.
Hulle wou toe sommer dadelik die regte dokumente vir die aansoek hê,
maar die man se hart het versag en gee toe vir my 'n drie maande
visa. Ongelukkig kan die skool my nie registreer nie want dan moet
hulle my 'n salaris betaal wat hulle nie kan bekostig nie. Dus sal
ek nie weer een van hulle briewe in die toekoms kan gebruik nie wat
my ietwat in 'n pinarie sit. Maar daar is moontlik lig aan die einde
van die visa-tonnel want ek is intussen genader deur die informele
departement van onderwys om hulle te help met die onderrig van die
Moken grootmense op ons eiland. Ons sal nou net rustig moet wag en
kyk wat hulle plan is. Ek het reeds al die dokumente vir hulle gegee
wat hulle aangevra het maar nog niks van hulle gehoor nie.
Tydens
my visa aansoek was Jonathan en sy gesin ook in Maleisië
gewees
en het ons sommer 'n baie lekker tyd saam daar
gehad.
Die gelowiges daar het ons behoorlik bederf en ons kon rustig saam
bid en tyd saam spandeer. Sjoe, dit is 'n belewenis om so saam te
vergader en die aangesig van ons Vader te soek. Die wonderlikste is
dat die Heilige Gees in ons almal se harte gespreek het, elk op sy
besonderse manier, elk met sy eie beeld of boodskap maar met
dieselfde betekenis. Dit is hoendervleis lekker as Pappa vir jou iets
leer en die res van die groep bevestig dit want Hy het dit vir hulle
ook gewys! Elkeen sien en hoor dit op sy besonderse manier. Dit was
glad nie beplan nie, ons wou maar net saam bid en aanbid, toe kom
Pappa op so besonderse manier.
Pappa
het vir ons so ietsie gewys van wat
vorentoe gaan gebeur.
Die belangrikste is dat ons niks uit ons eie meer wil doen tensy dit
van Pappa af kom nie. Ons kan eintlik net vorentoe beweeg wanneer
ons oë
op Jesus vas genael is. Alles gaan oor Hom en dit het nog nooit oor
ons gegaan het nie. Die tyd het aangebreek dat ons die reg verdien
het om in die Moken se lewens in te spreek, met liefde en
nederigheid. Hy gaan 'n groot ding onder die Moken doen. Ons tyd saam
met die Moken het nog net begin en ons gaan nog lank hier gaan wees,
veral ek. Maar die beste van alles is dat elke ding wat gebeur die
teendeel hiervan wil wys van dit wat ons gehoor het. Die slotsom:
hierdie is waarlik 'n pad
van geloof-besluite en geloof-stappe m.a.w. ons oë
op Jesus, anders gaan die wêreld en die dinge wat gebeur ons waarlik
oortuig dat Hy nie die waarheid is nie. Ons weet ook dat ek en
Jonathan-hulle nog 'n lang pad saam gaan stap, hoe presies weet ons
nie. Verder gaan Vader ook Sy werk hier onder die Moken uitbrei.
Aansluitend hierby wil ons graag 'n platform bou vir byeenkomste
asook meer akkommodasie vir die kinders. Ons is nog nie seker waar
nie want die grond storie hang nog oor ons koppe. Bid asb. saam met
ons oor die opsie van ander grond bekom want ons wil nie ons eie
planne maak wat reg lyk nie, maar net wat van Hom af kom.
Daarna breek daar weer 'n gewone week aan
met al die dinge wat elke dag gebeur. Maar Dinsdag middag net so voor
3 nm kry ek 'n oproep van die
Moken.
Ek was besig met 'n klas en neem nie oproepe dan nie, maar vir een
of ander rede antwoord ek dit. Een van die Moken mans Goi
praat
maar ek kan nie mooi hoor nie, weet net met alles in my dat ek moet
Moken dorpie toe. Ek gaan vra dadelik toestemming en jaag soontoe.
Daar aangekom wag Goi
vir
my aan die anderkant van gety rivier. Die rivier is toe so half-lyf
diep met 'n baie sterk terugspoel see toe, maar ek spook deur. Toe
die nuus, Thoen
is geskok deur elektrisiteit. Vinnig hardloop ons na die huis toe en
daar lê die jong man van 17 jaar. Onmiddelik weet ek wat om te doen
na jare se EFR
kennis nieteestaande geen praktiese ondervinding nie. Na ek die
ondersoek gedoen het begin ek met CPR
en sê vir Goi
om die doter te bel en te sê dat dit 'n elektriese skok was. Daar is
nie woorde om te beskryf wat mens op daai stadium voel en ervaar nie.
Om so magteloos te wees en te weet daar is niks wat jy kan doen vir
iemand wat jy leer lief kry het nie. Die laaste hoop is dat die
dokters miskien dalk die regte gereedskap het om die seun te help...
Maar soos die tyd verbygaan kom die wete dat daar nie meer hoop is
nie, net vrede in Hom want dit is Sy wil vir dit wat
nou net hier gebeur het. Jy weet dat net een woord van Pappa die
seun weer sal terug roep, maar soos jy in Hom begin rus vind kan jy
Sy hart sien en weet wat die regte ding is om te doen.
So
15 of 20 minute na ek daar aangekom het daag die dokter op. Moeg van
die CPR neem
hulle toe die proses oor maar al het die nodige toerusting gehad, kon
hulle nie vir Thoen
help nie. Intussen het daar baie ander mense aangekom en vind ek vir
die eerste keer uit wat gebeur het. Glo het hy van die bote af gekom,
gewas en by die huis ingegaan om die waaier aan te skakel en met sy
nat lyf word hy geskok. Sy vriende het hom hoor skree en soontoe
gehardloop om te help. Gelukkig was hulle vlug van verstand om die
draad by die prop uit te trek. Daarna word ek gebel. Almal was in
trane want dit was nou waarlik 'n oulike jong man gewees. En toe kom
die groot vraag: waar is Thoen
nou - in die hemel of in die hel?
Die aand kan ek nie slaap nie en lê sommer so en kuier saam met
Pappa. Thoen was die laaste paar Sondae gereeld saam met ons
in die kerk en ek kon sien dat hy waarlik gehoor het wat ek gesê
het. So wys Pappa my hoe Hy in Thoen se lewe gewerk het. Later
het ek vrede in my hart dat Thoen by Pappa is. Die volgende
dag gaan ons nie skool toe nie en ons is weer almal so saam. Toe sê
ek aan die Moken dat Thoen nie meer wil terug kom nie, dat hy baie
gelukkig is waar hy nou is omdat hy by ons Vader in die hemel is.
Thoen se pa in Thai en die Thai's reël toe dat hy op hulle
manier veras moet word, asook 5 dae lank meriete gedoen moet word vir
hom. Dit help glo om hom om so vinnig as moontlik van die hel na die
hemel toe te kry, of om sy tyd so kort as moontlik in die hel te
maak. Ons word toe genooi om deel te wees van dit alles. Intussen vra
die Moken dat ons ook 'n diens vir Thoen moet hou. Ons besluit
toe om die kerk diens in die Moken dorpie te hou en as ons klaar is
na die tempel toe te gaan en daar te bid. Die Thai's is baie
vriendelik en gee ons toestemming om by die tempel te mag bid. Voor
die erediens kuier ek soos gewoonlik weer by ons Pappa en toe weet ek
wat Pappa vir hulle wil sê.
Tydens
die
erediens roep
Pappa die Moken om 'n besluit
te neem. Vir die eerste keer sit daar 'n groep mense voor my wat hoor
wat gesê word. Gewoonlik praat jy maar jy sien duidelik dat hulle
nie daar is nie. Maar die dag hoor hulle en hoor hulle hoe Pappa
hulle roep! Dit is amper of daar iets van hulle harte af geval het en
hulle kan hoor. Mens sien hoe die Heilige Gees besig is om in hulle
harte in te spreek. Hoe hulle begin sien dat God 'n werklikheid is.
Na die diens gaan ons toe tempel toe waar een van die Moken vriend
ietsie deel oor sy vriendskap met Thoen
en
hoe baie hy hom gaan mis. Toe bid ons saam en in die gebed is daar
hoop en lewe en vrede. Die Thai mense is uit die veld geslaan dat ons
met so veel oortuiging kan praat dat ons weet waar Thoen
is en dat ons hom weer gaan sien. Die Moken kom later na my toe en
vertel dat die Thai's die nuus versprei dat Thoen
se gees nog hier is en wag glo daar by die vlot wat ons gebou het.
Later na die verassing sê een van die Thai's dat Thoen
se gees elke aand nog hier by ons in die Moken dorpie huil, want dit
weet nie waarnatoe nie. Maar al sê ek ferm wat ons weet is waar,
kon die Moken nie meer nie. Hulle moet vir hulle self hoor en gaan
kry toe hulle mediums om die gees van Thoen
op te roep.
Ai,
en so roep hulle toe die geeste op. Ek is natuurlik lekker omgekrap
daaroor maar voel dat ek nie moet inmeng op daai stadium nie. Die
volgende dag vra ek toe wat die geeste gesê het. Baie verleë lag
hulle toe en sê dat die gees met hulle geraas het en was kwaad omdat
hulle hom gepla het. Thoen
het duidelik gesê hy wil nie terug kom nie want hy is baie gelukkig
waar hy is. Daar is geen plek so mooi en so wonderlik soos waar hy is
nie! Kyk, toe raas ek sommer ook so bietjie met hulle, ek het mos
reeds gesê hy is by Pappa in die hemel en wil nie terug kom nie. Wat
kan ons anders as om maar net te glimlag dat Pappa self die geeste
gebruik om Sy teenwoordigheid hier aan die Moken bekend te maak?
Die
5de
Desember was Vadersdag hier in Thailand. Dit is dan ook die enigste
lekker lang naweek waar ons genoeg tyd het om kersfees
te vier.
Ons het toe besluit dat ons vroegaand van Saterdag die 7de
tot Sondagoggend die 8ste
gaan
kersfees vier. Sjoe, maar was dit lekker gewees! Jonathan
se ouers en broer met gesin was ook hier gewees. Ons het die aand
begin met 'n ete wat geskrik het vir niks nie. Toe het ons saam
gesing en erediens gehou. Dit was weer 'n wonderlike geleentheid om
te sien hoe die mense elke woord hoor wat ek gesê het. Daarna het
ons speletjies gespeel en dit was sommer vet pret. Almal het deel
geneem en het ons vir mekaar gelag! Daarna het elke gesin 'n sak van
10kg rys met 'n twee liter olie gekry en elke kind 'n lekkergoed pak
wat vir hulle geskenk is van 'n vroutjie in Maleisië.
Toe het ons lekker nagereg geëet. Dit was toe al baie laat en ons
het besluit om 'n fliek te kyk. Ons het 'n projektor gehad so dit was
nie sommer net fliek nie. Teen 3h30 die oggend het ek die
kragopwekker gaan dood maak. Vroeg die volgende oggend was die klomp
wat nie sommer in die kerk geslaap het nie weer daar. Toe is dit
koffie en koekies. Baie moeg het ons later alles opgeruim en ek moet
sê dit was een van my lekkerder kersfees vieringe ooit gewees.
Daar
is nie waarlik woorde om te beskryf wat hier aan die gebeur is nie.
Al wat ek kan sê is dat Pappa waarlik met iets groots besig is. Die
mense se houding teenoor ons het geheel en al verander. Vir die
eerste keer koop hulle vir ons lekkergoed en begin hulle na ons goed
kyk. Hulle
pas ons op soos iets wat vir hulle baie kosbaar is en sê as ons hier
weg gaan trek hulle saam. Die mooiste is dat hulle vir mekaar begin
omgee en mekaar begin help. Bid dat hierdie mense waarlik ons Pappa
sal leer ken vir wie Hy is en nie net vir dit wat hulle van Hom by
ons en ander hoor nie. Bid dat ons altyd ons oë
op Jesus sal hou oor wie dit alles gaan. Bid ook vir ons besluit oor
die grond en dat as dit Pappa se wil is dat Hy ons die nodige wysheid
en lyding sal gee om dit volgens Sy wil te doen.
Dan weereens net duisend
dankies vir julle almal wat al die jare al saam met ons hier op die
veld is asook vir julle wat onlangs by ons aangesluit het. Ons is
hier oor julle liefde en gebede en ondersteuning. Pappa is waarlik
besig om iets groot te doen en Hy het dit goed gevind om ons deel van
dit te maak. Mag julle ook in die vreugde deel van wat ons en die
Moken hier saam met Pappa deel.
Dan weereens net duisend dankies
vir julle almal wat al die jare al saam met ons hier op die veld is
asook vir julle wat onlangs by ons aangesluit het. Ons is hier oor
julle liefde en gebede en ondersteuning. Pappa is waarlik besig om
iets groot te doen en Hy het dit goed gevind om ons deel van dit te
maak. Mag julle ook in die vreugde deel van wat ons en die Moken hier
saam met Pappa deel.
Baie liefde en vrede vir julle
van Hom oor wie ons hele mensdom se bestaan gaan (al dink sommiges
nie so nie). Liefde in Jesus Christus, ons Here, deur wie ons die
Almagtige God en Skepper van alle dinge Vader (Pappa) noem.
In Pappa
Philip
อำนาจ
____________________________
Julie / Aug/ September 2556 (2013)
Nee
kyk die tyd haal my darm nou in! Dit is al lente daar in Suid-Afrika
en dit sous nog vir 'n vale hier. Die weer is aanvoelbaar koeler maar
net totdat dit vir 'n dag ophou reën
dan sweet ons weer behoorlik. Ek
hoop dit gaan waarlik goed met julle almal en dat julle meer en meer
die volheid van ons Here se liefde en genade ervaar. Daar het alweer
soveel gebeur, maar dit is waarlik
'n jaar van storms
die. Hierdie keer wil ek julle graag meer in besonder oor die Moken
kinders
vertel, en dan ook van die
boot.
Kyk ,dit is storm
op storm die jaar.
Die nagte hier is stik donker en mens wil nie eers 'n lig aanskakel
nie want die voel of jy die donkerte gaan versteur. Meeste van die
tyd is daar geen weerlig met ons storms nie maar jy hoor hoe die wind
van die see se kant af aankom - dit is so 'n harde gedruis dat ek
soms koue rillings teen my rug af kry. Dis waarlik iets om te ervaar
en skat dat woorde amper nie daarin slaag om so 'n see-storm te
beskryf nie. Om alles te kroon lê die kinders rustig en slaap terwyl
ek skarrel om al die vensters (of dan luike) toe te kry voor die reën
ons tref. Dan vra hulle so ewe onskuldig die volgende oggend of dit
laas nag gereën het? Net as ons dink die ergste is oor en dit is
rustig vir 'n dag of twee, steek die volgende storm op. Die see stoot
elke tweede week reg onder my huis deur en ek kan net dankie sê dat
dit nou in die lug is. Die wind ruk en pluk soms so erg aan die huis
dat ek nie kan slaap nie. Groot vet druppels wat soms soos klippe
klink, val op die dak maar moenie dink dis hael nie, ek het al seker
gemaak! Tydens so storm val klein stukkies blaartjie van my dak af in
die huis, wat my herinner dat ek die dak volgende jaar sal moet
vervang as ek nie wil natreën nie. Ons dakke word mos van dig
geruigte palmtakke gemaak wat oor mekaar gepak word en aan die
dakraam vas gewerk word.
Dis
vir my 'n voorreg om julle mee te deel dat dit baie goed gaan met die
meeste van die Moken
kinders.
Hulle is goed besig en hou ons op ons tone hoor! Daar is gevra dat ek
oor die kinders skryf om julle net bietjie nader aan elkeen van hulle
bekend te stel. Van die begin af was daar hoofsaaklik drie seuns wat
ek glo die Here aan my toevertrou het: James,
Thong
Dii
en Khay
Dam. Ek
het besonders baie tyd saam met die drie spandeer en hulle was ook
onder die eerstes wat ek na die regeringskool op die eiland geneem
het. Met die dat ek hulle help Thai lees en skryf het, het ek in die
proses self 'n Thai onderwyser geword. Van die begin af was dit harde
klippe kou. Dit was ook hulle wat my so baie van die Moken taal en
kultuur geleer het en gehelp het om deel te word van die Moken
gemeenskap op die eiland. So met die tyd het ek hulle geleer om
hulself skoon
te was en tande te borsel, hoe om 'n toilet in Ranong (die beskawing)
te gebruik. Ons het saam kos gekoop en gekook asook eet maniere
aangeleer, skottelgoedwas, huis skoonmaak en klere skoon
was. Ek het hulle korrekte taal gebruik in meer formele situasies
geleer wat baie belangrik is in Thailand en hulle oral saam met my
heen gevat om die wêreld
te leer ken. Ons het saam-saam die Bybel begin lees en bid - dit was
wonderlik om te sien hoe hulle ons hemelse Vader ontdek en leer ken
het.
Toe
kom die groot skeur. Terwyl ek April in SA gekuier het, stem James
en Thong
Dii se ouers in dat
hulle in Ranong moet skool gaan by die weeshuis. Ek was ontsettend
hartseer en kon nie glo dat dit gebeur het nie maar elke keer as ek
na Vader toe gegaan het hieroor het ek geweet dat Hy in beheer is, al
was dit ontsettend swaar vir ons almal. Die Here was baie genadig en
het Khay Dam
hier gelos om my te troos. So hoe gaan dit nou met die kinders in die
weeshuis? Dis vreeslik jammer om te sê maar nie baie goed nie. James
doen so min moontlik in die skool en wil met niks saamwerk nie.
Thong Dii
is so 'n spesiale kind en het baie spesiale aandag nodig en kry baie
swaar. Hy het so agteruit gegaan dat hy glad nie meer Thai kan lees
nie. Elke keer as ek met hom praat loop die trane. Glo is daar nou
aan hulle gesê dat as hulle die jaar nie deurkom nie hulle terug
eiland toe gestuur gaan word. Nou wil die hele spul pluk sodat hulle
net kan terug kom. James
het laas aan my gesê hy is nou oud genoeg om te begin werk en dit is
sy laaste jaar, hy haat skool. Dit is so jammer om te sien dat al die
sorg, harde werk en aandag aan die kinders so vermors is. Gelukkig
weet die Here wat die hoop is vir die toekoms.
Maar
met Khay Dam
gaan dit baie goed. Hy hou ook nie regtig van skool nie maar doen
baie goed. Hy het sy lees eksamen geslaag en doen baie goed in
wiskunde, Engels en Thai. Nou die dag kom hy na my toe en vra of ek
hom nie asb meer wil leer van God as ons Vader nie. Sjoe, dit maak
alles die moeite werd! Sy sussie, wat ook Ranong toe is, bel ons
omtrent elke aand om so bietjie met hom te praat en dan kan mens die
hartseer in hulle stemme hoor. Ek praat so nou en dan ook met die res
van die kinders wat in die weeshuis is en elke keer is Thong
Dii in trane. Taynie
is Khay Dam se
maatjie en die twee speel en doen kwaad saam. Al wat op Taynie
se brein is is sokker. As hy sy oë oop maak wil hy bal speel. Hy
sukkel ook op skool maar ons doen lekker oefening by die huis wat hom
help met sy skryfwerk. Naas Khay
Dam kuier hy nou die
meeste by my. Dan is daar ook ander kinders wat ek aanvanklik help
lees en skryf het wat ook nou in Ranong is. Q
is die jongste en
doen ook die beste van die groep. Dan is daar Phen
(dis nou Khay
Dam se sussie), sy
doen ook goed maar verlang baie terug en wil nie meer daar wees nie.
Dan is daar ook Biem,
sy is ook 'n spesiale kind en sukkel baie. Ek verlang sommer baie na
hulle almal en moet sterk staan vir hulle.
Gelukkig is hier nog baie ander
kinders op die eiland vir wie ons kan lief wees! Daar
is die een gesin van wie ek julle vertel het waar die man die vrou so
slaan. Dit gaan sommer nou baie beter daar. Hulle is nie meer elke
dag in mekaar se hare nie maar die kinders, sjoe, hulle het 'n slegte
hou weg. Die oudste is
Iang,
hy is nou in graad 0 en beleef ongelukkig 'n identiteitkrises omdat
hy nie weet of hy 'n seuntjie of 'n dogtertjie wil wees nie. Ek
moedig hom aan om so nou en dan daar by my te kom bly en dan geniet
hy dit sommer baie. Dan sy jonger broer Am
- hy kry bitter swaar om die minste te sê. Ek moet gereeld vrede gaan
maak tussen hom en sy maatjies. Hy kom hulle met die vys by en dan is
dit vir jou 'n trane dal. As ek met hom praat vra ek net, Am
wat het gebeur, dan is hy in trane. Hy kom ook so nou en dan by my
kuier en dit help hom baie.
Apen
is
die outjie wie se ma heel aan die begin hier oorlede is. So hy het
net 'n pa en 'n jonger boetie en sussie wat deur 'n tannie groot
gemaak word. Hy was dan ook daar vir 'n ruk maar is nou terug en
huil oor alles. Die Thai woord vir huil en sing is amper dieselfde so
nou spot die kinders hom en sê hy gaan 'n sanger word. Hy kuier
gereeld by my en ons kan duidelik die verskil in hom agterkom. Hy is
'n dierbare mannetjie en ek glo dit gaan goed gaan met hom in die
toekoms. Saam met Apen
is
daar ook Yeam.
Hy kom van Mayenmar en word deur pleeg-ouers hier groot gemaak. Sy
oorspronklike ouers is albei oorlede en daar is saam met hom 1000
baat aan die gesin gegee om hom groot te maak. Sjoe, ek geniet die
mannetjie baie. Hy kom ook gereeld kuier as sy pleegouer op die see
gaan.
Dan is daar Meak,
Mot, Ed, MoJo, Paa Gaw ook
wat saam skool toe gaan. Hulle ouers maak altyd 'n plan so hulle het
nog nooit oorgeslaap by my nie. Hulle doen wel elke dag hulle
huiswerk by my en speel saam en kom eet elke Saterdag die kos wat ons
vir die kinders voorsien. Die dogterjies is Poe,
Yoie, Faa, Keam, Bytong.
Hulle speel saam en eet saam. Chanap
is Taynie
se ou sus. Sy is ook in my klas en 'n regte ou staatmaker. Sy doen
baie goed op skool en is fluks en gehoorsaam. Sy help ons met die
kinders se huiswerk na die skool en om die spil Saterdae kos te gee.
Urn
is
Khay
Dam
se ousus en sy is ook in my klas. Sy is al te oud vir my klas maar
wil nie skool toe gaan as sy nie in my klas kan wees nie. Sy help ook
Saterdae met kinders kos gee.
Hierdie
is dan sommige van die Moken kinders waarmee ons elke dag te doen
het. Daar is nog ander ook maar hulle is nie aldag saam met ons nie.
Ek hoop dit help julle om so bietjie meer spesifiek vir die
individuele kinders te kan bid. Ons het ook agtergekom dat party van
die kinders heelwaarskynlik voorgeboorte breinskade opgedoen het.
Hulle lyk normaal maar mettertyd sien ons alles is nie pluis wanneer
hulle begin skool gaan nie. Hulle is Poe,
Biem, Thong Dii
en MoJo.
Meeste van die mammas stook en drink as hulle verwag en dit het
natuurlik baie negatiewe gevolge vir die ongebore kindertjies. En dan
is daar die geweld. Helaas het ons self tonne en tonne liefde nodig
om aandag, deernis, begrip en sorg aan al die kindertjies te gee.
Hulle is so pragtig en Pappa is so oneindig lief vir hulle dat ons
nie anders kan as om net dankie vir Pappa te sê
vir hulle nie.
Dan net weer duisend dankies
aan almal van julle wat so getrou vir ons bid en ons ondersteun. God
is waarlik besig om iets groots hier onder die Moken te doen. Ek sal
meer daar van vir julle volgende keer vertel. Ons groot gebed versoek
is dat julle vir die kindertjies sal bid wat Pappa op julle hart lê.
Baie liefde en vrede vir julle
in Hom oor wie dit alles gaan,
In Pappa
Philip อํานาจ
__________________________________________________
Junie 2556 (013)
Sjoe maar die tyd vlieg! Die helfte van die jaar is weer op sy rug.
Ek groet julle almal in die Naam wat bo elke naam is, die Naam van
ons Here Jesus Christus. Ek hoop dit gaan waarlik goed met julle
almal en dat julle meer en meer in die liefde en genade van ons Here
lewe. Daar het so baie gebeur en die klomp hier hou my so besig dat
ek maar met die deur in die huis gaan val. Dit gaan goed met die
Moken kinders wat skool toe gaan hier op die eiland; die TV
dokumentêr was uitgesaai; ons het 'onderwysersdag' gehad;
brief van ajaan Siean se kerk; die weermag
het ons skool kom besoek; uitnodiging na Bangkok; ek was
weer vir my visa in Maleisie; ons het 'n begrafnis gehad;
ons was op 'n kerk-kamp; die kinders wat weg gevat is
huil; en wat sien ons vir die toekoms.
Soos met die meeste klein kindertjies wat vir die eerste keer skool
toe gaan, is dit maar 'n groot aanpassing en moet ons die Moken
kinders wat skool begin het nog gereeld troos. Hulle hou nie baie
van al die dissipline nie en dit is baie vreemd dat die onderwysers
nie wil maak soos hulle sê nie. Dit klink rof maar die kinders is
pragtig! Hulle pas goed aan en is vinnig besig om die harte van die
Thai onnies te wen. Dit bly maar 'n groot aanpassing maar hulle is
darm smiddae weer by die huis waar alles bekend is en waar ouers of
familie wag.
Na die tydskrif artikel is die TV dokumentêr toe uitgesaai
en het ons baie goeie terugvoer gekry veral van die ongelowiges. Dit
maak nou eenmaal nie vir die Thai mense sin dat iemand van my
agtergrond alles net so sal los om die armste mense in hulle land te
kom help nie. Die dokumentêr het ook tot gevolg gehad dat ek na 'n
verdere konferensie in Bangkok genooi is. Ek het aanvanklik dadelik
nee gesê want die datums het met my visa-run ingemeng en sou
net meer tyd geverg het. Later het ek vir die Here jammer gesê want
dit was ek wat nie wou gaan nie en het nie eers gaan hoor wat Sy wil
is nie. Die datums is geskuif en weer is ek genooi waarop ek eers
gaan hoor het en toe ja gesê het. Baie van die Thai Christene is
deur die dokumentêr aangeraak met gevolg dat sommige daarna self 'n
geldjie vir die kinders gegee het. Ongelukkig sien almal dit nie as
positief nie en het ander in die kerk dit nie so goed gevat nie.
Hulle is baie jaloers op dit wat hier gebeur.
Tussen dit alles deur breek onderwysersdag aan - 'n dag word
opsy gesit waartydens die kinders 'n kans kry om vir die onderwysers
dankie te sê! Die onderwysers gebruik dan die geleentheid om die
kinders voorspoed en seën toe te wens. Dit is baie interessant en
het ek ook die voorreg gehad om deur die kinders bedank te word. Die
gebruik is dat die kinders as 'n teken van respek, op hulle knieë
tot voor mens loop, twee keer buig en dan vir ons blomme gee. Dan
wens ons hulle voorspoed toe waarna hulle weer twee keer buig en dan
op hulle knieë wegloop. Dit is nogal iets om te sien.
En so uit die bloute ontvang ons 'n brief van ajaan
Siean van die Ranong kerk. Die oorspronklike vertaling
van Thai na Engles is deur STAMP behartig en die slotsom is dat die sendelinge aangekla
word en uiteindelik beveel word om pad te gee vanaf Koh Phayam
eiland. Uit die veld geslaan gaan praat ons toe dadelik met ajaan
Sien om te probeer uitvind wat die motivering is om ons van die
kerk se grond af weg te jaag. Hy deel ons mee dat as ons nie meer
onder STAMP werk nie, hy nie meer kan toelaat dat ons op sy kerk se
grond kan bly nie. Ons het probeer verduidelik dat my SA gemeente en
stuursel nog besig is om hom op sy brief te antwoord en dat ons
hoegenaamd geen kommunikasie van STAMP ontvang het wat ons
verbintenis verbreek nie. Na meer gesprekke blyk dit egter of hulle
nie genade aan ons gaan betoon nie en nie werklik omgee hoe dit die
Moken gemeenskap, en veral die kinders se lewens, gaan omver werp
nie. Indien ons getrou bly aan ons roeping na die Moken gemeenskap op
hierdie eiland, sal ons na ander opsies moet kyk om naby en saam met
hulle te bly, miskien self 'n stukkie grond te koop. Dit is egter vir
ons baie belangrik om verseker te weet dat dit is wat ons Vader wil
hê ons moet doen, so bid asb saam met my hieroor.
Dit is mos nou weer die monsoon seisoen en kyk, die jaar doen dit
behoorlik gestand aan sy naam. Dit reën katte en honde en daar is
gereeld erge storms. As dit nie vir my huis op pilare was nie, was ek
al drie keer onder die see gewees die jaar. Een Vrydag toe dit ook
weer so vreeslik reën, daag die Thai weermag by die skool op.
Hulle het die kinders lekker bederf deur sport-toerusting aan die
skool te skenk en het ook vir almal 'n baie lekker ete voorsien. Dit
het naderhand so gereën dat dit skoon donker buite was. Maar dit was
nog steeds lekker gewees, al was ons sopnat toe ons terug by die huis
aangekom het.
Daarna het dit tyd aangebreek vir my om Bangkok toe te gaan. TV Burepaa het vir my 'n vliegtuig kaartjie gekoop en ek is hier weg. Daar aangekom word ons in 'n hospitaal onthaal en slaap toe sommer ook daar. Die volgende dag breek toe aan en was dit vir jou 'n gedoente - daar was een of ander hoog geagte vrou met vyf mans wat soos bye om haar zoem en alles vir haar doen. Die res van ons TV Burepaa groep is te bang om naby haar te gaan en so word ek aangewys om langs haar op die verhoog te gaan sit. Eers ignoreer sy my maar nadat ek vir een van haar Thai grappe gelag het, het sy met my begin raat. Gelukkig hoef ek nie te veel te sê nie want sy praat een stryd deur. Net om julle 'n idee te gee: ek stap 'n saal binne waar omtrent 350 mense sit en skrik my boeglam. Kyk, ek was nie voorberei hiervoor nie. Die ou benoude gevoel oorval my wanneer ek voor so 'n groot skare mense in Afrikaans moet praat, nou is dit nog in Thai! Ek bid en sê toe 'Here ek kan nie!' en dadelik gee Hy my vrede en maak Hy my rustig en toe doen Hy dit. Sjoe maar Hy het mooi met die Thai mense gepraat. Hy het hulle tot die volgende stap nader aan Hom uitgedaag. Partykeer sê ek iets dan is ek dadelik kwaad omdat ek dit gesê het, maar sien dan net later hoe Hy dit wou sê en hoe Hy dit gebruik. Dit was 'n onbeskryflike ervaring! Al wat ek kan sê is, as ons dit doen is dit net een gemors. As dit wat ons sê nie uit Hom gebore is nie, is daar geen lewe daarin nie. Al die eer aan Hom. Die Thai mense was so geraak deur wat daar gebeur het dat hulle hulle harte oop gemaak het vir die Moken kinders. Dit beteken dat ons nou elke Saterdag vir al die kinders kos kan koop.
'n Week nadat ek in Bangkok was moes ek Maleisie toe gaan vir my
visa. Die skool het hierdie keer vir my 'n brief gegee en het ek
die visa sonder enige moeilikheid gekry. Dit is egter ook net weer
geldig vir drie maande wat beteken ek moet nog steeds oor drie maande
vir dievolgende visa-run oor die grens gaan. Die lekker van
Maleisie was dat ek met Jonathan se stuursel en ouers ontmoet het. Ek
was sommer lekker bederf en het die saamkuier en saambid baie geniet.
Dan kry ek ook die geleentheid om almal op hoogte te bring van die
gebeure hier. Sommer hartlike dank vir almal daar in Maleisie wat my
so bederf as ek daar gaan kuier!
Oppad terug, terwyl ek nog op Phuket sit en wag vir die bus terug
Ranong toe, ontvang ek 'n oproep van een van die Moken - Chamon
is oorlede. Sy is die vroutjie wat so siek was dat ek haar moes dra
toe ons haar hospitaal toe geneem het. Gelukkig is Jon hulle daar op
die eiland en kon hulle solank die begrafnis reelings aan die
gang begin sit. Op die eiland aangekom is die kis met die lyk in die
kerk en die Moken besig om te doen wat hulle doen met 'n begrafnis.
Dit is nou dans en eet. Die Donderdag aand is almal in die kerk en
gee ons 'n kort boodskap. Daarna kom Oe - Chamon se man - en
bedank ons vir al ons hulp. Hy sê met sy pa se begrafnis het niemand
hom gehelp nie, nie eers die ander Moken nie, en moes hy alles self
gedoen het. Toe eet ons almal saam en toe moet ons dans. Dit is nogal
vreemd om so op 'n begrafnis te dans en dit 2 uur in die oggend. Die
Moken was so opgewonde dat ons ook deelneem aan die verrigtinge. Die
volgende oggend laai ons die kis op 'n boot en is ons oppad na die
eiland Koh Moo waar mense begrawe word. Boeddhiste begrawe mos
nie en daarom is daar 'n spesiale eiland waarop mense begrawe word.
Die oop see was lekker rof met die dat dit ons 'n volle drie ure tot
daar geneem het. Nadat 'n vlak graf van omtrent 'n meter diep gegrawe
was, het ons toe weer 'n kort boodskap uit die Bybel gelees en gebid.
Drie baat (Thailand se geld eenheid) word op die kis gesit en
alles toe gegooi. Die geld is glo om vir die grond te betaal. Na nog
'n rowwe see-rit huistoe, kom ons eers die aand op die eiland aan.
Die volgende dag moet ons spring om betyds te wees sodat ons die
boot kan haal Ranong toe, want ons is genooi na ajaan Sien se
kerk-kamp. Daar was vyf Moken kinders saam met ons - drie
seuns wat by my in dieselfde kamer slaap en twee dogter by Jon en sy
gesin. Daar aangekom sien ons vir Thong Dii, Q en Phet
wat ook by ons wil wees. So kry ons toestemming en is op die einde
sewe wat in een kamer met twee enkelbeddens slaap. Sjoe, maar het ons
lekker daai aand gekuier! Die volgende dag is dit lesing op lesing.
Ai, omdat ek myself by die Moken kinders skaar, ignoreer die Thai
kerk mense my toe heeltemal. Die groot skeiding was baie hartseer. Ek
en die Moken kon maar net so wel nie daar gewees het nie. Behalwe vir
die mense wat my op TV gesien het en een of twee wat ek ken, was daar
niemand wat met my gesels het nie. Die tweede aand daar kom James
toe ook by ons intrek en toe kuier ons eers lekker. Die volgende dag
is dit toe weer totsiens sê maar die kinders wat nou in die
kinderhuis is het so gehuil dat ons later aan almal saam gehuil het.
Hulle is skoon siek van verlange en sê dit is niks lekker daar nie.
Sewe van dieselfde kinders wat weg gevat is en in die kinderhuis op Ranong is, het net na die skool begin het weggeloop van die kinderhuis af maar is voorgekeer voor hulle die boot kon terug vat eiland toe. Daar word toe aan hulle vergunning gegee om die volgende naweek te kom kuier op die eiland, met die boodskap aan hulle ouers dat hulle 5000 baat moet betaal as hulle nou die kinders uit die kinderhuis wil haal. Niks hiervan was vooraf gesê nie. Indien hulle nie na die naweek terug kom nie vermeerder die bedrag na 6000 baat. Die kinders het so by ons gehuil vir hulp maar ons het gevoel dat ons nie op die stadium kan inmeng nie. Dis baie hartseer dat die kinders vir meer as 'n maand verbied was om hulle ouers te bel. Elke keer as ek na die kinders vra, sê hulle ouers dat ajaan Somsak gesê het hulle mag nie bel nie, maar hulle dink dit gaan goed. Ons word meegedeel dat die kinders nie aanpas in die skool miljeu nie en gereeld pak kry. Thong Dii en Biem sukkel die meeste. Tydens die kerk-kamp het ek agter gekom dat hulle amper geen vordering maak in die skool nie. Van die kinders doen glad nie huiswerk nie en met al die kinders in die kinderhuis is dit maklik dat so iets kan gebeur. Daar is nou 31 kinders in die huis en 4 mense wat toesig hou. Die seuns wat altyd by my was se lees het baie agteruit gegaan. Dit is so hartseer om te sien dat al die werk en liefde waarop die kinders so goed gereageer het, nou tot niet gaan. Die kinders het nou 'n baie ander waardering vir ons en weet dat ons hulle waarlik lief het.
Dit is vir ons duidelik dat die Here groot toekoms planne het
vir die Moken en die dissipelwerk hier. Dit word ook duidelik dat ons
dit op 'n heel ander manier gaan doen as in die verlede. Hier is 'n
groot geveg aan die gang tussen die bonatuurlike en ons is in die
middel van dit alles. Dit word ook meer duidelik dat as ons hier sal
wil aanbly ons dalk 'n eie stukkie grond sal moet aankoop. Ons weet
nog nie presies wat gaan gebeur nie, maar wil nie beweeg as ons nie
seker is dit is wat Pappa besig is om te doen nie. So dink asb. aan
ons in julle gebede, dat ons waarlik net sal doen wat Pappa mee besig
is en nie doen wat ons dink of voel nie.
Dit was nou vir jou 'n brief en 'n half. Baie dankie vir al julle
ondersteuning en liefde. Weet dat alles wat hier gebeur julle ook
deel daarvan is. Ons is net hier omdat julle dit vir ons moontlik
maak, sonder julle is dit nie moontlik nie. Mag julle in dit alles
wat ek hier geskryf het die liefde en genade van ons wonderlike Pappa
sien.
Liefde groete in Pappa
Philip อํานาจ
__________________________
Maart/April /Mei
2556 (2013)
My kuier in SA voel soos 'n droom wat verby is want voor ek my oë
kon uitvee is ek weer terug hier in Thailand. Op 'n manier het dit
gevoel asof ek nie eers weg was nie. Ek het baie lekker in SA
gekuier, maar moet sê dit is heelwat lekkerder om weer terug te wees
waar die Here my geroep het.
Ek wil met julle dievolgende gebeure deel maar die gevaar hiervan is dat julle dit dalk verkeerd mag verstaan en dan het ek misluk om die waarheid aan julle oor te dra. Die doel is om julle die hart van ons Vader te probeer wys want dit gaan nie oor my nie en ek probeer ook nie om iemand ander in 'n swak lig stel nie. Ek wil graag aan julle probeer wys wat dit waarlik beteken om 'n pad te loop wat Vader vir my gekies het. Dit wys ook hoe maklik ons, sonder om dit te bedoel, mekaar seer maak en hoe maklik ons die werk van die Here aan onsself toe-eien (en so eintlik misluk in dit wat Vader is). Onthou dit gaan nie oor my nie en as jy kant kies, verstaan jy dit dalk verkeerd.
So 'n week voordat ek na SA
vertrek het einde Maart, ontvang ek 'n oproep van ajaan
Siean (Ranong kerk-leier),
wat my inlig dat die kerk besluit het om my nie weer 'n brief te gee
wat ek nodig het vir die volgende drie maande visa-aansoek nie. Hulle
rede is dat hulle ons nie meer gaan ondersteun as ons nie meer deel
van STAMP is nie. Dit was 'n groot verrassing want na die vergadering
in Januarie is daar besluit dat ons groepie op die eiland en STAMP
elkeen voortgaan totdat ons almal duidelikheid het oor wat ons gaan
doen in die toekoms. My voorkeur was om die brief van die kerk aan te
vra omdat ons saam deel in die bediening op die eiland. Indien ek in
kennis gestel was twee weke voor die tyd sou daar genoeg tyd gewees
het om 'n brief by die skool aan te vra. So is ek toe hier weg sonder
die nodige brief vir dievolgende visa aansoek.
In my derde week in SA kry ek
'n oproep van Jonathan (die gesin wat deel uitmaak van ons eiland
bediennings-groepie) wat my meedeel dat ajaan Somsak onder
die Moken ouers gaan werf het om eerder hulle kinders skool toe
te stuur op die vasteland in Ranong - dit terwyl Jon ook nie op die
eiland was nie. Jon deel ook met my dat iemand vertel dat ek 'n baie
slegte mens is en dat ek nooit terug kom eiland toe nie. Sjoe, maar
dit was vir my moeilik om nie dadelik my tasse te pak en terug te
vlieg nie! So met 'n baie swaar hart het ek toe probeer om die hart
van ons Vader hierin te sien en dit is toe duidelik dat ons dit vir
nou net so moet los en vertrou dat Hy alles ten goede gaan laat
meewerk. Die tyd kon net nie vinnig genoeg verby gaan sodat ek self
op die eiland kon wees nie, al was my verpligtinge goed en nodig in
SA.
Kyk die nuwe sakke!
Hier geland word ek ingelig dat
my tas agtergebly het op Doha lughawe. Nat gesweet en ongewas moes ek
noodgedwonge oorslaap in 'n hotel en nog 'n dag langer wag. So kry ek
toe uiteindelik my tas en klim op 'n bus die volgende middag oppad
terug Ranong toe. Dis toe ook al 22h30 toe ek daar aankom en kry nie
'n motorfiets taxi wat bereid is om my en my swaar tas
huistoe te vat nie. Toe stap ek maar terug, gedaan maar bly om weer
darm by die Ranong-huis te wees. Vroeg die volgende oggend is ek ook
sommer op 'n spoedboot eiland toe. Daar aangekom, wag twee van my
seuns al van die vorige dag vir my... kyk daar is niks om die
blydskap van so 'n ontmoeting te beskryf nie...
Toe ek in die Moken dorpie
aankom, word ek meegedeel dat daar vyf kinders is wat weggaan om
skool te gaan in Ranong: James, Thong Die, Q, Phen en Biem,
. Die hartseerste van alles is dat vier van die kinders het by my
gebly. En so vind ek ook tussen die lyne deur uit dat ajaan Siean
my van die kerk se grond wil afsit (die Ranong kerk is die trustees
van die grond waar die Moken gemeenskappe gelee is). Net toe kry ek
ook 'n dringende boodskap van Thomas (Gereformeerde Kerk Randburg
dominee) wat sê hy het 'n brief van Beram (STAMP) gekry en dat hy so
gou as moontlik met my moet praat. Ons skype toe en dit is duidelik
dat STAMP 'n probleem het met ons voorstel oor die toekoms. (Jon het
die voorstel aan STAMP gestuur tydens die eerste week wat ek in SA
was.) Thomas stel toe voor dat ons dringend met ajaan Siean
gaan praat wat ek en Jon toe ook doen. Ons verduidelik aan hom dat
ons by die mense hoor dat een van STAMP se personeellede slegte
gerugte oor ons versprei. Hy reageer toe heel positief op ons gesprek
en dit lyk of dit wel net stories is wat versprei is.
Hare word gesny
Met groot hartseer en 'n
oorvloed trane verlaat die vyf kinders die eiland. Hulle ouers glo as
arm mense is dit die beste kans vir hulle arm kinders om ook nie
eendag arm te wees nie.
Intussen is daar nou agtien kinders wat skool toe gaan – julle ken nou al ons roetine om die kinders reg te kry vir skool, dan oor die rivier met die vlot, groepies op die waentjie en skool toe met die motorfiets, tot almal by die skool is. Gelukkig doen die kinders baie goed en geniet die skool roetine. Hulle het almal nuwe tasse, skoolklere, skryfgoed, boeke, kouse en skoene gekry en lyk sommer al te spoggerig! Uit die bloute ontvang ons 'n brief van Beram wat sê dat hy 'n brief van ajaan Siean gekry het wat sê dat as ons nie meer deel van STAMP is nie en dat ons die bediening op die eiland moet verlaat. Thomas en ek het weer 'n gesprek en ons dink dit goed om te vra vir 'n gesamentlike vergadering waarby alle rolspelers teenwoordig is sodat alle misverstande op die tafel gelê kan word. Beram antwoord terug dat ajaan Siean dit nie sal toe laat nie en dat so 'n vergadering nie sal plaas vind nie. Uit die veld geslaan vra ek toe vir 'n kopie van die brief en Beram deel my mee dat hy eers moet toestemming kry van ajaan Siean. Na 'n week laat hy my weet dat hy nog niks van ajaan Siean gehoor het nie en dit as 'n nee aanvaar.
Niemand dink aan die gevolge
van die gemors as ons nou die bediening op die eiland moet verlaat
nie. Wie gaan na die kinders kyk? Wie gaan na die siekes omsien wat
elke twee weke na die hospitaal in Ranong toe moet gaan vir toetse?
Wie gaan die kinders bystaan in die skool en help as daar iets
gebeur? Wie gaan alles onderhou in die dorpie wat deur almal gebruik
word en deur niemand reg gemaak word nie? By wie gaan die kinders bly
as hulle ouers op die see uitgaan en hulle skool toe moet gaan? Wie
gaan vir hulle kos maak en Vader se liefde wees? En al is daar sulke
mense, hoe gaan hulle die Moken so ver
kry om hulle te vertrou en saam te werk?
Dit voel soms of ek onder die
spul kan inklim en hulle tot hulle sinne ruk maar ons Vader hou voet
by stuk, dit is Sy geveg en ons moet daaruit bly. Daarom praat ek
maar min en hou my oë op
Hom oor wie dit alles gaan. Ek glo Hy is volkome in beheer. Met tye
dreun en donder dit binne my maar aan Hom sal ek gehoorsaam wees. Dit
is Sy geveg, al het ek al die wetlike ammunisie om woes vuur te maak,
wag ek op Hom. Dit gaan nie oor ons nie en dit het nog nooit nie. Dit
gaan ook nie oor die Moken nie, maar oor Hom. Sjoe maar dit is nie so
maklik nie. Om nie terug te kap wanneer jy kan nie, maar om te wag en
te bly glo en vertrou. Dit is nou maar eenmaal nie een van ons boere
se sterk punte om te sit en wag nie. Maar ek weet die geveg is nie
myne nie.
Dit is tot hier waar gebeure
ontwikkel het. Ek hoop julle sien die manier wat Vader besig is om
ons te leer. Dat dit nie oor ons gaan nie en ook nie oor reg of
verkeerd nie. Dit gaan daaroor dat ons aan Hom gehoorsaam sal wees en
sal glo dat Hy altyd daar is en volkome in beheer is. Dat dit alles
wat hier gebeur deur Hom toegelaat word en dat Hy dit tot die beste
vir almal sal laat uitwerk. Ons is so geneig om ons vinger na God toe
op te lig wanneer dinge verkeerd gaan en swaar word. Hoeveel te meer
as ons nie nog alles opoffer vir Hom nie. Maar dit gaan nie oor ons
nie. Dit gaan nie oor dit wat om ons gebeur nie. Hy het reeds alles
in Christus vir ons volbring, dit is die volkome bewys van Sy
oneindige liefde vir ons en dit is genoeg. Ja waarlik Sy genade is
vir ons genoeg. Mag julle ook soos ons, vrede vind met dit wat met
julle elke dag gebeur. Wees saam met my dankbaar dat Hy daar by julle
is en volkome in beheer is.
Dankie julle vir alles!
Duisend dankies vir al julle
liefde en ondersteuning! Ek is hier omdat julle daar is vir ons. Die
kinders lyk spoggerig en is so gelukkig met alles wat hulle gekry
het! Ons is waarlik 'n sigbare getuie van die liefde van ons Vader
hier in Thailand. Mag julle ook elke dag die rus en vrede vind in die
wete Pappa is altyd daar en volkome in beheer is.
In Pappa
Philip อํานาจ
________________________Die Feb nuusbrief was Flip se laaste nuusbrief. Sy volgende nuusbrief sal eers weer verskyn nadat hy terug is in Thailand wat dan die maande van Maart en April se nuus sal weergee.
_____________________
Februarie 2556 (2013)
Glo dit of nie, maar nog 'n maand van die nuwe jaar is verby en my
nuusbrief is heel betyds. Ek hoop julle jaar is totdusver vol liefde
en genade van ons Here. Gedurende Februarie het ons vir die
eksamen voorberei; 'n vooraanstaande tydskrif het ook
op ons storie af gekom; daar was 'n Cashew
neute fees; en ek kom in SA kuier.
Kyk, was ons nou vir jou besig gewees met die voorbereidings vir
die kinders se skool eksamen. Ons het elke dag tafels geoefen,
gelees en wiskunde gedoen. Ek dink tog daar wag 'n groot verrassing
vir die kinders want ons is besig met graad 1 Thai-taal en wiskunde
maar hulle gaan graad 2 skryf... Persoonlik voel ek dat as hulle net
self die vraestel kan lees en self 'n kruisie trek (meervoudige keuse
vraestelle), is dit 'n 110% verbetering in vergelyking met die vorige
jaar. Die grap is dat die onderwysers die week voor die eksamen nie
by die skool gaan wees nie en dat Noei (die graad een
onderwyseres) die skool gaan verlaat net voor die eksamen. So dit was
'n besige tyd vir ons. Al die goed wat hier gebeur het en die dat
Jonathan-hulle ook nie hier was nie, eis alles sy tol by my. Ek is
tot in my siel in moeg en hoop om so bietjie af te vat gedurende die
komende skoolvakansie.
So tussen dit alles deur kry ek 'n oproep van 'n vooraanstaande
tydskrif hier in Thailand. Hulle het glo van ons gehoor by die TV
groep wat die vorige maand op die eiland was en wou net hoor of hulle
ook ons storie kan kom skryf. So daag hier toe twee mense op ons
voorstoep op om ons storie te skryf. Kyk, en het hulle gedelf agter
ons storie aan. Die vroutjie wat my uitgevra het se naam is May,
en dan die fotograaf wat haar oral rondvolg. Hulle was baie aangenaam
en die kinders het hulle baie geniet. Net die laaste dag voor hulle
vertrek het Khay Dam en James gesê dit raak nou te erg
vir hulle. Al die mense hier om ons die heeltyd is nie meer so lekker
nie. Ek moet sê dit voel nogal aardig as wild vreemde mense so
aanhoudend agter jou aan is, maar dit is darm net vir 'n dag of twee
op 'n slag gewees. Die rede waarom ons hier is raak mense se harte
diep aan. Dit maak net nie sin vir die Thai mense dat ons dit doen
vir geen rede behalwe die liefde van God in ons nie. Ek kan nie wag
om te sien wat hulle in die tydskrif gaan skryf nie.
Cashew neute fees
Dan het ons ook 'n Cashew neute fees gehad. Die skoolgronde
is heeltemal omskep vir die fees sodat die fondse wat ingesamel is,
gebruik kan word vir die die bou van 'n nuwe skool-eetsaal. So ons
was lekker besig om alles reg te kry. Twee van die Moken dogters het
ook gedans op die fees. Dan was daar sokker wat van vroeg af gespeel
is, paal klim, thalea (die klomp sit op 'n paal en veg en val
dan in water), kies van 'n cashew-neute-prinsess
en baie om te eet en te drink. Almal het dit sommer baie geniet. Dan
was daar 'n 'band' gewees en die kinders het tot laataand
gesokkie. Kyk, ek het nie geweet die Moken kinders kan so dans nie
maar dit was baie genotvol!
Wat, dit bly lekker!
Dan kom ek bietjie in Suid-Afrika kuier vir 'n maand of wat
gedurend ons skoolvakansie. As alles goed uitwerk land ek die 24st
Maart in Johannesburg. Ek gaan 'n groot deel van die tyd by my
stuurkerk, die Gereformeerde Kerk in Randburg wees, sodat die
gemeentelede my beter kan leer ken. Ek hoop om darm ook tyd op die
plaas deur te bring en dan so bietjie te rus. Dan is julle almal
welkom om my stuursel te kontak as julle wil gesels of saam met ons
wil kom kuier – ek hoor daar gaan 'n potjie op Saterdag 6 April
gehou word in Bronkhorstspruit.
Weereens baie dankie vir al julle liefde en ondersteuning deur al
die jare. Ons Vader is besig om groot dinge hier onder die Moken te
doen en dit is alles net moontlik omdat julle daar is vir ons. Weet
dat julle liefde, gebede en ondersteuning ons dra hier in Thailand.
Baie liefde en vrede vir julle in Hom oor wie dit alles gaan,
In Pappa
Philip อํานาจ
____________________________
Desember & January 2556 (2013)Sjoe maar dit was vir jou 'n woelige tyd wat verby is! Ek hoop julle het 'n wonderlike feesseisoen gehad en dat julle nuwe jaar vol liefde en genade van ons Here gaan wees. Daar het so baie gebeur die afgelope twee maande dat ek my bes gaan doen om julle van al die hoogtepunte te vertel. Aan die begin van Desember het STAMP nog 'n groep van Maleisië eiland toe gebring en het ons gesprek gevoer met Peter. Die skool was besoek deur inspekteure, ek het weer siek geword met Dengue koors. By die skool het ons kinderdag gevier en ook vir 'n uitstappie gegaan. Daarna was ons span Bangkok toe vir 'n naweek waar ons met Beram en Peter van STAMP ontmoet het. Ek is toe daar weg vir my 'visa run' in Maleisië en met my terugkoms op die eiland was ons besoek deur 'n informele onderrig-liggaam ... En kort daarna daag 'n media span op wat 'n dokumentêr kom maak het oor dit wat ons hier in Thailand onder die Moken doen. Die een ding het so vinnig gevolg op die ander, dat ek nou eers 'n breek kon vat om julle al my nuus te vertel.
So, aan die begin van Desember
is ons deur 'n groot
groep van Maleisië
af besoek. Hulle was hier om spesiaal saam met die Moken kersfees te
fier. Groot was die verrassing toe ons die middag van die skool af
kom en daar moet onderhoude met ons gevoer word. Na dit het ons
lekker saam met die Moken geëet waarna almal die geleentheid gehad
het om 'n opvoering te gee. Die Moken het uitgehaal en wys met hulle
tradisionele danse wat mens herrinner aan 'n mengsel van Thai en
Afrika ritme. Dit was baie lekker en baie interessant om te sien.
Vroeg die volgende oggend is ons skool toe soos gewoonlik en 'n uur
of so later daag die hele groep ook daar op – sonder enige vooraf
reelings. Hulle probeer toe sommer om die Thai kinders Engels te leer
maar die groot gaping in die taal het hulle gou gevoel. Ek moes toe
soos 'n mal mens tussen die klasse rond draf om vir elke klas se
kinders te probeer verduidelik wat van hulle verwag word. Na die tyd
het die onderwysers duidelik laat blyk dat dit nie weer gaan gebeur
nie. Hulle voorstel was dat die oorseese groepe eerder by die huis
bly en hul geld oorstuur vir die Moken kinders, as hulle iets goeds
wou doen...
Hierdie skool insident asook ander dinge wat deurentyd skeefloop wanneer die groepe hier kuier, het my beweeg om dringend met Peter te praat. Na 'n groot gesukkel stem Peter uiteindelik in om tyd aan my af te staan die Sondag na kerk waartydens ek 'n kans gehad het om verdere bekommernisse aan hom bekend te maak. Verlede jaar Junie toe die noodbouspan en lede van my stuursel hier was het ons saam met Peter vergader en sake bespreek en weer toe dominee Thomas hier was in November. Ek was baie teleurgesteld in die manier waarop Peter die gesprek en probleme hanteer het. Ek het toe versoek dat 'n derde persoon, Beram vans STAMP, inbring word om ons te help met broodnodige oplossings, maar ongelukkig was Peter ontwykend en het nie gereken daar is tyd om aan ons af te staan nie.
Skaars was die Maleisiese groep hier weg of ons moes begin met voorbereidings by die skool vir die besoek van die inspekteure. Die arme kinders het hulle oor 'n mik gewerk om alles reg te kry en voor ons ons oë kon uitvee, is hulle toe hier. Hulle was reeds vroegoggend al hier en kyk na alles wat die kinders doen. Ek was toe ook gevra om Engelse lesse vir al die klasse voor te berei en aan te bied. Die eerste middag met afsluiting betrek die een inspekteur my toe ook. Sy trap my van 'n kant af uit oor die Moken kinders volgens haar so vuil is en dat dit lyk of hulle klere nooit gewas word nie. Ek moes toe maar net lag en sê dat dit die skoonste is wat hulle nog ooit was wanneer hulle by die skool is! Gelukkig kon khru (onderwyser) Noeie haar verduidelik wat die situasie is. Ons raai toe aan dat sy self na die Moken dorpie moet kom as sy wil verstaan wat aangaan. Daarna het haar hele houding verander. Sy kan nie glo ek woon daar nie en sy sien nou wat ek bedoel as ek sê dat die kinders skoon is by die skool. Voor sy hier weg is het sy 'n opname gemaak van wat ek hier doen en was haar oë vol trane. So is die inspekteure toe hier weg en het ons skool ook hulle inspeksie geslaag. Ek wil net ook darem noem dat dit alles oor kersfees gebeur het, en omdat Thailand nie kersfees vier nie, het ons nie eers vir 'n oomblik daaraan kon dink nie, so besig was ons.
Verjaarsdag kaartjies wat die kinders vir my gemaak het
een kaartjie na aan my hart
Na die einde van die inspeksie breek die einde van die jaar ook aan en het ons so twee dae breek. Ek en drie seuns gaan toe Ranong toe vir die gedoente maar na die eerste aand sê ek aan Jonathan (Jon), wat toe op pad Phuket toe is, dat ek griep of iets het – dis nou behalwe die kroniese sinus infeksie wat ek sedert Augustus het. Dinsdag toe ons terug op die eiland is, voel ek iets groots is fout. Ek kan nie roer nie of daar skiet 'n ondraaglike pyn deur my lyf en my koors is ook oor die 40ºC. Ek vermoed toe dit is weer Dengue koors maar is nie seker nie met gevolg dat ek dokter toe is die volgende dag, maar nou is daar geen koors nie en my lyf is nie seer nie. Hy gee my toe iets vir griep en sowaar, daai aand is dit toe erger as die vorige keer. Kyk, ek was nog nooit so seer in my lewe nie, dit voel nou letterlik of elke been in jou lyf gebreek is! Ek en Jon klim toe die Vrydag op 'n snel-boot om mediese hulp in Ranong te gaan soek. Daar aangekom wag Chanita en haar man vir ons. Hulle is gemeente lede van die Ranong kerk met wie ons goed bevriend is. Ons gaan toe kliniek toe vir Dengue toetse maar weereens is daar geen simptome nie. Gelukkig oorreed ons die dokter om tog bloed toetse te neem wat toe beteken ons moes tot die aand wag vir die uitslag. Terwyl ek en Jon by die huis gaan wag, kyk ons 'n dvd oor 'The Finger of God'. Dit was wonderlik om te sien hoe Vader alle mense onvoorwaardelik lief het. My hart en Jon se hart was so gevul met Sy liefde en die volgende oomblik is al my Dengue simptome weg. Ek voel 100%, selfs die sinusitis wat ek gehad het is geheel en al op geklaar! Ek en Jon is toe die aand al singende weg om die resultate te gaan kry en jou waarlik, dit was toe Dengue sowel as 'n slegte griep infeksie. Sjoe maar Pappa is goed vir ons! Nou is dit net die lang pad van liggaamlike herstel wat tot 3 maande kan duur.
Nog is dit nie die einde aan die plesier vir die kinders nie. Die skool reel toe dat ons op 'n uitstappie gaan en die Moken kinders word ook genooi. Ses van die kinders wys toe belangstelling om saam te gaan. Jinne, maar ek was bly om dit te sien! Kan julle nog onthou hoe skaam en bang die kinders was? Met die noem van 'n uitstappie verdwyn hulle soos mis voor die son en was dit 'n groot gesmeek om net een of twee daar te kry. Die keer het almal gegaan wat kon en het hulle dit geniet! Ons (ek, drie onderwysers en 18 kinders waarvan 6 Moken was) het die Woensdagmiddag op 'n boot geklim en die aand op Ranong oor geslaap. Drie uur die oggend is ons op om die bus te klim sodat ons 8 ure later by Phrathuab Khiriekhan kon uitkom. Daar het ons die drywende mark en die tempel op Hua Hin besoek, asook 'n speelpark en laastens was ons by 'n Switserse skaap plaas (kan jy dit glo?). Die kinders het die diere baie geniet en hulle dood gegril as die kalfies aan hulle lek. Toe breek die lang rit terug Ranong toe aan. Ons het eers 23h30 daar aangekom waarna ek die kinders die volgende oggend terug eiland toe moes vat, om net weer 'n snelboot terug Ranong toe te kry sodat ek die oornag bus na Bangkok kon haal vir ons vergadering wat STAMP ons uiteindelik toegestaan het.
So kom ek net na 5 die volgende oggend in Bangkok
aan en kry 'n taxi wat my na die hotel toe vat waar ek vir Jon &
Cally ontmoet – hulle het al die vorige dag daar aan gekom. Ons
besluit toe wat regtig van belang is om in ons voor-vergadering met
Beram te bespreek indien daar misverstande is wat moes opgeklaar word
tussen ons. Daarna het ons met 'n oop gemoed en skoon lei na die
vergadering gegaan sonder enige vooropgestelde idees. Dit kon so
anders gewees het en ongelukkig was die uiteinde dat ek besef het ek
kan nie verder onder Peter werk nie. Jon en Cally het ook gesê hulle
kan nie meer na twee jaar nie. STAMP was van mening dat wanneer
iemand hul organisasie verlaat, moet hulle ook die veld verlaat, maar
die werk onder die Moken kan nie net aan en afgeskakel word nie. Die
Moken sal baie skade lei as dit gebeur en al ons fondasie-werk sal
tot niet gaan as dit die geval sou wees. Daar is dus besluit dat ons
aan die einde van Februarie met 'n voorstel na STAMP toe gaan om te
sien of ons langs mekaar kan werk voorentoe.
Nog vasgevang in die naweek se
gebeure is ek op 'n vliegtuig Maleisië
toe vir my 'visa run'.
In Penang aangekom word ek gegroet deur ou vriende en was dit nou
lekker! Die eerste aand gaan ons uiteet en Jon se ouers asook lede
van sy stuursel was daar. Toe moet ek die hele gebeurtenis van die
naweek met hulle deel (terwyl ons die lekkerste seekos geniet!). Die
volgende dag gaan ek toe na die Thai ambasade vir die visa aansoek
net om uit te vind dat dit toe is die daaropvolgende dag - ek kan dit
eers Vrydag middag kry en dit is die dag waarop ek uitvlieg. Ek vra
baie mooi en die man is vriendelik genoeg om my vergunning te gee vir
Vrydagoggend. Intussen ontmoet ek die wonderlikste mense in Penang!
Ek is bemoedig en aangemoedig deur woord en gebed met dit wat ons
hier doen. Die mense daar is waarlik bekommerd oor ons en is waarlik
lief vir ons. Dit was wonderlik om tyd saam met hulle te spandeer en
ek is versterk en vol liefde daar weg Vrydag middag. Terug in
Thailand het daar weer 'n vyf-uur busrit Ranong tie vir my gewag.
Daar aangekom is ek begroet deur Jon hulle maar Cally was baie siek
met swere en pitswere en moes uiteindelik nood gedwonge Phuket to
gaan vir beter mediese behandeling. Sy het intussen baie goed
aangesterk.
So is ek weer Saterdag op die groot boot terug eiland toe. Daar aangekom word ek verwelkom deur 'n groep opgewonde kinders waarvan my seuns deel is. Sjoe maar dit was lekker om die kinders weer te sien na die week wat soos 'n ewigheid gevoel het! Sondag is Wasana van STAMP weer daar om die Moken godsiens te leer en die aand kom twee mense daar aangestap wat sê hulle is van die informele onderrig-liggaam van Thailand. Hulle is glo daar om die Moken te help met onderrig en ander dinge... Ek sê toe dat die kinders reeds skool toe gaan maar dit is asof hulle nie hoor nie - glo kom daar nog ander mense dievolgende dag wat die kinder vir TV wil afneem. Die onderwysers by die skool sê ek moet my nie te veel aan hulle stuur nie. Wel, na skool Maandag wag die klomp toe by die dorpie vir ons. Hulle het intussen met die Moken gereël vir 'n tradisionele opvoering die aand waarna hulle met die Moken gaan vergader om te sê hoe hulle gaan 'help'. Die aand breek toe aan en glo dit of nie, die Moken laat die ouer garde haal om leiding te neem met die oue rituele. Nie wat nie, die spul bring 'n voedsel-offer aan die geeste en dit duur nie lank nie of die geeste daag toe ook daar op! Ag, was dit hartseer om die mense vir wie ons so lief is so te sien. Aan die ander kant was die waarheid uit. Party van die kinders was so kwaad vir hul ouers, wat gese het hulle sal dit nooit weer doen nie. Ander kinders was doodbang en het by ons kom sit om beter te voel. Na al die jare wat STAMP al daar is, 'n kerk gebou en geplant het en getrou Sondae kom dienste hou en goedhartige groepe bring, was hulle aan hul neuse rond gelei om te glo dat die mense ware gelowiges is. Die slegste is dat die voorstaanders in die kerk ook die voorstaanders was wat die geeste oproep het. Die volgende dag is daar “informele onderrig” gehou in die kerksaal sodat die kameras die kinders kan afneem en toe is hulle gou daar weg. Die Moken grootmense roep my toe baie ontsteld – die spul het nooit met hulle gepraat of hulle iets gegee nie. Ek kon maar net my skouer oplig en sê dat ek of die skool niks met die mense te doen nie en dat ek nie geken is in die saak oor wat vir hulle belowe was nie.
dit bly baie mooi
Tussen dit alles deur is ek gekontak deur 'n media maatskappy wat my laat weet het dat hull graag, met ons samewerking, 'n dokumentêr wil maak oor dit wat ons hier onder die Moken doen. Was dit nou vir jou interessant! Hulle het ons vir twee dae sonder ophou gevolg, vandat ons opstaan in die oggend totdat ons gaan slaap in die aand was hulle daar met hulle klank pale en video kameras. Hulle het onderhoude met die mense in die dorpie gevoer, en met die onderwysers asook die kinders. Hulle het my oor alles en wat uitgevra. Self teen die einde het hulle gevra, so as 'n Christen is, doen ons al die dinge om hemel toe te gaan? Die liefdes-verhaal van 'n Vader wat met Sy kinders wil versoen, het die wind uit die meeste se seile gehaal. Daarna het hulle vir die kinders klere gegee en vir my komberse (ja ons slaap met komberse). Sjoe dit was waarlik 'n anderste ervaring.
Ek weet hierdie is 'n baie lang
brief en ek hoop julle kon iets wys raak het uit alles wat hier
gebeur het. Duisend dankies vir al julle liefde, gebede en
ondersteuning. Weet dat sonder julle, niks van dit wat hier gebeur
het, moontlik sou gewees het nie. So wees saam met ons verheug in ons
Here wat so onbeskryflik goed is vir ons en wat ons nooit alleen laat
nie.
Ek wil asb vra dat julle ons
spannetjie sal ophou in gebed in hierdie oorgansperiode sodat ons ons
Vader se wil kan doen voorentoe.
Nogmaals baie dankie vir julle
liefde,
In Pappa , Philip อํานาจ
__________________
November 2555 (2012)
Dag sê aan al my vriende oor die wêreld! Jip, nog 'n maand is verby en die nuwe jaar is net om die draai. Dit gaan sommer baie goed met die Moken kinders; ons het nog 'n lekker kuier uit SA gehad; ek besef hoe maklik ander jou kruis-kulturele-brûe kan misbruik; daar is verandering op die horison; en ons speel Loy Krathong.
Dit gaan sommer baie goed met al die Moken kinders! Hulle doen goed op skool en almal vertel net hoe hulle maniere verbeter het. In my klas gaan dit baie goed. Die kinders kan al almal lees (behalwe nog Thong Dii) en hulle doen sommer baie goed in die spel-toetse. Met die wiskunde sukkel dit maar nog so 'n bietjie maar ons is hard besig om daaraan te werk. Dit is waarlik wonderlik om te sien hoe vinnig die kinders aangepas het en dat skool nou nie meer so 'n groot bedreiging is soos in die verlede nie.
Khay Dam lees uit die Bybel
Dan het ek lekker geselskap gehad in ons daaglikse roetine toe ds. Thomas Dreyer van die Gereformeerde kerk Randburg in SA vir ons kom kuier het. Sjoe en het ons lekker gekuier! Kyk, hy het hier ingeval en saam met ons gespeel, geskool, gebly en sommer ge-alles. Ons kon lekker tyd saam spandeer en ek het nou waarlik weer iemand gehad waarmee ek kon praat, nogal in Afrikaans. Jonathan het net so lekker met Thomas gekuier (in Engels) en ek is baie opgewonde oor dit wat Thomas my alles van ons gemeente in SA mee gedeel het. Hulle is besig met groot dinge en ek is so opgewonde want ek sien die hart van sending daarin. Ons het toe ook 'n geleentheid gehad om met Peter van STAMP te praat, net soos in Julie toe lede van my stuursel hier was met die huisbou-projek.
Met die wat Thomas hier was het ek gesien hoe die kinders, omdat hulle my vertrou, onmiddellik 'n band met hom gesmee het. Hulle het gespeel asof hulle ou vriende was en ek het besef dat die kruis-kulturele-brug wat ek hier in die Moken gemeenskap gebou het, baie gevaarlik kan wees. Ek het besef dat alle besoekers vooraf ingelig moet word maar ook dat hul motiewe fyner ondersoek moet word, voordat hulle toegelaat word om die vertrouensbrug te gebruik. Dit is 'n baie kosbare brug wat ek oor tyd, deur verhoudings opgebou het, en moet verseker dat dit nie misbruik word nie. Buitestaanders word dadelik deur die Moken gemeenskap aanvaar omdat ek hulle inbring en dit is gevaarlik.
Dit het my oë oop gemaak vir dit wat hier gebeur. Ek het besef dat ons eers die kat uit die boom moet kyk en nie sommer dadelik met die groepe wat hier ingebring word om hul eie dinge te doen, kan vereenselwig nie. Dis al 'n geruime tyd wat ons besef daar sal groot veranderings moet plaasvind as ons dit sal wil regkry. Al wat ek weet is dat dinge gaan gebeur, maar ons sal moet wag en sien wanneer en hoe dit gaan gebeur.
Dan wil ek net vir elkeen van julle baie dankie sê vir al julle liefde, ondersteuning en gebede. Weet dat sonder julle dit nie vir my moontlik sou gewees het om hier te wees nie.
Baie liefde en vrede vir julle in Hom oor wie dit alles gaan, Jesus ons Here.
In Pappa
Philip อํานาจ
_________________
Oktober 2555 (2012)
Hier is nou vir julle 'n lekker verrassing! Moet asb nie skrik nie, daar is nie weer twee maande verby nie, net een! Ek is net vir 'n verandering op tyd. Ek groet julle almal in die Naam wat bo elke naam is, die enigste Persoon in wie ons versoen kan word met ons Vader, die Naam van ons Here Jesus Christus. Ag dit was nou vir jou 'n lekker maand gewees die! My ma en tannie het kom kuier, twee van die seuns was saam Phuket toe en ek was in Kuala Lumpur vir 'n visa run.
Sjoe dit was 'n lekker verrassing toe ek hoor my ma (Elsabi) en tannie (my ma se jongste sus Sarie) kom kuier. Dit dit was lekker kort kennisgewing maar op die einde is alles gereël en reg vir hulle aankoms. Die kinders was besig om eksamens te skryf, maar dit is 'n dag of twee vir die Moken kinders uitgestel want ek moes my ma-hulle gaan haal het daar op Phuket lughawe. Die dag breek toe aan en ek en twee Moken seuns is hier weg om my ma-hulle te gaan ontmoet. Na die lang bus rit sit ons toe op die lughawe en wag vir die vliegtuig om enige minuut te land, toe ek die sms kry: “Waar is jy, ons wag al meer as twee ure vir jou....” Eers dink ek my ma skeer die gek met my maar toe besef ek sy kan my nie van die vliegtuig af sms nie. Ja glo dit of nie, hulle het op die verkeerde lughawe afgeklim – hulle sit so ewe en wag vir my op KL lughawe in Maleisië! En so het hul vakansie hier op 'n hoogtepunt begin. Vinnig het ons vir hulle 'n vlug met Air Asia gereël en so land hulle later die selfde aand in Phuket. So het hulle het toe al Thailand se beste vervoer ervaar: van 'n bus tot 'n song teaw, ook motorfiets, taxi en boot ritte. Ons het die tyd saam baie geniet en dit is wonderlik om te weet dat jou ma ook van die plek hou waar jy woon!
As 'n mens op 'n eiland gebore word en jou goorste dorp wat jy ooit besoek het Ranong is, is jou wêreld maar redelik klein en wag daar vir jou 'n groot verrassing die oomblik wanneer jy die res van die wêreld begin verken. Met dit in gedagte, vat ek toe twee seuns, Tiny en James, saam met my Phuket toe, om my ma-hulle te gaan ontmoet. Daar bly ons toe vir twee dae in 'n hotel. Nou alles was nuut vir hulle... van die hysbak tot die kos wat hulle daar eet. Hulle was so geskok om al die mense te sien dat hulle later vir my gesê het, hulle dink al die mense in die wêreld woon in Phuket. Hulle glo vas dat die hysbak lewendig is en hoe weet die winkeldeure hulle moet oop gaan as jy voor hulle staan? Die snaaksste vir my was ontbyt: stel jou voor, omtrent vyftien geregte om van te kies: heerlike vrugte, koffie en alles soorte brode met konfyt en botter. Hulle het die spul kos so bekyk en opdaad besluit dit kwalifiseer nie as kos nie - hoe kan mens sulke goed eet, selfs die rys lyk anders! Sjoe, dit was 'n groot ding vir hulle! My ma en tannie het egter baie gehelp om die ergste ys te breek en nou wil die seuns net weer terug gaan. Hulle kan nie ophou praat van die tyd saam my ma-hulle in Phuket nie.
My ma kuier in ons nuwe huis
Dan het ek een dominee ontmoet wat die kinders van onwettige vlugteling in Maleisië help. Daar is al meer as 700 kinders in sy skool en hy is waarlik soos 'n pa vir hulle. Hy sê dit is nou sy kerk waarin hy waarlik 'n verskil kan maak in die wêreld. Hulle is dringend opsoek na mense wat hulle kan help by die skool. So julle jong mens wat 'n hart vir sending het, hier is 'n gulde geleentheid, deeltyds of voltyds, om betrokke te raak by die skool en so kosbare harte en lewens aan te raak.
So ja, weereens duisend dankies vir al julle liefde, gebede en getroue ondersteuning, weet sonder julle is ons werk hier nie moontlik nie.
Liefde groete in Hom oor wie dit alles gaan.
In Pappa
Philip อํานาจ
Aug & Sep 2555 (2012)
Dag sê aan al my vriende en vriendinne oor die wêreld. Ja kyk ek was nog nie so laat met 'n brief soos die een nie! Maar wat, dit was seker een van die besigste tye wat ek nou deur is sedert my aankoms op die eiland. Die kinders het moedersdag gevier, 'n onverwagte gebed, die skool het 'n nuwe hoof en dan was ek lekker siek gewees.
Anders as in SA, vier Thailand moedersdag op die koningin se verjaarsdag. Dit is dan die geleentheid vir die kinders om by hul skool aan hulle moeders hulde te bring. Dis hoe ek besluit het om elke Moken ma persoonlik uit te nooi om skool toe te kom vir die spesiale dag. Gewoonlik is daar net een of twee wat gaan. Hulle is vreeslik skaam vir alles en almal en ek het gedink daar gaan weer niemand opdaag nie. Groot was die verrassing toe omtrent al die Moken ma's opdaag by die geleentheid! Dit is 'n pragtige tradisie van die Thai's: die kinders gaan tot reg voor hulle ma's en dan kniel hulle waarna hulle opstaan en hulle ma's 'n stywe druk gee. Nou vir die meeste Moken kinders word daar nie drukkies gegee deur hulle ouers nie, so dit was 'n baie groot geleentheid vir hulle. Die kinders het gehuil en kon nie genoeg kry van hulle ma's se aandag nie. Een van die ma's het na die tyd gesê dat hulle dit baie waardeer het dat ons hulle uitgenooi het en dit was baie lekker vir hulle gewees. Vir my is die mooi daarvan dat ek sedertdien elke kort-kort 'n ma sien wat haar kind 'n drukkie gee!
Nou dat die Moken kinders gereeld skool toe gaan, bly daar gewoonlik tussen twee tot vier seuns by my. Dit is juis omdat hulle ouers op die see uitgaan en dan nie na hulle kinders kan kyk as hulle in 'n skool roetine is nie. So die kinders gaan of saam see toe, of hulle bly daar by my. Ek het 'n kinderbybel met die mooiste illustrasies in. Dit is dan my gewoonte om die Bybel aan die kinders te gee sodat hulle na die prente kan kyk waarna ek dan die storie vertel. Hulle geniet dit baie en is veral gefasineer deur die storie waar Jesus gekruisig word - ek dink dit is vir hulle moeilik om te verstaan waarom Jesus dit gedoen het en hoekom Hy wat God is, so iets toegelaat het. Een van die vrae is gewoonlik hoekom het Hy nie terug geveg nie, Hy is dan God. So verduidelik ek dan die hele storie aan hulle. Een aand het ek op die internet gesoek na Moken video's en kry toe 'n kort uittreksel oor presies dieselfde stukkie en toe ek dit vir hulle wys is Khay Dam (een van die seuns), in trane. So gebeur dit weer een dag dat ek Jesus se kruisiging moet vertel. Saans voor ons gaan slaap kry elke seun 'n beurt om te bid, maar die aand was waarlik besonders. Khay Dam bid vir almal in die huis en hulle gesinne en hier teen die einde sê hy: 'Dankie Vader dat U Jesus vir ons laat sterf het sodat ons U kan ken as Vader.' Nou kyk, dit het die wind behoorlik uit my seile gehaal!
Die Moken gemeenskap hou vergadering
Vir 'n halwe jaar al het ons skooltjie nie 'n skoolhoof gehad nie. Dit was in sekere opsigte lekker, maar het ook sy nadele gehad. Een groot voordeel was dat die waarnemende hoof baie van my gehou het en aangebied het om my te help met my visa. Ongelukkig was die kos in die skool nie baie lekker nie maar meer belangrik was dat die waarnemende hoof se hande in baie opsigte afgekap was om besluite te neem.
Intussen is daar 'n nuwe skoolhoof aangestel en so het die kos sommer baie verbeter, maar nou wil hy eers die kat uit die boom uitkyk, voor hy gaan inwillig om my te help met 'n permanente visa aansoek. Nou is ek weer terug waar ek was - elke drie maande Maleisië toe om my visa te hernu vir die volgende drie maande.
Omtrent so ses weke gelede het ek 'n 'verkoue' gekry. Ek weet nou dat dit nie sommer 'n gewone verkoue was nie want die siekte is nog steeds met my. Dit het die afgelope ruk vreeslik hier gereën. Nou ek weet ons Suid-Afrikaners dink ons ken reën, maar ek het nog nooit so iets beleef nie. Dit het seker vir drie weke, sonder ophou, elke dag meer as 100mm gereën en ek oordryf nie. Dit is nogal 'n gesig om te sien! Die winde ruk, die golwe raas en slaan, en die reën val sonder ophou. Gelukkig is ons lekker hoog en droog in my nuwe huis al het die hout later wit geword van die muf, maar wat. Natuurlik is alles deurnat wat nie goed was vir my verkoue nie. Die verkoue het later 'n sinus infeksie geword en na drie antibiotika-behandelings(!) het dit nog nie opgeklaar nie. Ek het ook al hoe meer energie verloor hoe langer dit geduur het. Onlangs is ek na 'n oor-neus-keel dokter toe en begin nou eers weer soos 'n mens te voel. Ek glo van hieraf gaan ek sommer vinnig weer my self wees.
Dit is weer my voorreg om nog 'n keer vir julle duisend dankies te sê vir al julle liefde en gebede. Weet dat die werk hier nie sonder julle kan gebeur nie. Dit is vir my waarlik 'n voorreg om julle deel van my span te hê. Liefde en vrede vir julle van Hom wat ons Vader (Pappa) kan noem.
Liefde
In Pappa
Philip อํานาจ
____________________
Junie & Julie 2555 (2012)
Sjoe maar die tyd vlieg! Dit voel net soos gister wat ek aan julle geskryf het maar as ek dink aan wat alles intussen gebeur het, nou ja, dan vlieg die tyd! Ek groet julle almal in die Naam wat bo elke naam is, Jesus Christus, en glo dat julle elke dag in Sy liefde lewe. Ek weet nie eens waar om te begin nie. Umm, die see was regdeur my huis en toe ek my oë uitvee is my huis in die lug, die Moken kinders en die skool, en my visie (gesig). Die res sal julle maar self hier moet kom hoor, oor 'n lekker koppie 3-in-1-koffie terwyl 'n gogga of drie jou byt!
Jon en ons by ons nuwe woning
Soveel meer spasie binne
Nou soos julle weet gaan daar 'n klomp Moken kinders skool toe. Ek kan nie help om te dink aan die gesegde “'n blom is 'n geleerde onkruid” nie, of so iets. Julle sal verstaan wat ek bedoel as julle die volgende lees. Vir een week was een van die onderwyser nie by die skool nie, want sy vrou was baie siek en hy het haar gaan oppas in die hospitaal. Hy gee klas aan die voorskoolse graad twee klas, wat hoofsaaklik uit Moken kinders bestaan. So een oggend wil die een seun Tiny nie skool toe nie en omdat ons toe reeds laat is, het ek nie tyd om te gaan hoor wat is fout nie. By die skool aangekom roep een van die onderwysers my en gaan wys my die leë klaskamer. Met die instap weet ek toe sommer hoekom Tiny skielik olik is.... die mure is oortrek met die mooiste kinderkuns - dit is net bote en visse en palmbome waar jy kyk!
Die beste van alles is dat ons die volgende dag 'n funksie in die einste klas kamer beplan het en dus moes die vetkryt-kuns af voor die volgende dag. Tiny was dan ook die voorbok. Met die klim ek net daar op my motorfiets en gaan haal hom. Dankie tog die kuns was af voor die volgende dag.
Hierdie einste klas kinders moet in die middae so 'n bietjie slaap. Met die wat die onderwyser weg is, wag die ander onderwysers net totdat hulle almal slaap en dan gaan hulle terug na hulle eie klas toe. Dit het die kinders nie lang gevat om dit uit te werk nie en dan as die onderwyser weg, is klim hulle by die venster uit en gaan speel hulle aan die agterkant van die klas wat hulle beskilder het. Aan die kan van die klas is daar 'n afgod-altaar met 'n lang knie-diep visdam en die hoofpad net langs dit. Die klomp kinders besluit toe hulle kry warm – af is die klere en baljaar hulle te lekker in die heilige water ten aanskoue van almal wat die pad gebruik. Kyk, hulle is vir jou besig. As hulle nie die bekers in die klas breek nie besmeer hulle mekaar met die onderwyser se room.
Dan het ek weereens 'n wonderlike ervaring gehad met ons Here. Die jaar voor ek Thailand toe is was ek saam met Johan Beukman in Zambië. Ons was by die Tongas se byeenkoms waarin hulle die Here gedank het vir alles wat Hy onder hulle mense doen. Dit was 'n wonderlike ervaring vir my. Ek onthou hoe dat die een blinde vroutjie hier reg voor my oë genees is. Haar oë was spierwit en dit het helder voor my oë geword. Daar op daai byeenkoms het ek 'n visie (gesig) gesien: ek het by die see gestaan en teen 'n boom gerus. Die son was of besig om oor die see op te kom of onder te gaan. Ek het geglimlag en geweet dit is waar ek moet wees. Vyf jaar later op Ko Phayam eiland stap ek een laatmiddag op die strand en kry die gevoel om terug te kyk en daar is dit, die presiese visie wat ek voorheen gesien het. Daar was selfs 'n boom waarteen ek kon gaan leun - en toe weet ek, hier is die plek wat Vader wil hê ek moet wees. Na dit het die Here my nog ook geseën met 'n pragtige nuwe woning, die skool gaan my help met die visa en dan net die kersie op die koek, vreemdelinge stop vyfduisend baat in my hand vir dit wat ek hier doen. Julle weet nie hoe wonderlik dit is as die dinge so uitwerk nie. Al wat ek kan sê is dat ons 'n onbeskryflike Vader het en dat ek dol verlief is op Hom.
My visie...
Nogmaals baie dankie vir al julle liefde en ondersteuning en al julle gebede. Sonder julle sou dit nie vir my moontlik gewees het om hier te wees nie. Baie liefde en vrede in Hom vir julle almal.
Liefde groete
In Pappa
Philip อํานาจ
______________________________________________________________________________Mei 2555
Dagsê aan al my vriende en vriendinne oor die wêreld! Hier is 'n lekker verrassing vir julle. Ek is die maand op tyd met my nuusbrief en was dit 'n besige maand gewees! Ek het my huis groter gemaak, die nuwe skooljaar het begin en dan was daar ook nog al die infeksies wat ek agter die rug het, om maar net 'n paar te noem.
Soos julle weet het ek 'n huisie gebou op die eiland waarin ek woon. Met die wat ek nou na die kinders kyk, het die ou klein plekkie heeltemal te klein geword. Ek het toe besluit dat ek die plek sal moet groter maak voor die skool begin en was dit vir jou pret! Kyk, dit is 'n baie eenvoudige struktuur, maar die probleem is nie soseer die bou nie maar om al die boumateriaal daar te kry. Ek is een dag Ranong toe om al die nodige hout en goed te gaan koop en toe moet dit terug eiland toe met die boot natuurlik. Dit het nog maklik gegaan, maar om dit van die boot tot op die eiland te kry en dan tot by die Moken dorpie, was nie so maklik nie. Die meeste van die goed kon ek darm met een van die Moken bootjies tot by die dorpie bring, maar toe begin die storms... Die golwe was naderhand te groot vir die bootjies om om die eiland te vaar en ek moes toe alles een vir een aanry met die motorfiets. Daarna moes dit op die vlot en dan aandra tot waar ek die huis bou.
Ek weet dit klink nie te rof nie, maar probeer die prentjie skep: dit reën dat dit bars, jy is deur-water nat, jy het net 'n motorfiets en jy moet 40 houtpale, 32 sakkies sand, 10 sakkies klip, 5 sakkies sement (onthou dit moet droog bly) en wat nog alles aanry. Dan moet dit op die vlot gelaai word, 100 m oor getrek word na die anderkant van die kanaal en dan nog 50 m vêr gedra word! Om dan net uit te vind hulle het die verkeerde pale vir jou gegee... Terwyl ons so bou was dit nog spring gety en breek die golwe tot binne in die huis! Een van die seun wat by my bly se stief pa het darm kom help en die werk baie makliker gemaak. Kyk dit was vir jou 'n ding, maar ek was baie dankbaar dit was koeler weer. So nou is die huis klaar en ek kan nie vir julle sê hoe lekker woon ek nie.
Die huis was skaars klaar of die nuwe skooljaar het begin. Toe is dit terug skool toe vir ons almal! Ek was toe nog dood moeg van die huisbou, maar skool toe moet ons gaan. Daar is nou 13 kinders wat skool toe gaan en almal word in die oggende met die motorfiets en waentjie aangery. Dit is nogal 'n gesig om te sien en ons word elke oggend met glimlagge begroet op die pad. Die skool is baie dankbaar dat die Moken kinders nou gereeld skool toe gaan. Ek is ook gevra om uit te help met die Engelse klasse. Ons was skaars 'n paar dae by die skool of 'n paar van die onderwysers moet Ranong toe vir vergaderings. Ek word toe sommer ingespan om met die eenvoudige Thai klasse en wiskunde uit te help. Die skoolhoof was so beïndruk en die nuus van die 'farang' wat die kinders onderrig het vinnig versprei. 'n Week later ontvang ek toe 'n uitnodiging om by een van die top skole in Ranong te gaan onderrig. Groot was die verligting van die skoolhoof toe ek die aanbod van die hand wys. Daai volgende Sondag ontvang ek toe ook sommer 'n besoek van die skoolhoof by die huis, waarin ek bedank en aangemoedig word om so voort te gaan. Sy het haar waardering uitgespreek vir dit wat ons doen en my weereens aangemoedig om die goeie werk voort te sit.
Met die huisbou het ek elke kort-kort in 'n stuk glas getrap wat die hele wêreld vol lê. Die meeste van die wonde het gelukkig baie vinnig gesond geword, maar een of twee het besluit om my 'n harde tyd te gee en erg geinfekteer. Een aand word ek wakker en my regter voet juk so, dat dit voel of ek dit met 'n mes wil afsny, net om van die gejuk ontslae te raak. Ek kan nie beskryf hoe erg dit juk nie. Die bakterieë vorm sulke klein pypies onder die vel, dit lyk amper soos 'n wurm wat loop, maar die juk is onbeskryflik! As die pypie oop gesny word is dit vol vog. Ek gooi dan sommer skoon alkohol op die plekke en dan brand dit verskriklik, maar die brand voel dam beter as die juk. Ek kon myself nie indink aan iets erger as die gejuk nie, maar was ek verkeerd!
Ek plak die plekke sommer met pleisters toe om dit te probeer skoon hou. Daar kruip toe nog 'n verrassing vir my weg. Met die baie reën en die vlot is die plekke altyd nat. Ek kry toe in een van die wonde 'n bakterieë wat so onder die vel die vleis aanval. Dit is so 'n pers swart kleur. Die pyn, ag mens voel nie eers die juk nie, so seer is dit. Die ergste van alles is jy kan elke keer sien hoe dit groter en groter word en later kan jy nie eers meer op die voet trap nie. Na net 'n halwe dag kon ek dit nie meer hou nie en is ek kliniek toe. Die dr. daar sê toe as dit nie gestop word nie, hou dit net aan, totdat jou hele been naderhand swart en geswel is. Sy het my op een of ander antibiotika en ek voel al stukke beter.
Soos julle kan sien is daar nie 'n oomblik wat verby gaan waarin ons nie een of ander opwindende ding ervaar nie. Weereens duisende dankies vir al julle liefde en gebede en ondersteuning. Sonder julle was al die dinge nie moontlik nie. Daar is nog so baie wat gebeur het, soos die seun wat begin verstaan wat ons Here vir ons gedoen het, die yskas wat hier aangekom het en my lewe op die eiland vergemaklik, die 'inverter' wat uitgebrand het, gasstoof se seel wat gegroet het, dinge wat by die skool gebeur en nog so baie. Mag die liefde van ons Here ook vir julle 'n konstante werklikheid wees!
Liefde groete
In Pappa
Philip อํานาจ
_______________________
Maart & April 2555 (2012)
Dag sêaan al my vriende en vriendinne oor die wêreld! Ja julle sal begin dink dat dit nou 'n gewoonte gaan raak om my nuusbriewe eers elke tweede maand uit te stuur. Ek vertrou julle verstaan dat dit soms gebeur. So net voor ek gaan kuier het in SA het ons eksamengeskryf by die skool, geleer drom speel en was ons vir 'n sport byeenkomsop een van die eilande, en toe gebeur daar iets. Daarna was ek vir amper 'n maand in SA waar ek lekker kon rus en weer agterkom hoe baie die sendingveld my verander het.
Soos die dae kom en gaan en ek die kinders skool toe vat, nader ons toe die einde van die die skooljaar hier in Thailand wanneer almal moet eksamen skryf. Ek het sommer van die begin af geweet die Moken kinders gaan nie kan skryf nie want hulle kan nie eers lees nie, maar oooo weee! Hier word van graad een af eksamen geskryf en nie net een vraestel nie, maar nege! Die arme kinders het almal geskryf en baie swaar gekry. Die goeie ding hier in Thailand is dat die kinders darem gehelp word. Die onnies het gou gesien wie maak eerste klaar in die klas en hulle dan aangesê om die Moken kinders ook te help. Ek is ook later ingespan om die kinders te help. Soveel vir eksamen. Tog word die kinders nie na die volgende graad oorgeplaas nie en is hulle almal hierdie jaar weer in graad een.
Na die slagting van die eksamen word almal gevra om die volgende paar dae gereeld skool toe te gaan. Daar gaan geoefen word vir 'n byeenkoms by een van die ander eilande Haad Say Dam. Die plan is om sport te speel, in 'n orkes te speel en ek weet nie nog wat alles nie. So probeer ek toe die Moken kinders aanmoedig om ook deel te neem, maar hulle is te bang. Later dwing ek toe 'n paar om net 'n kans te vat met die speel van dromme en jou waarlik, die mannetjie Khay Dam kom toe goed reg. Hy word toe ook sommer gekies om in die optog te speel by die byeenkoms. So nou het die Moken kinders nie meer kans vir uitdraai nie en sal hulle moet gaan op die uitstappie. Die skool vra my toe om ook saam te gaan, om met die Moken kinders te help.
So vertrek ons toe een oggend vroeg, met 'n groot gesukkel na die dokke op die eiland om na Haat Say Dam toe te gaan vir die sport byeenkoms. Daar aangekom wag ons vir die ander eilande se kinders om ook op te daag en toe begin die optog deur die dorp na die skoolterrein. Dit so lekker om te sien hoe die Moken kinders deelneem aan die optog! Kyk, hulle het hulle harte uit gespeel! Die sport dag het plaas gevind oor twee dae, so ons het die aand daar oor geslaap, wel meer korrek is probeer slaap. Daar was vier eilande maar net drie plekke, maar geen verloorders nie. Daar was die eerste, tweede en gesamentlike derde plek. Dit was 'n belewenis om te sien hoe hulle mekaar aanmoedig. Almal was altyd aan die verloorders se kant en daar word self so 'n bietjie verneuk sodat die verloorders nie te vêr verloor nie. Dit was nou waarlik 'n sport byeenkoms om mekaar op te bou en te geniet. Almal was op die einde wenners en niemand het met leë hande terug gegaan huistoe nie.
Na al die opwinding was ek besig om gereed te maak om na SA te reis, maar daar moes nog eers iets gebeur. Een oggend net voor die skool sluit, terwyl ons regmaak vir skool, kom een van die Moken mans by my huisie aan en vra of ek nie gou vir 'n ou vroutjie kan gaan bid nie - die geeste het haar die vorige aand besoek. Vinnig maak ek klaar met die kinders en gaan toe na waar sy is. Nou is al elf kinders wat saam skool toe gaan, saam met my na haar toe. Daar gekom lyk dit asof die vroutjie epilepsie aanvalle kry. Dadelik weet ek dat die kinders nie verniet daar is nie en soek ek in my hart wat my nou te doen staan. Maar ons Here is wonderlik en ek het dadelik geweet dat Hy iets groots gaan doen. Ek vat toe die vroutjie se hand in myne en ervaar ons Here se liefde vir haar en met 'n eenvoudige gebed, wat die kinders kan verstaan, beveel ek die siekte om haar te verlaat en sy is gesond.
My hart was persoonlik baie seer toe ek in SA was. Daar
is die haat wat ek in mense sien teenoor ander wat my baie seer gemaak het. Aan
die eenkant bring ons lof aan die Here en aan die anderkant haat ons ons
naaste. Die manier wat die wit en swart mense teenoor mekaar optree was
ondraaglik vir my. Van die regering tot die kerk gaan dit alles net oor self,
alles handel net om self.
Ek vra haar toe wat gebeur het en so vertel sy my dat daar vier
geeste was wat haar besoek het. Een was vroulik en is na die boonste vertrek,
maar die drie manlike geeste het by haar kop en ent van haar bed gaan sit. Die
ondervra haar toe wie haar die reg gegee het om in die huis te bly. Sy probeer
toe verduidelik maar hulle sê dat sy geen reg het om daar te bly nie. Sy sê
hulle gesigte was diep en swart maar sy was nie bang vir hulle nie. Toe verdwyn
hulle en sy begin so onbeheerslik ruk. Sy vra toe ook of ons in haar huis kan
kom bid wanneer ons terug kom van die skool af. Ons verlaat haar toe en so met
die stap na die vlot toe sê een van die seuns vir my, nou weet hulle dat God
regtig bestaan al kan hulle Hom nie sien nie. Hulle sê ek bid so maklik en dat
Hy my gehoor het.
So met die hoogte punt hier in Thailand, is ek weg SA toe. Dit was
wonderlik om weer almal in my familie te sien en saam te kuier. Ek het ook lekker by die see gerus. Ek sou
graag meer van julle almal wou sien maar die tydjie was baie kort. Tog was dit
'n baie vrugbare tyd en ook 'n baie hartseer tyd vir my.
Nou kyk, hulle sê dat die sendingveld
jou verander, maar glo vir my ek is nie altyd gereed vir die verandering
nie. Nou ek weet dat die meeste van julle 'n idee het van waar Thailand is en
dit al selfs besoek het. Afgode en ander gode word openlik aanbid en geeste is
nie iets vreemd vir hulle nie. Tog kan jy dit sien en word dit openlik gedoen.
Maar in SA is dit veel erger want jy kan net nie jou vinger daarop plaas nie.
Wat sleg was vir my is dat dit deur almal aanvaar word as die norm en dat dit
ok is. Ek praat van die afgode wat aanbid word deur dieselfde mense wat sê daar
is net een ware God, wie ook Heer is oor alles.
In Thailand sien ons demoniese besetenheid waar bose
geeste beheer neem van mense se fakulteite. Ek het dieselfde woede en
onbeheerstheid hier in SA gesien as ek die koerante gelees het en beskou hoe
ouers by die kantlyn tekere gaan as hulle kinders sport beoefen. Baie van die
mense sit Sondag in die kerk maar glo is dit nie hier verkeerd nie. Die
afgodstempels wat met elke sport geleentheid vol
is en die erediens aan die afgod-sport wat dag en nag oor TV blêr. Die kinders
word aan die afgod Mammon geoffer, wat die land verteer.
As ek kyk na Thailand dan voel ek verlig om terug te
wees, verwyderd van onsienbare en gemaskerde afgode in SA . Die ergste was dat
gelowiges onsensitief is en dit nie agterkom nie, alhoewel hulle self vinnig
ander oordeel vir amper dieselfde ding wat in hul eie lewens is! Op die stadium
lyk dit vir my of die wat dink hulle is op die regte pad, meer verlore is as
die wat ons dink is op die verkeerde pad.
Ons beoefen net maar nog 'n godsdiens
wat deur reëls en regulasies beheer word. Die Ware Lewe is lankal daaruit maar
dit pas onsself baie goed. As daar nog Ware Lewe daarin was, sou dit ons mos
verander het! Maar wie hou nou eintlik daarvan om verkeerd of verlore te wees,
wat nog om te verander?
Duisend dankies vir al julle volgehoue
liefde en ondersteuning, onthou asb dat sonder julle is dit onmoontlik vir ons
om hier te wees. Mag julle ware liefde en vrede in Hom vind, waaroor alles
gaan.
Liefde groete
In Pappa, Philip อํานาจ
_____________________________________________________________________________
Januarie & Februarie 2555 (2012)Dag sê aan al my vriend en vriendinne oor die wêreld! Glo dit of nie maar die tweede maand van die jaar is al weer verby. Ek weet dit is die eerste brief wat julle die jaar kry, maar wees tog so bietjie genadig asb. Hierdie is die eerste keer dat ek my nuusbrief vanuit my eie huis op die eiland skryf en ek sukkel maar om die battery vol te hou hier! (Moet bieg dat ek die brief toe klaar geskryf het op die vaste land in Ranong.)
Ek bly nou permanent op die Ko Phayam eiland en ek moet sê dit is wonderlik lekker. Dit het van nature baie uitdagings maar daar is niks wat nie met die tyd opgelos kan word nie. Die grootste uitdaging is dat ek nou weer tegnologies gestremd is. Geen krag of internet nie, net 'n selfoon wat ek sukkel om gelaai te hou. Ek laai so nou en dan die rekenaar en selfoon as hulle die kragopwekker hardloop. So hierdie is my eerste poging om met beperkte hulpbronne aan julle mee te deel wat hier gebeur.
Ek gaan nou ook elke dag van die week saam met die kinders skool toe. Dit is baie lekker en het nou die geleentheid om weer my Thai studies voort te sit. Dit is baie moeiliker as wat dit klink hoor, want ek doen dit nou op skool valk. Die onnies duld geen foute nie en die klanke en woorde word oor en oor herhaal totdat dit reg is. Ek kom egter baie goed reg en die onnies gebruik my dan om dit wat hulle my leer, weer aan die Moken kinders te leer. Ek is met ander woorde eers student en as dit reg is, word ek dadelik die onnie wat dit aan die Moken kinders leer. Kyk ek is dood moeg na so 'n sessie, maar geniet dit vreeslik baie. Die lekker is ook om te sien hoe die kinders vorder as daar so baie tyd aan hulle spandeer word.
Dan is ek ook nog 'pa' en 'ma' vir 'n groep seuns wat by my gelos word as hulle ouers op die see uitgaan. Die groepie van drie het nou tot vier gegroei en al is dit onbeskryflik lekker is dit ook erg moeilik. Deur dit leer Vader my so baie van Homself. Kyk hulle maak jou soms so kwaad jy kan slange vang, om maar net die volgende oomblik so onbeskryflik lief vir hulle te wees. Ek vertel hulle elke aand 'n Bybelstorie wat hulle baie geniet en dan het hulle die geleentheid om te bid. Dit was vir jou 'n gedoente aan die begin. Hulle was te bang om te bid maar nou word daar baklei oor wie dit eerste doen. Eers was hulle gebede net een sinnetjie lank, waarin hulle vir die Here dankie sê vir iets wat deur die dag gebeur het. Toe twee en nou begin hulle al vir hulle gesinne en ook die gemeenskap bid. Dit is waarlik bevredigend om hulle so te hoor bid en sien hoe hulle vertroue in ons Here begin groei
Met die wat die kinders by my bly, gebeur dit dat daar so nou en dan 'n tand of twee ook wissel. Ek sê toe vir hulle dat hulle die tand moet vat en in my plakkie onder die bed moet sit. Natuurlik wil hulle toe weet waaroor en ek vertel hulle toe die storie van die tande muis.
Hulle het my natuurlik nie geglo nie maar tog die tand in die plakkie gesit. So vergeet hulle toe ook van die hele gedoente tot die volgende oggend. Groot was hulle verbasing toe die tand weg is en daar 10 baat in die plakkie lê. Hulle was so opgewonde. Toe moet ek eers weer die storie vertel. Kyk, maar ons soek nou na daai muis. Ek het ook gesê die muis hou nie van vrot tande nie, so hulle moet mooi na hulle tande kyk. Nou is daar ook geen probleem meer met die borsel van tande nie. Dankie meneer muis!
Dan laastens het Peter ons leier van STAMP, besluit dat dit goed sal wees as al die hele spanlede huis toe gaan vir 'n rus kansie. Ons het 'n rowwe jaar agter die rug, met die span wat allerhandes aanpassings ondergaan het. Ek het so bietjie gewig verloor en die span was kommerd daaroor maar die dokter sê ek is fiks en gesond. Ek gaan vir 'n maand of so Suid-Afrika toe kom om te rus voor ek weer terugkom Thailand toe. Siende dat hierdie nie 'n normale terugvoer geleentheid is nie, gaan ek seker die meeste van julle nie sien as ek daar is nie, maar weet julle is in my hart en gebede.
Weereens duisend dankies vir al julle liefde en gebede. Sonder julle is alles wat hier gebeur nie moontlik nie. Weet dat dit opreg waardeer word.
Liefde groete
In Pappa
Philip อํานาจ
_____________________________________________________________________
Desember 2554
So het die einde van die jaar aangebreek en hier is my laaste brief aan julle voor ons die nuwe jaar begin. Ek hoop die jaar was 'n wonderlik jaar vir julle en dat julle deur alles, wat gebeur en nie gebeur het nie, die ontsaglike liefde en genade van ons Vader beleef het. Ek bid en glo 2555 (2012) gaan 'n wonderlike jaar vir julle almal wees waarin ons almal nader en dieper in ons Vader sal groei! So was die laaste maand weer besig, ek spog met 'n nuwe huis en Peter-hulle was hier, en al die ander dinge wat gebeur!
My huis op die eiland in die Moken gemeenskap, is uiteindelik klaar en dit is wonderlik om daarin te woon. Ek en Oe was baie besig om die huis so gou as moontlik klaar te kry, sodat ek in rus en vrede in my eie huis woon saam met die kinders wat ek oppas. Die huis is nie vreeslik groot nie en bestaan uit 'n kombuis en waskamer asook 'n ruim een-vertrek waar ons slaap, eet en sit. Die mure is van hou gemaak en die dak van palm blare. Dit is heerlik koel en ek kry nou gereeld kuiergaste wat kom kyk hoe my nuwe huis lyk. Dit is baie lekker want gewoonlik is die Moken te skaam om met jou te praat en nou sit hulle skielik saam met jou in jou huis en kuier. Om 'n huis te bou wat baie na aan die Moken se ou boustyl is, is sover nog die beste ding wat ek gedoen het. Alles wat ek in die huis gedoen het is self gemaak. Dit gee die Moken die geleentheid om dit ook self te kan maak as hulle wil. En glo vir my die huis is waarlik onder bespreking!
So net voor my huis klaar was het ons 'n besoek van Peter, sy gesin en sy groep gehad. Die huis was al woonbaar en dit was interessant om te sien hoe die Moken by my in die huis kom skuil om te kyk wat die groep mense doen. Die groep het 'n kersprogram vir die Moken aangebied wat dit baie geniet het. Daar is ook geskenke aan die kinders en gemeenskap uitgedeel. Met die wat Peter-hulle hier was, was die 'waterfilter groep', wat die waterfilter vir Jonathan-hulle gebou het, ook hier. Dit was maar rof mat al die mense hier. Die lekker was om te sien dat die Moken my nie meer as deel van die groep sien nie en dat ons so saam-saam die hele gedoente van die kantlyn af kon aanskou.
So met die nuwe huis en die wat ek na die Moken kinders kyk as hulle ouers op die bote uitgaan, is daar voordele. Een van die nuwe goed wat die Moken begin doen het is om seekos vir my aan te drae. Kyk, van krappe, skulkos, visse en selfs vlermuise word vir my aangebied. Dit is baie lekker om sulke lekker kosse van hulle te kry, maar ek het nog nie kans gesien vir die vlermuise nie. 'Hou my maar onnosel en sê ek weet nie hoe om dit gaar te maak nie.'
Dan het ek ook my verjaardag gehad op die eiland en was dit nogal interessant! Daar was niemand behalwe ek en die Moken nie – wat nie eens weet watter dag dit is nie, wat nog van my verjaardag. Ek moet sê dit was nogal 'n lekker verjaardag al was daar niemand wat dit verstaan of om dit saam mee te vier nie. Die eenvoud van die Moken het dit 'n baie besonderse dag vir my gemaak.
Dan moet ek ook al weer die land uit vir my visa hernuwing. Ek het probeer om dit in Thailand te verleng maar daar is geen wettige manier nie. Ek vlieg dus die 27 Desember uit om weer aansoek te doen vir 'n nuwe drie maande visa. Ek het waarlik julle gebede nodig in die saak. Die visa storie onderbreek alles vreeslik en ons moet probeer kyk of daar nie 'n ander manier is om 'n visa te kan kry nie. As enige een van julle van iets weet laat my gerus weet asb.
Daar is so baie wat onder die Moken gedoen kan word. Daar is so baie geleenthede vir almal van ons om betrokke te raak by dit wat ons Here onder die nasies doen. Ons is die hande en voete van ons Here hier op aarde en as ons nie begin beweeg nie sal daar niks gebeur nie. Ons is hier vir Sy doel en Sy plan. Alles gaan oor Hom! Ek moedig julle aan om skouer aan die wiel te sit en uit te gaan en te begin beweeg! Hoor hoe roep die nasies na die Verlosser! Wie sal uitgaan en hulle in die regte rigting ly? Wie sal uitgaan en die geleentheid aangryp om die Liefde te bring aan hulle wat dit nie ken nie? Ek bid dat julle waarlik die hart van ons Vader sal sien in dit wat Hy in julle lewe doen!
Baie dankie vir al julle liefde en ondersteuning deur die jare. Weet dat julle net so 'n belangrike rol speel as ons wat uitgaan. Sonder julle kan ons nie hier wees nie en kan die nasies nie die liefde van ons Vader smaak nie. Julle is vir ons almal 'n voorbeeld!
Liefde groete
In Pappa
Philip อํานาจ
____________________________________________________November 2554 (2011)
Aaa! Die maand is ek op tyd! Ja die tweede laaste maand van die jaar is verby en dit voel net soos nou die dag wat ek die maande begin aftel het. Wat 'n maand! 'n Vinnige hersien van verlede maand se “Wat voorlê”, die kinders gaan skool toe en ons Vader bly die Moken aanraak.
Kyk, was ons vir jou besig die maand op die eiland! Ek moet sê dat dit baie help om dinge op die eiland gedoen te kry hoe meer tyd en daar spandeer, maar ek wil graag nog langer daar bly! Die tyd daar is net nie genoeg nie en hoe meer ek op die eiland is hoe gemakliker raak die Moken met my. Ek het waardevolle tyd saam met hulle spandeer waar hulle my Moken leer en hulle amper dood lag vir die goed wat ek verkeerd in Moken sê. Daarna klim hulle op hulle bote om te gaan garnale vang.
Met 'n groot gesukkel en 'n klomp storms, (die boot moes 'n keer terug draai toe dit begin water in neem het), het ons toe die goed wat ons nodig het vir die waterfilter op die eiland, uit gekry en begin bou daaraan. Daar kom 'n groep mense van Australië en Amerika om ons te help om die filter klaar te bou in Desember, so ons gaan weer lekker besig wees. Hulle het ook die helfte van die onkostes van die filter betaal. Solank baie dankie aan almal van hulle!
Die groentetuin lyk goed en die groente kom mooi op. Ons het so 'n bietjie probleme met goggas en goed wat ook die tuin ontdek het, maar die groente groei so vinnig dat hulle kan by hou al word daar aan hulle geeet. Die beste van alles is dat die Moken ons dop hou en nou ook die grond om ons tuin begin skoon maak het. So miskien, as ons tuin begin vrug dra gaan dit hulle aanspoor om ook te begin tuin maak.
Die hang van die toilet deure was maar vir jou 'n gesukkel. Dit werk so 'n bietjie anders hier as daar in Suid-Afrika. Die deur is van plastiek gemaak en hol aan die binne kant. So dit is nogal moeilik om dit tot op die regte grote te skaaf. Maar daar is niks wat 'n boer nie kan doen nie! So met 'n gewik en 'n geweeg is die deure gesny, uit mekaar gehaal, geskaaf en weer aanmekaar geplak en siedaar, daar hang hulle.
Wat die Moken taal en strategie aanbetref, ek het nog geen idee nie. Dit is baie moeiliker as wat ek gedink het. Ek sit met die probleem van my Thai wat nog nie wonderlik goed is nie en Moken taal wat ek so graag wil leer. Ek leer Moken baie informeel, maar wat van my Thai waaraan ek al drie jaar spandeer het? Die gevolg van die werk wat alreeds deur ander voor my onder die Moken gedoen is, is soos 'n groot muur wat ons blok om die werk daar te doen waarvoor die Here ons nou geroep het. So, ek sit met my hande in my hare hieroor en weet dat net die Here ons hiermee kan help. Dan is daar ook nog die kinders wat so diep in my hart gekruip het. Party van die span waarvan ek deel is leer nog Thai in Ranong en dan is daar die Thai vroutjie wat saam met ons werk. Ons het waarlik julle gebede en raad in die besluite nodig. Dit is baie moeilik op die eiland vir die meeste mense en ek kan net ons Vader dank dat dit geen probleem vir my is nie. Maar hoe neem mens alles in ag en stel almal op hul gemak?
So van die kinders gepraat. Ons het die ouers van die kinders aangemoedig om die kinders terug skool toe te stuur na die vakansie. Vandat ons op die eiland is het ons hulle nog nooit sien skool toe gaan nie. Daar is nou so 10 Moken kinders wat elke dag skool toe gaan. Maar die meeste kinders haat skool! Die probleem is 'n onnie wat daarvan hou om die lat te swaai. Die vier seuns wat altyd by my bly het nou tot drie gekrimp, met die een wat nou na 'n ander eiland toe gevlug het. Hulle huil omtrent elke dag voordat hulle moet skool toe gaan. Dan begin die groot avontuur - die eerste hindernis is die water-kanaal wat oorgesteek moet word met 'n vlot wat nou nie van die beste is nie. (Gelukkig het die vlot nog nie met die kinders omgeval nie. Ons het besluit om die Moken aan te moedig om tog 'n beter vlot vir die kanaal te bou.) Dan word die kinders almal op 'n motorfiets met die waentjie gelaai en skool toe geneem. Kyk is dit vir jou 'n gesig en sports!
So deur dit alles gaan dit dol: kinders word siek en omdat ons vir hulle moet sorg, moet ons hulle dokter toe neem; dan was daar Moken mans wat beseer is by die werk en een wat van 'n motorfiets af geval het; Jonathan en nou Cally wat siek is; die motorfiets wat al weer gebreek het en ag en nog baie ander dinge! Daar is nie 'n oomblik wat ons nie uitgedaag word nie. Deur dit alles kom ons Vader en doen iets wonderliks. Daar waar ons so moeg en moedeloos is deur alles wat gebeur, kom Hy en wys ons weer Hy is in beheer. Een man het verlam geraak in sy regter arm. Die dokters het gesê dat hulle sal moet opereer. Ons gaan toe en bid vir hom en die volgende dag kom hy en sê dat sy arm baie beter is en vra dat ons weer vir hom sal bid. Sy arm is volkome genees. Ons kan net ons Here loof en prys vir die wyse waarop Hy die Moken lief het. Daar is niemand soos Hy nie!
Dan wil ek net baie dankie sê vir al julle liefde, gebede en ondersteuning. Sonder julle kan ons nie hier wees nie. Ek waardeer dit opreg!
Liefde groete
In Pappa , Philip อํานาจ

Nie die beste en veiligste van vlotte nie!
________________________________
September & Oktober 2554 (2011)
Ja ek weet julle dink dat ek al van julle vergeet het, maar toe nie! Hierdie keer is dit 'n kombinasie brief wat die laaste twee maande se gebeure dek. Julle onthou mos sedert my laaste nuusbrief dat ek so 'n bietjie tyd wou af vat, dan was daar ook nog sending jeug kongres in Maleisië, ons nuwe waentjie en die groot skoonmaak. Ons het 'n groentetuin gepoog en 'n vergadering met Peter vand STAMP gehad, en ja ons Vader verras ons om elke hoek en draai. So, soos julle kan sien is hierdie 'n langer brief as gewoonlik.
Ek het mos beplan om so 'n bietjie tyd af te vat om 'n bietjie te rus van die moegheid. Dit het toe nie gerealiseer soos ek wou nie, maar het tog 'n baie lekker tyd saam met Deon en gesin gehad. 'n Groot deel van my af-tyd was ek saam met Deon by 'n Bybelse beradingskursus. Ek moet sê my Thai het my maar goed in die steek gelaat, maar het darm nog genoeg geleer om dit te kon toepas. Daarna was ek saam met Deon hulle Chiang May toe. Dit was waarlik 'n lekker tydjie van rus daar. Die meer as 22 ure bus rit terug was die enigste gedeelte van die vakansie wat nie te lekker was nie.
Net voor dit alles was ek daar in Maleisië by 'n sending jeug kongres 'The Plan 2011'. Dit was wonderlik om te sien hoe die Here mense se harte aanraak en meer bewus maak van waarmee Hy besig is in die wêreld. Ons het ook die geleentheid gehad om ons visa te verleng en het nog 'n verdere drie maande in Thailand gekry. Dan het ons ook tyd saam met spanlede spandeer wat volgende jaar by ons in Thailand gaan aansluit. Hulle is van Brasilië en is besig om Engels in Maleisië te leer.
Nou ek weet meeste van julle ken nie die omstandighede op die eiland nie maar kom ek probeer om dit so 'n bietjie te verduidelik. Die Moken dorpie is redelik afgeleë en toegang is redelik moeilik. So elke keer as ek daar aankom, dra ek alleen omtrent 40 kg se goed saam. Dan moet ek ook nog saam met die kinders so twee keer 'n week na die anderkant van die eiland stap om nuwe voorrade te koop. Nie te ver nie, so 5 km, maar ek dra myself half dood aan al die goed terug. Ons het dit toe goed gedink om 'n waentjie aan te skaf om die proses te vergemaklik. Nou ja, gewoonlik trek ons sleepwaentjies met 'n motorkar of 'n bakkie in Suid-Afrika, maar nie hier in Thailand nie. Nee kyk, ons doen dit met 'n motorfiets.
Ons moes ook met die groot skoonmaak begin op die eiland. Daar is nie waarlik enig geriewe op die eiland nie, ek meen nou soos toilette of so nie. Ja, daar is een beskikbaar, maar net een. Daar was deur vorige groepe gepoog om drie ander hier te bou, maar dit is vol sand en die konders het 'dinge' daarin gestop. So as daar dan nou 'n groep mense is, gaan dit maar heel swaar met die een toilet. Ons het dan nou toestemming gekry om die drie toilette te herwin. Dit gaan beteken dat ons die deure moet vervang en ja om die sand en 'dinge' uit die bakke te krap. Dit is en was nogal 'n heel vrot spil, as julle verstaan wat ek bedoel.
Die kinders op die eiland eet nou nie rêrig enige groente nie. Hulle dieet bestaan uit rys en vis of mossels of iets uit die see. Dit is heerlike, maar dit is tog so nou en dan nodig om 'n groen dingetjie ook in te kry. Die meeste gesinne kan nie groente bekostig nie, so die ouers het ons gevra of ons nie die kinders kan leer hoe om groente te plant nie. So hoe kry 'n mens nou die kinders geïnteresseerd in 'n groentetuin? Ek het alles probeer om hulle te oortuig, maar niks! Op die ou einde het ek saad gaan koop en die ouer kinders bymekaar geroep. Ons het elke dag 'n saadjie of twee in water en toiletpapier gesit en voor hulle oë het sien hoe die saadjies groei. Dit was net genoeg om 'n paar van hulle aan te spoor om saam met ons 'n klein tuintjie te begin.
Ons het uiteindelik die lang uitgestelde vergadering met Peter gehad (oranje pet). Ons het vir drie dae lank vergader en het gewoonlik so 10h00 begin en het 22h00, soms later, die aande op gehou. Dit was 'n baie nodige proses waarin ons baie probleme uitgesorteer het en ook weer ooreen kon kom waaroor ons nou eintlik hier is. Ons weet nou elkeen wat en waar ons in die prentjie pas en wat van ons verwag word. Ek moet sê dat daar nou weer baie vrede in my hart is oor STAMP en dat ek kan sien hulle waarlik in lyn is met dit waartoe die Here ons ook geroep het. Ek is nou vry om die geleentheid waarlik te benut om die Moken taal en kultuur te leer sodat ons kan probeer verstaan wat nou waarlik in diepte in hulle harte aangaan.
Ons weet dat daar niks is wat ons uit ons eie kan doen nie behalwe om ons harte oop te maak sodat ons die ware agape liefde van Vader vir hulle kan word. Dit is 'n groot uitdaging maar ook 'n wonderlike voorreg om so as instrument deur ons Here gebruik te word. Ons weet dat soos ons tot Hom nader en in Sy teenwoordigheid lewe, Hy getrou is om ook die mense om ons aan te raak. Want dit gaan nog altyd net oor Hom, en dit sal altyd net oor Hom gaan! Ek moet sê dat die laaste paar maande maar 'n baie groot uitdaging vir my was. Soos ek in my vorige brief probeer verduidelik het was daar net te veel en te min van my om alles gedoen te kry. Een van die ander dinge waarvoor ek verantwoordelik was, was om Sondae 'n Thai boodskap in die Moken kerkie te bring. Nou moet julle verstaan my bybelse Thai is nie waarlik van so 'n aard om dit te doen nie, maar dit is gedoen. Die ergste is om in die gesigte vas te kyk en te weet dat hulle nie kop of stert uit maak van dit wat jy gesê het nie. As ek hulle vra of hulle verstaan, skut hulle maar net die koppe behalwe vir een of twee wie se Thai beter is.
Dan is daar nog ook die kinders. In die begin het hulle altyd gesê dat hulle die Here ken en dat Hy werklik is vir hulle. Maar soos hulle jou gewoond begin raak sê hulle dat God nie werklik kan wees nie. As ek dan vra hoekom nie, kyk hulle jou half verbaas aan en sê, want ons kan Hom dan nie sien nie. Wat van die geeste, het ek hulle toe gevra. Nee, hulle kan ons sien en dan vertel hulle jou hoe werklik die geeste in hulle lewe is.
Dit bring jou by 'n plek van onbeskryflike gevoel van magteloosheid. Jy besef dat jy kan praat en praat, en storie op storie kan vertel, maar dit is net die Here wat mense se harte kan aanraak. Dit bring jou waarlik tot 'n einde van jouself en jou poging om mense te 'red'. En dit is dan waar die Here deurkom, daar waar jy dit die minste verwag, daar waar daar niks meer oor is van jou nie.
Hier by die plek waar jy niks meer verwag nie, kom ons Vader en verras ons om elke hoek en draai. So word ons een aand geroep om vir iemand te gaan bid wat baie siek is. Met 'n gehap en gesoek in die lug na die regte Thai word daar 'n poging van 'n gebed gebid en die persoon word net daar op daai oomblik gesond. Nou ek weet nie wie was die meeste verbaas nie! Maar so kom ons Vader en bring hoop in ons harte. Nou word daar aan ons vertel dat nie die dokters of hulle geeste hulle kan genees nie, maar as ons bid word hulle gesond.
Een ou vroutjie vertel ons hoe die Here haar aangeraak het nadat ons vir haar gebid het. Skemer aand is ons geroep om vir haar te gaan bid. Daar was baie mense by haar huis, wat nie 'n goeie teken is nie. Mense kom net so bymekaar vir een van twee redes, geboorte of dood. Na ons vir haar gebid het was dit al donker en hulle is daar weg om die dokter te gaan sien. Daar aangekom, sê die dokter dat sy niks makeer nie. Sy vertel dat sy dieselfde aand 'n droom gehad het van twee mans wat haar kom besoek het en gevra het hoekom sy nie in die eerste plek na die Here gekom het vir genesing nie.
Ons Here is waarlik besig om iets onder die Moken te begin doen. Maar ek weet dit is nie in ons hande nie. Ja, dit gaan waarlik net oor Een, ons Here Jesus Christus. Ons is maar net 'n instrument in Sy hand.
Baie dankie vir al julle gebede en volgehoue ondersteuning. Weet dat as dit nie vir julle was nie, ons nie hier sou kon gewees het nie.
Liefde groete, In Pappa,
Philip อํานาจ




















































































+janw.jpg)









