Kom ons bid saam vir reën
Bid saam met ons Pieter van Schalkwyk (’n boer in
Namibië) se gebed:
Hemelse Vader en almagtige Here. Dit is 2 uur in die more
en ek kan nie slaap nie. In 21 jaar wat ek boer was dit nog nooit so droog nie.
Ek is vanmôre voor U om te bid vir reën.
Voor ek vir reën vra moet ek U eers dank vir droogtes.
Indien ons net vet jare en voorspoed gehad het, hoe arrogant, onafhanklik van U
en onbewus van U goedheid en genade, sou ons nie gelewe het nie. Daarom moet ek
U ook dank vir die voorreg om hier te kan boer. Hier waar ek elke dag U
handewerk sien en ervaar. Baie dankie ook Here vir die wonderlike mense wat u
rondom my in hierdie wereld geplaas het. 'n Unieke groep mense wat almal saam
in dieselfde stryd gewikkel is. U het elkeen persoonlik gevorm, met elkeen se
uniekheid, harder as kameeldoringhout, om hier te kan bestaan.
Om die mooi van hierdie boerdery te beleef het u 'n
besonderse liefde vir die diere en die boerdery in my hart gesit en daarvoor is
ek U baie dankbaar. Maar Liewe Heer dit is as gevolg van hierdie liefde, en my
tekort aan insig, wat maak dat ek U weë nie verstaan nie.
...Ek verstaan nie wanneer die lammerooi aan die voet van
die duin omval as gevolg van swakheid, en nog steeds net oor haar lam se
welstand bekommerd is nie.
...Ek verstaan nie as die koei met ‘n sug gaan sit
en ons altwee weet sy sal nooit weer opstaan nie.
...Ek verstaan nie as ek in die onskuldige bruin oë van
die verswakte koedoekoei, wie se voet in die draad gehaak het, kyk en sien sy
wag op die verlossing van die dood, wat uiteindelik deur dors en
hitte-uitputting onder die skroeiende woestynson, veroorsaak sal word.
...Ek verstaan nie as ek "hart se punt"-koeie
by die slagpale moet aflaai, en nog onthou hoe hulle kalwers gelyk het, en
selfs hoe ek sommige van hulle as klein kalwertjies onthoring het.
...Ek verstaan nie as jong eerstelamooitjies net ribbes
en gekoekte wol is en ek onthou vaagweg hoe 'n gladverhaarde ooi lank gelede
vir haar vet lammetjie geblêr het terwyl die komkommersap teen haar wang
afloop.
...Ek verstaan nie as my ryperd een oggend stokstyf is as
gevolg van elke aand se kragvoer, omdat daar niks meer hooi in die veld is wat
hy bedags kan vreet nie
...Ek verstaan nie as ek die donkie langs die pad sien lê
wat in die tuig gesterf het, en ek weet sy eienaar het ook maar nie ‘n plan
gehad nie.
...Ek verstaan nie as die groot springbokram struikel
-struikel voortsukkel nie.
Ek verstaan nie as die erdvark, wat n nagdier is, in die
middel van die dag, vermaer en verdonker, op die warm rooi sand rondploeter op
soek na iets om te eet.
...Ek verstaan nie dat die graspolle, die bron van kos,
in klein swart knoetsies verander het sodat die wind hulle wortels oopkalwe en
die woestynson dit verdroog en verdood.
...Ek verstaan nie as die windpomp net wind blaas omdat
die boorgat opgedroog het, terwyl my verstand verdof is deur 'n wolk stof en 'n
gebulk en geblêr wat deur my bene en murg sny.
Here, ek verstaan nie hoekom U dit oor hierdie onskuldige
diere laat kom, terwyl U vir my, sondaar, net goedheid en guns gee nie. Here ek
verstaan dit nie, maar ek weet wel dat ek nooit die straf wat ek verdien, sal
kan dra nie. Daarom, voor ek vir reën vra, smeek ek om U genade en vergifnis.
Ek bid ook vir wysheid om tussen goed en sleg te kan onderskei. Ek bid veral,
Here, dat ek nooit arrogant sal word nie, want alle eer kom U toe. Ek bid ook
vir wysheid en krag vir die hele gemeenskap om op die regte manier deur hierdie
droogte te kom. Ek verstaan nog steeds nie hoe die gemsbok in hierdie tyd so
sterk kan bly nie, maar ek bid dat U ons almal die gemsbokke van hierdie
droogte sal maak.
Here, noudat U my hart ken smeek ek by U: "GEE
ASB VIR ONS ALMAL REëN EN GEE ASB VIR ONS ALMAL GENOEG REëN!!"
Amen






