My storie

Glo word daar nou 'n blog vir my oop gemaak en ek moet nou vir julle net vinnig vertel wie ek is en wat ek doen. Ek is 'n boerseun van Bronkhorstspruit en het my hele lewe lank daar gebly. Saam met die gemeenskap daar groot geword en geleer waaroor die lewe gaan en soos meeste van julle ook gedink dat dit net gaan om te probeer oorleef in die wêreld. Ek was in die oë van die gemeenskap 'n vurige Christen en het alles perfek gedoen soos daar van iemand verwag sou kon word. Was nooit dronk of uitspattig nie, was in alles gehoorsaam aan my ouers,was 'n voorbeeld vir die om my en het my gemeenskap en God gedien in alles. Maar diep binne my was daar die soeke na iets meer. Want ek het 'n diep onbeskryflike begeerte na God gehad. Iets wat my gedryf en gevuur het en soms baie alleen en ongelukkig laat voel het.

Meeste van die tyd het ek dit maar onderdruk en ander goed probeer doen om daarvan af weg te vlug. Sien ek het ook uitgevind dat as 'n mens baie besig is, voel jy beter oor jouself en is jy te moeg om na dit wat in jou is te luister. Tog het dit nie lank geduur voor niks vir my in die lewe meer sin gemaak het nie. Die kerk en die Woord van God, ons lewe en dit wat ek lees in die Woord het nie meer vir my bymekaar uit gekom nie. Ek was baie ongelukkig, so dat my tannie vir my raad gegee het en gesê het dat ek weer iets moet vind om my mee besig te hou. Ek het toe begin skuba-duik en dit was wonderlik. Ek het baie tyd daaraan spandeer en gou het die ou valse sin van die lewe terug gekeer. Maar die stem van die Here het net harder en harder begin roep in my en nie lank nie en ek was weer in stof en as.

Sal ek my hulpgeroep na die Here ooit vergeet? Ek onthou nog hoe ek voor die Here gekniel het en Hom gevra het om Homself waarlik aan my te openbaar. Hoe ek belowe het om alles prys te gee as ek Hom net sal kan vind vir wie Hy waarlik is, maar ek het geweet dat dit nie van my afhang nie.
Dit was asof die Here net gewag het vir die woorde want skaars 2 weke daarna gaan ek saam met 'n groep vriende Botswana toe. En die een ou vertel vir my van al die wonderlike dinge wat in sy kerk gebeur. My hart het in my gebokspring want hy het met my gedeel dat ons waarlik die stem van die Here kan hoor. Dit was waarlik 'n begin van groot dinge.

'n Ruk na ons terug was van ons vakansie word ek toe deur hom uitgenooi na 'n kamp waar ons gaan leer hoe om weer na die Here te luister. Ek was so onseker maar ek geweet dat ek moet gaan. Sien my pa is nie so baie ingenome met die hele verandering in my lewe nie. Hy het gesê ek gaan oorboord met dit wat ek doen en dat daar 'n balans in jou lewe moet wees. Deur die genade is ek toe na die kamp toe. En was dit vir jou 'n kamp!

Daar het ek dinge gesien gebeur wat ek nooit gehoor of gesien het van te vore nie. Die Here het waarlik met die mense gewerk en deur hulle gewerk. Ek sal nooit die Boiler-Room vergeet nie. Almal wat tyd in die kamer deur gebring het, het vertel hoe hulle die Here daar ontmoet het. Ek was te bang om te gaan want sien die Satan het my klaar oortuig dat ek nie die Here se stem gaan hoor nie. Tog het ek met vrees en bewing myself gedwing om te gaan. Ek was baie lank daar, maar niks het gebeur nie. Ek was so gespanne en my hart het so vinnig geklop maar na ure het ek begin ontspan en het die liefde en die teenwoordigheid van die Here begin voel. Ek sal Sy woorde aan my nooit vergeet nie: “Julle is My kerk hier op aarde en deur julle sal Ek groter ding doen as toe Ek op Aarde was.” Ek het die Here hoor praat! Diep binne in my het ek Sy stem gehoor. Daar was geen twyfel daaraan nie! Alles in my het van vreugde en opgewondenheid gegloei!

My hele lewe het drasties begin verander. Al die dinge wat ons op skool geleer het en wat vir ons gesê is, is belangrik het al hoe meer en meer onbelangrik begin word. Die rede om elke dag te gaan werk en werk en werk om nog net nog meer en meer geld te verdien het sinneloos begin raak. 

Ek het van elke geleentheid gebruik gemaak om te probeer uitvind waaroor die hart van God nou rêrig gaan en wat vir Hom belangrik is en toe ontdek ek dit, sending. Waar ek ook al gaan is dit die een tema wat opgekom het en ek het besluit as dit so belangrik vir God is, dit vir my ook belangrik is. Ek sal my lewe gee vir sending, want dit is waar ek sien God besig is om te werk. Intussen het ek weer alles probeer om net weer een keer die stem van ons Here te hoor. Maar dit was te vergeefs, daar was net 'n doodse stilte.

Een Sondag aand in 'n kerk sit en luister ek na die preek, soos gewoonlik, en hoor weer die boodskap van sending. Na die tyd kom daar toe 'n man op wat praat oor die sending werk wat hulle doen en dat hulle boere nodig het om hulle front voor te hou in land. Sien dit is 'n geslote land waar Jesus nie openlik verkondig mag word nie. Alles in my het geroer en ek het geweet hy praat nou met my.

Na sy praatjie is ek na hom toe en het ons 'n afspraak gemaak om mekaar die volgende week te ontmoet. Daar het ek aan hom meegedeel dat ek bereid is om te gaan en so my lewe aan die Here te offer. Alles net vir Hom.


Hy was net soos ek baie opgewonde en het gesê dat hy met sy sending organisasie in verbinding sal tree en hulle sal inlig van my. Dit sal egter 'n rukkie neem voor hy sal weet. Dit was die langste wag ooit. In tussen het ek aan my ouers mee gedeel dat ek nou die Here op die sending veld gaan dien. My pa was glad nie ingenome met die hele gedagte nie en het weer eens gesê hoe verkeerd ek die Bybel verstaan.

Toe breek die groot dag aan. Opgewonde, gereed en vol moed is ek daar weg om te hoor wat die sending organisasie besluit het. Daar ontmoet ek toe die man en hy deel aan my mee dat ons na die gedoente kan gesels. Ek ontmoet toe ook een van my duik vriendinne daar. Sy het na 'n ander man se praatjie kom luister wat die Wêreld-perspektiewe kursus aanbied. Sy het dit al gedoen en het my aanbeveel om dit ook te doen. Ek sê toe nog dat ek nie tyd daarvoor gaan hê nie, want ek is op pad sending veld toe. Ek luister toe na die hele praatjie en dink by myself as ek nie nou sendingveld toe op pad was nie, moes ek die kursus gedoen het, maar wat daar is nie nou tyd daarvoor nie. En toe die nuus: “Die sending organisasie het besluit dat ek nie genoeg ervaring het om na so 'n gevaarlike plek toe te gaan nie en dat ek net op die veld gaan seerkry.” Ek was so teleurgesteld. Dit het gevoel of die Here vir my kwaad is of so iets. Hy wys vir my die pad en dan klap Hy die deur in my gesig toe. Tog het ek die liefde van die Here op 'n baie besonderse manier ervaar op pad terug huistoe. Miskien wil die Here hê ek moet eers die kursus doen.

So begin ek toe met die kursus en moet elke week vir een aand stad toe om dit by te woon. Die kursus het 15 weke lank geduur en dit was die belewenis van my lewe! Die groep mense wat dit aangebied het is onbeskryflik. Hulle kan waarlik die stem van die Here hoor en ek, so dink ek, kan niks hoor nie.
 Die een aand sal ek nooit vergeet nie. Jy sien ek is op die stadium baie wel af en ek was oortuig die Here het aan my geopenbaar dat as ek nie bereid is om van al my welvaart afstand te doen nie, dit vir my baie moeilik gaan wees om Hom te dien. Ek sê toe vir die Here dat as dit wat ek nou verstaan die waarheid is, Hy dit vir my moet bewys op 'n manier. Vinnig dink ek en sê dat hy die man moet gebruik wat die kursus aanbied om dit te sê.

Die aand kom ek toe by die kursus en die een ding waarop die man toe klem lê, is glo dit of nie, dat as ons nie bereid is om alles vir die Here af te lê nie ons Hom nie sal kan dien nie. Hy het dit oor en oor gesê en later herken hy weet nie hoekom die Here dit so swaar op sy hart lê nie. Maar ek het presies geweet. Ek kon nie anders as om die Here te loof en te prys nie. So iets het nog nooit in my lewe gebeur nie. Ek het alles in my vermoë gedoen om dit reg te kry maar ek kon nie. Ek het nie die nodige vermoë gehad om alles neer te lê nie, ek was te swak, ek het agter gekom dat ek die Here met alles soek maar dat ek tog ook die wêreld se sekuriteit wil hê. Dit het by my gespook. Ek wil julle nie vertel waaroor die kursus gegaan het nie, ek sal dit net onreg aandoen. As julle wil weet sal julle dit maar self moet doen.

Na die kursus is ek saam met 'n groep uit die kursus Thailand toe vir 'n gebeds uitreik. Daar het so baie van dit wat ons in die kursus geleer het 'n werklikheid geword. Dit was onbeskryflik en dit was asof die Here aan my bevestig het dat Sy hart waarlik in sending lê.

Dit was asof as ek deel gaan word van sending die Here die volheid van Hom aan my gaan openbaar en my een harts begeerte is dat ek Hom sal ken, die ware God. Terug by die huis was ek dood. Ek het besef as ek nou moet terug na my gewone lewe ek dit nie gaan maak nie. Ek het die stem van die Here eenkeer gehoor en alles in my soek weer na dit. Ek sal 'n groot drastiese verandering in my lewe moet maak. Met die wete dat ek nie eers die kleinste dingetjie kan nakom nie smeek ek toe die Here om my in die taak te help. En Hy het toe ook.

Die einde van daardie jaar besluit ek toe om by 'Kingdom Encounters' (KE) aan te sluit. Dit is die naam van die groep by wie ek die kursus gedoen het. My pa was so kwaad vir my ek het gedink hy gaan my nooit weer vergewe nie. Dit was seker die swaarste besluit wat ek nog geneem het. Die jaar help ek toe die groep met die aanbied van die kursus en help met takies op die base. Die groot rede was dat ek daar meer betrokke sal wees by waarmee God besig was om te doen. Dit was onbeskryflik. Ek het geleer om die stem van die Here weer te hoor en wat om daarmee te maak. Ek het geweet my tyd daar was net van korte duur maar dat dit 'n goeie begin was van my nuwe lewe. Of so het ek gedink dat dit my nuwe lewe is. Ek het die magtige hand van God ervaar, gesien hoe Hy mense genees en hoe Hy ander deur my aanraak, maar dit was nie genoeg nie. Ek het na nog meer verlang. Ek wil Hom ken en in Sy vrede lewe.

Die Here druk dit toe op my hart om na Thailand toe te gaan as sendeling en ek begin toe die proses van aansoek by 'n sending organisasie. Dit is dokters ondersoeke en briewe en ek weet nie wat alles nie. Maar op die einde word ek aanvaar en is ek op pad na die sendingveld.

Drie maande voor ek gaan is ek toe na Maleisië om een van my spanlede in KE te gaan ontmoet. Dit was drie kosbare maande saam met hom en sy gesin. Daar het ons saam nog 'n deel van die Here se hart ontdek naamlik, gemeenskap. Ons het besef dat ons geen idee het wat dit waarlik is nie maar dat dit die hart se punt van ons Vader is. Hartseer, maar vol hoop dat ons in die toekoms weer gaan saam werk, is ek toe daar weg van my vriend.

Toe die skok van die sendingveld. Aan die begin is dit jy en jou groepie mense en die nasie wat jy besoek. Maar nie lank daarna nie het die dinge drasties verander. Daar is so baie dinge wat met my gebeur het dat ek nie waarlik kans sien om dit alles te beskryf nie. So ek gaan maar net 'n paar hoogte punte aanhaal. Dit kan ek wel sê. Dit is die skok van jou lewe. Dit is die swaarste wat ek nog in my lewe gekry het en as ek nie so 'n geweldige soek na die Here gehad het nie, het die mense almal onder hulle dingesse geskop. Dit is baie kort hoe ek gevoel het.

Sien nie lank na ek op die sendingveld gekom het nie, het ek ontdek dat ek baie makliker met Thai-mense oor die weg kom as met my sending vriende. Dit het so erg geword later dat ek in skok in gegaan het. Sien in hulle oë is almal wat nie van Europa of Amerika af kom nie ongeletter en barbaars en dat hulle hier is om ons uit ons ellende te verlos.
Hulle het 'n arrogansie wat skrik vir niks. In hulle oë is hulle edel en reg en die res almal verkeerd. Alles gaan net oor hulleself en dit voel soms of ons net moet spring as hulle praat. Hulle kyk neer op 'n mens en laat jou minderwaardig voel en diep binne my het dit gevoel of ek die Thai-mense teen alle koste teen die groep moet beskerm. Hulle kan nie eers ordentlik met 'n mens praat nie maar beveel jou rond soos 'n soldaat. Een van hulle het my duidelik laat verstaan dat as ek nie die Engels verstaan wat hulle praat nie, ek eers moet gaan Engels leer en dan weer terug kom. Dan praat die klomp net oor hulleself en stel nie belang in die om hulle nie. Wat 'n skok!!

Die Here was darem in dit alles genadig. Daar was darem 'n gesin uit Suid-Afrika wat ook taal geleer het. Ek het gereeld by hulle gekuier en saam het ons die stryd gestry. Dit help darem om met iemand te praat wat waarlik verstaan. Dan was een van ons taal-helpers 'n dame wat nie van die weste af kom nie. Ons het dadelik gekliek en sy het my ook baie gehelp om deur die hele ding te kom. Saam kon ons darem oor alles lag en praat oor hoe snaaks en anders die westerse kultuur is.

Song-Krang fees in Thailand
Die taal is ongelooflik moeilik. Ek het vir die eerste paar maande nie kop of stert uitgemaak van die taal nie. Ons het later gespot en gesê dat iemand ons enige oomblik gaan kom inlig dat die hele taal net 'n grap is en dat hulle maar net wou kyk hoe ons dit hanteer, maar niemand het gekom nie en ek moes voort sukkel. Na my derde 'check' het ek besef ek kan nie en het ek by die Here se voete gelewe. Ek het Hom gesmeek om my te help. Sag binne my het ek Sy stem begin hoor, maar soos julle seker kan raai het ek dit nie vertrou nie. Ek was in sak en as voor Hom. Waarlik stukkend. Ek het voor my, een van twee keuses gehad, of ek bly hier en probeer kop bo water hou of ek gaan terug huistoe. Diep binne my het ek geweet dat ek nie terug huistoe kan gaan nie want dit is die een lewe waarmee ek nou niks mee te doen wil hê nie.

Die stem binne my het al duideliker geword en ek het geweet ek moet bly. Tog het daar 'n vurige verlange in my ontstaan om te weet of dit waarlik die Here se stem is. Daar was nie 'n oomblik wat ek Hom nie gesmeek het om Homself aan my te openbaar nie. Een aand stukkend in gebed hoor ek weer die stem. 'Ek sal jou vanaand wys dat jy wel my stem hoor. Moenie bang wees nie Ek is altyd by jou' Dit was min of meer wat ek gehoor het. Soos gewoonlik het ek gedink dat ek al weer besig is om mal te word, maar tog was daar hoop in my hart dat ek iets besonders gaan ervaar.

Almal neem deel aan die fees. 
So die aand word ek seker net so na 12 die aand wakker en was so teleurgesteld dat daar nog niks gebeur het nie. En toe val ek een van daardie diep, diep slape. Daardie waarvan dit voel of jy vir daardie oomblik nie bestaan nie. Skielik is daar 'n geweldige harde geskree agter my. Dit was so hard dat 'n mens dit tot diep binne jou kan voel. Daar was 'n diep vrede oor my, daar was nie 'n oomblik wat ek enige vrees gevoel het nie. Verwonderd wil ek toe omdraai om te kyk wat dit was en toe gryp iets my van agter en hou my vas. Met alles in my probeer ek los kom, maar my krag was te min. Ek besef toe dat dat nie natuurlik is nie. Ek probeer toe dit aanspreek in die Here se naam, maar iets gryp my mond en druk dit styf toe. Ek kan nie roer nie, ek kan nie praat nie. Stil in my gedagtes beveel ek toe die ding om in die Naam van ons Here Jesus weg te gaan en weg is dit. En toe die stem. “Is alles reg. Ek het gesê Ek sal jou nooit alleen laat nie en ja jy hoor My stem.”

Ek kon nie ander as om in trane uit te bars en lof en eer aan die Here te bring nie. Alles in my wou Hom net eer bewys en Sy naam groot maak. Die Here het ook aan my gesê dat ek nie meer oor die taal bekommerd moet wees nie maar dat Hy dit aan my sal gee. Nou was daar so 'n geweldige smagting na die Here soos nog nooit van te vore nie. Die Here het ook 'n onbeskryflike liefde in my laat wakker word vir die Thai-mense. Dit het ook baie beter begin gaan met die taal. Ja ek moet nog steeds baie hard werk maar ten minste was daar nou goeie vordering.

Met die nuut gevonde verhouding met die Here was ek bereid om enige plek heen te gaan en tot die dood toe te veg vir Hom. Ek was bereid om my lewe vir die Thai-mense neer te lê as dit hulle sal help om die Here te ken, maar dit het my nie lank geneem om te besef daar is iets groot fout nie. Sien ek kan nog nie die taal praat om aan hulle die wonderlike boodskap te bring nie. Ek besluit toe dat ek darem op die stadium deur my lewe vir hulle kan wys dat ek aan die Here behoort. Tog het dit my nie lank geneem om te besef dat daar net mooi niks goeds is in my nie. Sien ek het geweet dat ek volkome verlos is en deur die verlossing het ek vrye toegang tot God, ja ek kan met Hom praat en Hy praat met my, maar die sonde bly aan my deur klop. Met alles in my stry en veg ek teen dit en soms oorwin ek maar soms nie.

My taal-helper en ek.
Met hierdie stryd in my is die jaar op Lopburi ook toe verby en word ek na die Noord-Ooste (Isaan) van Thailand verplaas. My stuursel tuis het toe ook verander en die Here het aan my die wonderlikste mense voorsien wat my op die lewens pad help. ('n Stuursel is 'n groep mense wat jou as sendeling in alles ondersteun en die dinge vir jou laat vlot verloop tuis. Hulle is jou pilaar terug in die samelewing waarvan jy kom.) Ek het my nou in die middel van die Thai kultuur bevind en dit was wonderlik maar ook skrikwekkend. Sien na 'n jaar se taal studie kan jy nog nie waarlik die taal praat nie en nou praat hulle ook nog 'n ander taal in Isaan. Ek was darem nie alleen nie maar werk saam met 'n paartjie uit Nederland.

My stuursel in Suid-Afrika.
Gou het ek uitgevind dat dit menslik onmoontlik is om aan die Thai-mense die goeie boodskap te bring. Ja daar is mense wat glo, maar hulle het gewoonlik een of ander stryd in hulle lewe en dit bring 'n opening vir die Woord. Die meeste van hulle glo in geen God nie. Hulle weet wel dat daar geeste is, maar God, wie is tog so simpel om so iets te glo. Dan is die meeste van hulle ook volkome gelukkig met hulle lewe en wil niks meer hê nie. Hulle oorgenoeg kos, vriende, vrede, vreugde alles wat hulle nodig het. Hulle ouers gaan doen so nou en dan vir meriete by die tempel en dan is hulle lewe vir hierna ook nog uitgesorteer. Hulle weet dat die meeste van hulle hel toe gaan, maar dit is net tot dat hulle verkeerde dade betaal is, dan word hulle weer in die lewens-sirkel gebore. Hulle is goeie mense, doen goed aan ander, gee om ver mekaar en is vir ons gelowiges in baie dinge 'n voorbeeld.

Hulle kyk na ons en sien hoe die kerk onder mekaar stry en baklei oor dinge wat niksseggend is vir hulle nie. Dit gaan jou net in dieper skuld bring en dan gaan jou tyd in hel net lange wees en hulle stel nie in die valse godsdiens belang nie. 'As dit wat julle vry maak julle waarlik vry maak hoekom het julle dan so baie reël wat julle moet na kom? Toe kommunisme na ons Thai-mense gekom het, hulle was baie goeie mense en het ons die wêreld belowe, het ons dit verwerp want dit sou ons vryheid weg neem. Net so toe die wêreld gekoloniseer is het ons dit ook teengestaan omdat dit ons vryheid sou wegneem. Ons sien dat julle geloof ook ons vryheid gaan weg neem, hoekom sal ons dit dan aanvaar?' is die reaksie wat ek by die Thai-mense gekry het. Ek het besef net God kan hier 'n verandering maak. As God Homself nie aan die mense openbaar nie sal hulle nie in Hom glo nie en hoe dwing ons God om Homself aan mense te openbaar?

My sonde besef het deur dit alles al hoe groter geword. Ek het na myself gekyk en was gedurig voor God gewees. Dit is nie maklik op die sendingveld nie en nou word elke ou sondetjie nog ook in jou neus gevryf. Hoe harder jy probeer om daar teen te stry hoe moeiliker word dit ook. In ons oë is dit nie groot sonde nie, simpel dinge maar tog nog sonde. Ek het soos ou Paulus gevoel. Die goeie wat ek wil doen dit doen ek nie, maar dit wat ek haat is juis dit wat ek nie kan ophou doen nie. Ek het geweet die genade van die Here is vir my genoeg, maar dit het baie dae nie so gevoel nie.

Die harde werklikheid van Thailand.
Here hoekom het U my die swakste van al U kinders uitgekies om die taak hier in Thailand te kom doen? Ek is so sondig en kry dit nie oorwin nie. U bly vir my sê U genade is genoeg, maar ek sien dit nie in my lewe nie. Ek voel so alleen. My verhouding met my span is nie goed nie, ek sukkel om vriende te maak en alles voel verkeerd. Ek kan nie Here en ek dink nie ek wil meer nie! Ek is te swak om U te dien hier in Thailand. Tog sien ek ook nie kans om terug te gaan na die sinlose wêreld waarvan ek kom nie. Here aan U gee ek alles oor, maak nou maar wat U wil, ek kan nie!' was my gebed. Stil het ek op die Here gewag. 'Nou is jy gereed vir die waarheid. Ek sal gou aan jou alles wys' Was wat die Here aan my gesê het.

Hoop vir die mensdom.
Dit het net al hoe donkerder om my geword. My span het probleme met my taal-helper op getel en het van my verwag om alles bande met hom en sy gesin te breek. Ek wyer toe. Tuis word een van ons vriende dood geskiet, my ou sus-hulle word aangeval, en my tannie sleg gewond deur 'n aanval. My span stuur my toe ook weg om te gaan besluit wat ek gaan doen want hulle gaan nie saam met my werk as ek nie my bande met die gesin breek nie. Ons Isaan veld leier beveel my toe ook om my bande met die gesin te verbreek. Ek was in stof en as en het geweet dat ek nie meer kan nie. Sien ek is klaar, daar is nou niks meer oor in my om teen die klomp te stry nie. Ek kan net nie verstaan hoe alles so verkeerd kan verloop nie. Om dit alles te kroon word ek toe sommer ook deur my kerk tuis ontslaan as ouderling en gaan daar in diepte na my werk in Thailand ondersoek in gestel word. Ek het by die Here se voete gelê, dan en nag was ek in stof en as voor Hom. Al wat ek geweet het is dat ek nie kan nie en dat ek ook nie meer wil nie. 'Neem my nou maar na U toe Here!' was my uitroep voor Hom, maar Hy het my bly verseker dat die tyd reg is vir my om te verstaan.

Nou sit ek hier in Thailand met iets. Ek weet nie eers behoorlik hoe om dit te beskryf nie, om die waarheid te sê ek dink nie 'n mens kan dit waarlik vir iemand beskryf nie, jy moet dit self beleef. Dit is so wonderlik, so onbegryplik, so wyd en so diep dat ek nie woorde het om dit te beskryf nie. Al wat ek kan sê is dat die genade van ons Here genoeg is en dat deur ons swakheid juis Sy Grootheid gewys word. Nou verstaan ek wat dit beteken om my oë op Christus te vestig en weet as ek dit vir 'n oomblik van Hom af weg vat, dat ek volkome sal vaal. Alles in my bring lof aan die Here en daar is nie 'n oomblik wat ek nie bewus is van Hom nie. Ek kan dit nie waarlik beskryf nie maar ek dink ook nie dit is veronderstel om beskryf te word nie. Nou is ek een met wat Paulus ervaar het op sy pad met die Here. Ek het waarlik nog niks verrig nie, maar ek sien sy stryd en ervaar dieselfde stryd in my. Ek sien ook sy uitkoms en ervaar dieselfde uitkoms in my lewe. Ek sal my oë op ons Verlosser hou en die goeie stryd stry, want Sy genade is vir ons genoeg.

So dit is waar ek nou is. Ek sê nie dat ek iets beter is as enige iemand anders nie of iets besonders is nie, nee in teendeel, weet wie ek is, die grootste van al die sondaars. Ek roem nie op iets wat ek behaal het in my lewe nie of op iets wat ek reg gedoen het nie, nee, maar op dit wat Christus vir ons gedoen het. Ek is waarlik niks, minder as niks, maar ek lewe in iemand wat alles is. Uit my spruit niks wat goed is nie, maar deur Hom wat in my is vloei daar lewe uit my uit. Waarlik die genade van ons Here is genoeg en op Hom en op Hom alleen beroem ek my. Al die lof en die eer en die aanbidding bring ek aan Hom. Ja sal voor Hom buig en erken dat Hy die Here is.