Dis altyd so baie lekker om warm verwelkom te word deur Oom Sakkie en Tannie Lily wanneer ons by hulle inloer! Al was daar niemand wat uit die gemeente hierdie keer saam gegaan het nie, was hulle bestendige vennote vir Arno & Louise asook Franna.
Arno was aan die woord en het reg uit sy hart gepraat vanuit die Moken perspektief, wat dit baie interessant gemaak het. Daarna het oom Sakkie gesê dis ons voorreg om 'n verskil te maak deurdat mens bereid is gebruik te word as die Here se hande en voete waar daar nood is. Hy sê toe ook dat die nood net so groot hier rondom ons is as daar anderkant - die wesenlike verskil is dat iemand hier enige Sondag kan kerk toe stap en die evangelie (plus soveel meer) vrylik kan ontvang. Maar in ‘n onbereikte land, het die Koningkryk nog nie eens naby die mense gekom nie.
Ons is opgewonde want die Lig wat in elke gellowige is, is die Gees van God. Hy is in ons sodat die donkerte wat binne onsself is, eers verlig kan word en ons ‘n kans het om na Jesus se ewebeeld te verander. Dan wil Hy deur ons, waarookal ons gaan, die duisternis in die wêreld verdryf – in mense en ook in situasies. Maar hoe sal die onbereiktes ooit die Lig kan sien as die Lig nie na hulle toe gaan nie? Hoe gaan hulle ooit glo as hulle nie die Lig kan ervaar nie?* As al die predikers alreeds hulle deel hier bring om die gelowiges op te bou as sterk Ligtorings, wanneer gaan die Lampe** bereid wees om as getuies die Lig na die mense wat in donker sit, toe te neem in Woord en daad? Kyk die wereld is al hoe meer deurmekaar en dus is daar soveel geleentheid om Sy Lig deur jou te laat skyn!
Wys mense Sy liefde in ou hart en leef dit uit in dade – dis baie meer doeltreffend as om dit te praat, los die prekery vir die predikers!
* Romeine 10:11 Die Skrif sê tog:
“Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.” 12“Niemand nie!” Dit maak
dus geen verskil of 'n mens 'n Jood of 'n Griek is nie, want dieselfde Here is
Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen
wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. 14Maar hoe kan 'n mens
Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van
Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15En
hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe
wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”
**Matteus 5:13 “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout
verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit
word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. 14“Julle is die lig
vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word
nie; 15ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar
op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig
so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat
in die hemel is, verheerlik.”
